Di 1 Des: Lampe Wat Skyn

Lees 2 Korintiërs 4 : 1 – 6

“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis, het ook in ons harte ’n lig laat skyn, om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (6).

’n Jong meisie, uit ’n gegoede huis, glip een aand weg uit ’n jongmensejolyt. Uitgeput klouter sy in haar bed, sakel die lig af en wou haar net aan die slaap oorgee, toe ’n helder lig, van buite af in die ka­mer, inskyn. Die lig val op ’n afdruk van Plock­horst se tref­fende skildery: Die Goeie Her­der. Dit is `n prent van Jesus, met `n lammetjie in sy arms. Die meisie lig haar op, kyk deur die ven­ster, om te sien waar­vandaan die lig so skielik kom. Dit is die kom­buislig, in ’n dagloner se klein huisie, oor­kant die tuin. Daarna merk die meisie elke aand op, hoe die lig daardie prent, van die ontfermende Ver­losser, teen die muur van haar ka­mer, in haar ouers se deftige woning, be­lig en be­klem­toon. Die lamp se eienaar het dit nie geweet nie. Gospel He­rald ein­dig die storie so: ”So do many lives, follow­ing the hum­ble, daily routine in the spirit of their Master, often send a revelation of the Saviour … without knowing it.”

Die evangelie word in die Bybel lig genoem. “Ek bid ook dat die Gees sy lig so duidelik in julle harte sal laat skyn, dat julle sal verstaan watter vooruitsig daar vir julle is noudat God julle geroep het” (Ef.1:18 – Lew.Byb.). Ons weet, lig het ’n draer no­dig. Sonlig het die son no­dig, huislig het gloeilampe nodig. God gee die lig van geloof en red­ding in Je­sus Christus in ons har­te, maar Hy het draers van sy lig nodig. Dié wat ge­tuig, of evangelielees­stof versprei, of ’n ligdraende voor­­beeld uitleef, is die draers van God se evange­lie­lig. Lampolie laat lam­pe brand, krag­stasies laat gloeilampe brand, so is die Heilige Gees in ons die krag­bron van God se lig, wat ons moet uitstraal na ander toe.

“Here, vandag wil ek, deur u Gees, U lig na iemand uitdra.”

Ma 30 Nov: Kyk Reg

Lees Lukas 11: 33 – 36

“Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.”

By die Narita lughawe in Japan, is ’n elektro­niese pas­poortstelsel in werking gestel, wat immigrasieprosedures vereenvoudig, deur biometriese identifikasie, wat die iris van die paspoorthouer se oë toets, skryf Neil Verwey, sendeling in Japan, na aanleiding van ’n berig in die Yomiuri-dag­blad van 7 Februarie 2005. Passa­siers maak gebruik van ’n vereenvoudigde reiskaart, wat die inligting bevat, waarmee die persoon se ken­mer­ke van die gesig en irisse van die oë, vergelyk kan word. Pas­sasiers plaas die kaart in ‘n masjien en kyk na ’n kamera. Die masjien vergelyk die inligting op die kaart, met die besonderhede wat weerkaats word deur die iris van die persoon se oog.

Die absolute individualiteit van elke mens op aarde word opnuut deur hierdie ontdekking be­klemtoon. Elkeen van ons se oë lyk anders as ’n an­der s’n en kyk ook anders as ’n ander s’n. Die grootheid van ons God se Almag word daardeur opnuut aan ons openbaar! Die He­re Jesus het ’n groot waarde toegeken aan, ’n mens se manier, van kyk, na die dinge. ’n Mens kan stiksienig wees – net raaksien wat dadelik voor oë is, of versiende wees, ander horisonne en geestelike waardes raaksien. Paulus skryf aan die Efesiërs: “ …ek bid…dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (Ef.1:17-19). Moses het sulke oë gehad: “Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Die smaad ter wille van Christus het hy groter rykdom geag as die skatte van Egip­te, omdat hy na die beloning uitgesien het” (Heb.11:25,26).

