Lees Psalm 34: 16 – 23
“As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses (18,19,20).
In ’n klein dorpie woon ’n weduwee. Sy is arm, maar godvresend. Onder al die swaarkry het sy haar kinders mooi grootgemaak en hulle altyd moed ingepraat: “Moenie bang wees nie. God lewe. Hy sorg vir ons.” In hierdie vertroue het sy en haar gesin gelukkig geleef en hulle probleme moedig tegemoet gegaan.
Op ’n dag word die stryd vir haar net te swaar. ’n Moeilikheid duik op waarvoor sy nie kans sien nie. In diepe moedeloosheid gaan sy sit en begin vrylik huil. Sy wis nie van haar kinders is in die huis nie. Haar jongste seuntjie sien sy ma so sit en huil. Hy kom nader, sit sy armpie om haar nek, kyk op in haar gesig, vra kinderlik, “Ma, is God nou dood?” Soos ’n vloed stroom geloof en moed haar hart binne, sy vee haar trane weg en terwyl sy opstaan roep sy uit: “Nee, my kind, God leef nog, Hy leef vir ewig en Hy sal ons nooit in die steek laat nie!” Haar nuwe geloofsvertroue het tot wonderbare uitredding gelei.
Baie van die Here se kinders beland in so ’n donker, moedverlore toestand. Elia het daar beland: “Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug…’n dagreis ver die woestyn in gegaan…onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood” (1 Kon.19:3,4). Josua het in so `n moedeloosheid beland na Israel se neerlaag teen Ai: ”Die volk se moed is gebreek en Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig in die grond gelê…hy (het) gesê: ’Ag, Here, waarom…” (Josua 7:6,7). Job het so gevoel: “My hele lewe walg my, daarom wil ek aan my klag vrye teuels gee en in my bitterheid praat… vind U dit goed om my te laat swaar kry…” (Job.10:1,3). Dawid het meer as een keer so gevoel: ”Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” (Ps.42:6). Elke keer het God hulle noodkreet geantwoord en hulle in oorwinning en blydskap uitgelei. Ons leef in Christus en die Heilige Gees maak Hom ons Veilige Rots en Sterke Verlosser. In Hom is ons naby God. Geen probleem wat ons kan tref, is vir God te groot nie, want Hy is almagtig. Hef u hart op. Glo weer en loof God weer.
“Here, vandag skep ek nuwe moed as ek aan U dink.”