Behoudende krag

Lees Daniël 6:17-25
“My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie…” (23)

C.I. Scofield vertel van ’n groot geestelike geheim wat hy kort na sy bekering ontdek het: “’n Week na my bekering stap ek op ’n dag in St. Louis by ’n winkel verby waar ’n aantal groot prente in die venster uitgestal word. Een van die prente was van Daniël in die leeukuil, waar hy in die middel van die leeus staan en opkyk om die koning, wat van bo af na hom roep, te antwoord. Ek was voor my bekering ’n dronk regspraktisyn. Niemand het my vertel van Jesus Christus se behoudende krag vir sy volgelinge nie. Terwyl ek voor daardie prent staan, het ’n groot hoop en vertroue in my hart gekom. Ek sê vir myself: ‘Ek is ook tussen die leeus: versoekinge wat aanspraak maak op my ou gewoontes en sondes. Maar God wat daardie leeus rondom Daniël se bekke toegesluit het, kan ook die versoekingleeus om my se bekke toesluit.’

Scofield het daardie dag geleer: God het Daniël nie van die leeukuil bewaar nie, maar van die leeus se bekke. Ons word nie van versoeking bewaar nie, maar ons word in die versoeking bewaar om nie daardeur oorweldig te word nie. Petrus het nie die uur van sy groot versoeking ontkom nie, en hy het in die proses van die versoeking seer geval, maar hy is nie daardeur oorweldig nie. Die Here Jesus het hom behou. Eers deur hom van die moontlik¬heid van versoeking bewus te maak en toe om hom te bewaar om nie vernietig te word nie: “…terwyl Petrus nog praat, het daar ’n haan gekraai. Die Here het omgedraai en na Petrus gekyk…en Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil” (Lukas 22:60-62). “Daar kry (die Emmausgangers) die elf… en dié sê: ‘Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!” (Lukas 2:33,34). “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie…” (1 Kor. 10:13).

“Here, ek vertrou vandag in u krag om my in versoeking te bewaar.”