“Here, vandag vra ek verligte oë van my verstand.”

Vry 27 Nov: Die Helende Middel

Lees 1 Petrus 5:5-7.

“Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (7).

Eerw.F.H.Pickering vertel van ’n man wat so deur  angs en bekommernis oorweldig is, dat hy verlam is. Snags kon hy nie slaap nie. Op ’n dag vra ’n Christenvriend of hy ooit oor sy probleme bid. Hy het in jare nie gebid nie, antwoord hy. Het hy ’n Bybel? Ja, iewers in sy huis moet daar ’n Bybel wees. Die vriend skryf ’n teks op ’n strokie papier. “Gaan lees dit en doen dan so,” sê sy vriend. Moeg na siel en liggaam was hy ge-reed vir enige raad. Hy het sy Bybel gekry, die stof afgeskud en die teksvers, Hebreërs 4:14-16, opgespoor: “Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” Hy het by sy bed gaan kniel en eers sukkelend, maar later met vrymoedigheid, sy probleme vir die Here vertel. Terwyl hy bid het hy aan die slaap geraak. Ure later het hy wakker geword. Verkwik in sy gees het hy geweet hy het sielsgenesing gevind. Sy vriend het hom gehelp om Christus as sy verlosser te leer ken. Sy dokter was verstom oor die verandering wat in hom gekom het. “Ek vertel nou al my bekommernisse vir Jesus en laat dit in sy hande,” het hy verduidelik. Die dokter het geantwoord: “As meer van my pasiënte dit wou doen, sal ek gou sonder werk sit.”

Dit was Hanna se geheim toe sy (1 Sam.1) met haar hartseer tempel toe gegaan het. “Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.”  Haar verduideliking aan priester Eli was: “’Nee, Meneer, ek is maar net ’n vrou wat diep terneergedruk is…Ek het my hart uitgestort voor die Here…dit is oor my groot leed dat ek so lank bly praat het…’ en sy was nie meer bedruk nie.” Die Here Jesus het vir ons die weg oopgemaak na ons hemelse Vader toe. God self het ons lief en ken ons sake. Ons kan met groot vrymoedigheid en verwagting al ons proble­me vir Hom vertel. Die Heilige Gees help ons om te bid: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met ver­sugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is…”(Rom.8:26).

  “Here, vandag kom ek met al my probleme na U toe.”

Do 26 Nov: Die Skuilplek

Lees Psalm 17: 1 – 9

“Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels… (8).

Charles Wesley, een van die leiers in die 19de eeu se herlewing, was eenkeer baie depressief. Hy sit bedruk en neerslagtig by sy lessenaar voor ’n oop venster. ’n Klein voëltjie vlieg opgewonde by die venster in, kom sit op Charles Wesley en kruip onder sy baadjiekraag in. Wesley sit sy hand oor die bewende voëltjie. Hy sien hoe die voëltjie se hart pols. Hy kyk by die venster uit om te sien wat die voël­tjie so bang maak. Laag oor die bome sirkel ’n groot valk. Met sy hand steeds beskermend oor die voëltjie word die toneel vir hom ’n weerspiëling van sy eie vrees en soeke na beskerming by God. Die woorde van   ’n lied, wat vir meer as honderd jaar vir ander ook tot bemoediging en troos was en as lied 578 ook in Die Liedboek is, wel warm op in sy hart:

Jesus, Lover of my soul, let me to thy bosom fly,

While the nearer waters roll, while the tempest still is high

Hide me, O my, Saviour, hide – till the storm of life is past;

Safe into the haven guide; O receive my soul at last!

 “Here, vandag vlug ek ook na U toe vir hulp.”

Wo 25 Nov: Die Gids se Hande

Lees Matteus 14: 22 – 32

“Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy geroep: ‘Here, red my!’ Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?’” (Mat.14:30,31).

