Lees 1 Korintiërs 2: 1 – 5
“Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde” (2).
’n Sendeling in Sjina stap by ’n groepie mense verby, waar ’n opelugdiens aan die gang is, skryf Mei 1970 se Spoorwegbode. Op die rand van die kring staan ’n Sjinees aandagtig en luister. ”Word jy iets wys?” vra hy vir hom. “Ek weet nie,” mompel die Sjinees. “Wat verstaan jy nie?” wil die sendeling weet. “Jy sien, hulle praat van ‘verlossing’ en ‘die bloed van Christus’. Maar wat bedoel hulle?” Die sendeling verduidelik: “Dit meen Jesus Christus het aan die kruis vir ons gesterf. Hy het sy lewe gegee, sy lewensbloed, om ons sondes weg te was. Jy sien, ons verkeerde dade moet deur God gestraf word, maar God het ons lief en wil ons nie straf nie. Maar Hy is ’n regverdige God en oortredings móét gestraf word. Die Here Jesus het aan die kruis in ons plek gesterf en ons straf gedra. Nou kan God ons vergewe. Ons hoef nie ewig verlore te gaan nie…” en so verduidelik die sendeling die evangelie vir hom. ’n Uitdrukking van verligting kom oor die man se gesig. “Maar hoekom sê hulle dit dan nie so nie,” sê hy, en vervolg: “Dan sê hulle ’n mens moet weergebore word. Weergebore – wat is dit?” Die sendeling verduidelik weer eenvoudig: ”Ons natuurlike lewens, die sondige lewe waarmee ons gebore word, is nie geskik vir die hemel nie en kan God ook nie gehoorsaam nie. Ons moet ’n nuwe lewe kry. Die nuwe lewe kry ons by Christus. Sy kruis het ons ou lewe doodgemaak en sy opstanding het vir ons die nuwe lewe gebring. As ’n mens in Christus as Verlosser vertrou, gee Hy deur sy Gees in ons hart sy nuwe lewe. Ons word in God se familie gebore. Ons word innerlik weergebore.” “Nou verstaan ek,” sê die Sjinees, “maar hoekom sê hulle nie so nie? Hoekom praat hulle nie ’n taal wat mens kan verstaan nie?”
Die Bybel sê dit duidelik: “As ’n mens se lewe nog oorheers word deur jou ou menslike natuur, kan jou lewe God nooit tevrede stel nie…Dit is God wat vir Jesus weer lewendig gemaak het… God het vir ons sy Gees gegee…en die Gees maak ons God se eie kinders en Hy leer ons om met God te praat en Hom te noem ‘my Vader’. As ons God se kinders is, dan is ons ook sy erfgename want ons sal saam met Christus al die rykdomme van God erf” (Rom.8:8-17 – Lewende Bybel).
“Here, vandag noem ek in Christus, deur die Gees, U my Vader.”.