Ingehaal

Lees Jesaja 65:1-2
“Ek het gedurig my hande uitgesteek na ’n opstandige volk …” (2).

W.P.McKay het sy ouerhuis op sewentienjarige ouderdom verlaat om te gaan studeer. Voor sy vertrek het sy moeder vir hom ’n Bybel gegee. Sy het haar naam en sy naam en ’n teksvers voorin geskryf. Dit was nie lank nie of McKay het sy rug op sy ouerhuis gekeer en in ’n slegte lewe versink. Hy het sy Bybel verpand om drank te koop. Na verloop van tyd het McKay, wat ’n briljante jongman was, wel sy mediese studies voltooi en ’n praktyk begin. Sy lewenshouding het nie verander nie.

Op ’n dag moes hy aandag gee aan ’n sterwende man. Die man het aanhoudend gefluister: “Bring my my boek.” Na die man se dood was dr. McKay baie nuuskierig om te weet watter boek vir die man so belangrik was. Die verpleegster bring vir hom ’n verslete Bybel. Half teleurgesteld neem hy die Bybel en kyk voorin of daar iets geskryf is, wat dit vir die man so belangrik gemaak het. Sy eie naam en die naam van sy oorlede moeder staan op die die voorblad. Diep geraak neem hy die Bybel wat hy verpand het en wat nou weer in sy hande beland het, huis toe. Met groot berou lees hy haar handtekening oor en oor. En toe ook die teks wat sy voorin geskryf het.

Hy blaai die Bybel deur en kry talle tekse wat sy onderstreep het. Sy onverskilligheid en sy sonde kom swaar oor sy hart lê. Die tekse gee hom ook moed. Hy smeek God om genade en vra vergifnis. So leer hy Christus as sy Saligmaker ken.

Die manier waarop sy moeder se gebede en God se genade hom ingehaal het, haal Dr. McKay oor om sy praktyk prys te gee en as sendingdokter sy lewe aan die verkondiging van die evangelie te wy. Hoe gekant kan ’n mens se hart teen God wees! Hoe volhardend kan God, in sy groot liefde vir die sondaar, lank agter hom aangaan! ”Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle luister nie na My nie. Ek het vroeg en laat my dienaars, die profete na julle toe gestuur om te sê: ‘Elkeen van julle moet hom van sy verkeerde dade bekeer …maar julle het nie aandag gegee of na My geluister nie” (Jer.35:14,15).

Twee liefdes het agter hierdie eiesinnige jongman aangegaan: God se liefde en sy ma se liefde. Selfs ná haar dood het haar gebede, vir haar afkerige kind, soos ’n lewende krag op sy spoor gevolg. God het omstandighede wonderbaar gewentel, om die trotse jong dokter en sy moeder se verhoorde gebede en die Bybel, weer bymekaar te bring. Deur hierdie Bybel het God se liefde deurgedring en sy hart bereik.

Kom ons loop met ons gebede agter ons kinders, ons kleinkinders, ons agterkleinkinders aan. Ons het in God, ’n onfeilbare vennoot, in ons liefde vir ons kinders. Hy sal ons nie in die steek laat nie.

“Here,vandag wil ek met nuwe moed en verwagting vir elkeen van die mense wat ek lief het, by name voor u genadetroon pleit.”