‘n Gids het ’n groepie toeriste langs ‘n steil pad na ’n waterval toe gelei. Die laaste endjie moes hulle oor ’n nou, wankelrige hangbrug oor ‘n diep af­grond loop. Een vrou het net halfpad ge­kom. Toe sy afkyk en die diep afgrond sien en die beweging van die brug onder haar voete voel, kon sy nie ‘n tree verder gaan nie. Die gids het gesien sy word pa­niekerig. Sy het met albei hande die bruggie se re­ling vasgegryp en vir lewe en dood daaraan ge­klou. Met ’n rustige glimlag steek hy sy hand na haar toe uit. “Jou hand in die gids se hand,” sê hy vriendelik. Met een hand los sy die reling en sit dit bewerig in die gids se hand. Met die ander hand bly sy steeds styf aan die reling vasklou. Sy wil nie ‘n voet versit nie. Die gids sien hulle sal nie vorder nie. Steeds glimlaggend, rus­tig, maar ferm sê hy vir haar: “Al­bei jou hande in die gids se hand.” Stadig laat sy met die ander hand die reling los en sit dit ook in die gids se sterk hand. Tree vir tree lei hy haar oor die wiegende bruggie na die an­derkant toe.

Dikwels vorder ons nie in ons geestelike lewe nie. Soveel vrese in ons hart, die afgrond van ons sondigheid ontmoedig ons, soveel onsekere be­weging onder ons geloofsvoete. Ons sit ons een hand in Jesus se hand, maar ons klou nog aan die reling van ons gevoelens en struikelinge en omge­wings­­be­drei­ginge vas. Albei ons hande moet in sy hand ge­plaas word. Volle oorgawe, volle vertroue. Die Hei­li­ge Gees help ons om met volle vertroue albei ons hande in Jesus se hand te plaas. Stadig word ons be­wus van sy krag. Stappie vir stappie vorder ons op die weg van geestelike groei, geestelike krag, geestelike sekerheid. Ons bemoediging is die Here Jesus se groot liefde vir ons: ”…Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar…As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê. En Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”

Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, skryf: “No one knows the love of Christ at all if he does not know it to be real, and no one has felt it in his soul at all, unless it becomes so real as to constrain him and move him into actual activity. The word ‘realise’ has been forced into the language of Christian experience, and can never be forced out again; we must realise, or make real to our hearts the love of Christ. We should know the inmost secrets of the Redeemers’s love; its doings and sacrifices which are the apparent part of it…” As ons in die Skrif Hom van na­by aanskou, maak die Heilige Gees sy liefde vir ons ‘n werklikheid, en dan het ons ons hande in sy hand geplaas en vrede en gerustheid neem van ons hart besit. 

 “Here  vandag plaas ek albei my hande in u hande.”

Di 24 Nov: Die Bekende Raaisel

Lees Jesaja 46: 3 – 5

“…julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook in die ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra.

’n Ou Griekse legende vertel van die Sfinks by The­bes, wat die lyf van ’n leeu, maar die bolyf en kop van ’n vrou gehad het. Hierdie Sfinks het buite die stad langs die hoofweg op ’n rots gelê, gereed om enigeen wat verbykom te bespring. Voor die Sfinks gespring en ’n reisiger opgevreet het, het die Sfinks die reisiger ’n kans gegee om sy reis lewend voort te sit. Die verbyganger moes ’n raai­sel be­antwoord. Niemand het reggekry om die raai­sel reg te beantwoord nie, totdat Oedipus ver­by­­ge­kom het en die Sfinks se raaisel reg kon antwoord nie. Die Sfinks het vir Oedipus ge­vra: “Wat loop in die oggend op vier bene, in die middag op twee en in die aand op drie?” Oedipus het geantwoord: ”Die mens. As kind kruip hy op  han­de en knieë; as volwassene loop hy met sy twee bene; as ou mens loop hy met ’n kierie.” Verpletter oor hierdie regte antwoord op die raai­sel spring die Sfinks van die rots af en sterf.

