Lees 2 Timoteus 1:3-7
“… (ek) herinner jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het … soos ’n vuur weer moet aanblaas” (6).
Genl. Booth, stigter van die Heilsleër, het eens vir ’n paar van sy medewerkers gesê: “Pas die vuur in julle harte op, want dit is geneig om dood te gaan.” Net soos ’n vuur op die vuurherd, moet die geestelike vuur in die hart ook met sorg brandend gehou word. ’n Paar eenvoudige take is nodig. Die vuur op die vuurherd moet, eerstens, genoeg lug kry. Vensters moet oop wees, sodat daar ’n trek kan wees. Vir die vuur in die hart moet hemelse lug (geloof) gedurig deur die vensters van gebed invloei. Tweedens, moet die ou as van die vuurherd gereeld verwyder word, anders smoor die vuur. Deur selfondersoek en belydenis van sondeskuld moet die as van die hart se vuur gereeld weggeneem word. ’n Derde en belangrike vereiste vir ’n brandende vuur, is die brandhout. Die vuur moet gedurig gevoed word. Die Woord van God is die brandhout van die vuur in die hart. Die lees en bepeinsing van die Woord van God bring nuwe insig, nuwe gedagtes, nuwe openbaringe na die hart toe en die vuur bly brand.
“Here, vandag wil ek sorg om u vuur, wat U in my hart aangesteek het, brandend te hou.”