Lees Handelinge 16: 16 – 40
“Daardie nag om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot eer van God te sing” (25).
’n Dogtertjie het elke dag skool toe en terug geloop, omdat hulle huis nie ver van die skool af was nie. Een dag het die wind opgekom en donderweer, met blitse en dreuning, het opgesteek. Die ma was bang die dogtertjie gaan bang wees om in so ’n storm huis toe te loop en ry toe met die motor om haar te gaan haal. Die dogtertjie kom toe al aangestap, ewe vrymoedig en sonder vrees. Elke keer as dit blits, staan sy ’n oomblik stil, kyk op, probeer net nog mooier lyk en glimlag. Blits na blits beantwoord sy met ’n glimlag, het Neil Verwey van Japan, vir my die storie geskryf. Die ma hou by haar stil, draai die ruit af en vra: “Wat doen jy, Kindjie? Hoekom gaan jy elke keer staan?” Die kind antwoord vrolik. “Ek probeer mooi lyk, want God neem foto’s van my.”
Bewus van God se teenwoordigheid kan ons in ons lewenstorms ook glimlag en vir God in ons omstandighede probeer mooi lyk. Met die dissipels, en meesal seker met ons ook, het dit anders gegaan: “Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan…Die dissipels maak Hom toe wakker en sê vir Hom: ‘Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?’ Hy staan toe op en bestraf die wind…Die wind het gaan lê en daar het ’n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: ‘Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?’” (Mark.4:38-40).
“Here, vandag wil ek U vol blydskap vertrou.”