Lees 2 Korintiërs 5:16-21
“Ons tree dus op as gesante van Christus, ons smeek julle…(20)
Die bekende prediker C.H.Spurgeon, vertel van ’n reisiger wat een laat aand, langs ’n onbekende pad reis. Die pad lei oor ’n brug wat ’n diep rivier oorspan. Die man is gerus, want hy het op ’n kaart sy roete goed bestudeer. Wat hy nie weet nie is, `n swaar reën het hoër op met die rivier uitgesak. Die rivier is in vloed. Hy kom ’n man teë wat van die rivier se kant af kom. Hulle groet, gesels oor een en ander en die man vra die reisiger waarheen hy op pad is. Die reisiger verduidelik watter pad hy volg. “Dis ’n goeie pad,” sê die man, en vra dan half ongeërg, “maar dink jy dis veilig?” “Ek reken so,” antwoord die reisiger. “Maar wat laat jou so vra?” “Dit het glo baie gereën hoër op en ek verstaan die brug het weggespoel. Miskien moet jy liewer omdraai.” Die man groet en beweeg verder. Die reisiger se gedagtes is nou verdeeld. Dis ’n ernstige saak as die brug weggespoel het, maar die man se onsekere manier van praat, laat die reisiger besluit om tog verder te gaan. Nie lank nie, of hy kom nog iemand teë wat van die brug se kant af kom. “Besef jy die brug het weggespoel?” vra dié man dadelik. “’n Man wat netnou verbygekom het, het my so iets laat verstaan, maar hy was nie baie seker daarvan nie.” “Die brug is weg!” sê die man ontsteld. “Draai om. Ek weet hy het weggespoel, want ek was daar en ek het so amper-amper saam weggespoel.” Hy gryp die reisiger aan sy arm. “Draai om. Vorentoe is net gevaar.” Nou luister die reisiger en hy draai om en is gered. “Albei het van die weggespoelde brug gepraat,” sê Spurgeon, maar hulle stemtoon, houding, woorde was verskillend. Die eerste man het gepraat van gevaar waarvan hy ook net gehoor het. Die tweede man het gepraat van gevaar waarvan hy geweet en aan sy eie lyf gevoel het. Dít was oortuigende taal. Spurgeon sê: “Dit is die verskil tussen iemand wat terloops met mense oor hulle ewige heil praat, en iemand wat met ’n brandende hart, gebore uit ’n bewussyn van die gevaar waarin die verlore mens verkeer, met mense praat.”
“Here, ek verlang vandag om deur u Heilige Gees, self so bewus te wees van die erns van ons ewige bestemming, dat ek met brandende hart, oortuigend en volhardend, met mense daaroor sal praat.”