Vir eeue lank lê die Sfinks van die dood langs die mensdom se hoofweg van die lewe vir sy prooi en wag en verteer almal wat verbykom met sy raai­sel van die onoplosbaarheid van die proses van veroudering en sterwe. Niemand kon dit nog beantwoord nie, en almal het deur die mag van die dood vergaan. Maar Christus het die raai­sel van die dood beantwoord en die mag van die dood deur sy opstanding uit die dood gebreek. Op aarde het Jesus mense uit die dood lewendig ge­maak en met sy wederkoms sal die dood heel­te­maal vernietig word. “God…wou baie mense in die hemel inbring…daarom het Jesus ook mens ge­word sodat Hy kon sterwe…So kon Hy die mens vrymaak…op die ma­nier kon ons sondes vergewe word”

“Here, vandag skuil ek by U teen die mag van die dood.”

Ma 23 Nov: Beleggingsterreine

Lees Filippense 2:1-4

…moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (3,4)

In Parys staan twee standbeelde, skryf die Be­rean Senior Quarterly. Die twee manne het die­self­de naam gehad: Louis. Die een was die vors van Frankryk, Louis XIV, die absolute monarg. Die ander een was die weldoener aan die mens­dom, Louis Pasteur, ontdekker van die werking van kieme in die menslike liggaam en teen­mid­dels teen kieme. Hy het ook ander we­tenskap­li­kes geïnspireer om teenmiddels teen kieme te ont­wikkel. Louis XIV word vandag onthou vir sy self­verheffende uitroep: “Ek is die staat.” Oor hom skryf die Berean Senior Quarterly “His philoso­phy of life was that the whole nation and the world, in so far as he could compel it, should serve him.” Oor Louis Pasteur skryf die Berean Senior Quar­terly “…the servant of humanity and servant of God…his life of unselfish, devoted research con­fer­red immeasurable benefits upon all humanity in all the years to come through overcoming di­sea­se and suffering.” Die twee standbeelde weer­spie­ël die twee manne se lewensbeleggings­terreine: Louis XIV – homself;  Louis Pasteur – sy me­demens. Louis XIV se standbeeld, met indrukwekkende uniform, swaard en kroon, is volgens die tydskrif “…nothing more than a piece of sculpture”,  Pasteur se baie eenvoudiger stand­beeld, ’n paar blokke weg van Louis XIV s’n af, is volgens die tydskrif “…a shrine, where pil­grims from all over the world bow in grateful ho­mage”. Dan maak die Berean Senior Quarterly die slotopmerking: “It is the uncrowned servant of man­kind who wears the real crown of men’s love and honor.”

Van die begin van die skepping af is dit vir die mens die groot versoeking: om sy eie grootsheid na te streef. Selfs onder Jesus se dissipels was dit elkeen se strewe om die belangrikste te wees. Met die laaste avondmaal, lees ons in Lukas 22:24 “…het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie as die belangrikste beskou moet word.” Uit Johannes 13 weet ons dit het eintlik gegaan oor wie die voetewaswerk moet doen. Jesus het hier­die gesindheid beantwoord deur te sê: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas… maar by julle moet dit nie so wees nie…die be­langrikste onder julle moet soos die geringste wees, en  die een wat die leier is, soos die een wat dien…Ek is in julle kring soos die een wat dien.” Daarna het Jesus, volgens Johannes 13, om­dat Hy geweet het “…dat die Vader alles in sy han­de gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan…van die tafel af opgestaan, sy bo­kleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak…en begin om sy dissipels se voete te was…”

 “Here, vandag wil ek ander se belange my doelwit maak.”

Vry 20 Nov: Geloofsgroei

Lees Hebreërs 5: 11 – 6: 3

“Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap (6:1)

Wanneer geloof in die siel begin, is dit klein soos ’n mosterdsaadjie, waarvan Christus gesê het dat dit die kleinste van alle soorte saad is. Maar die Heilige Gees bedou dit met sy genade en dit ontkiem en groei en word soos ’n groot boom. Só groei ons geestelike lewe:

In die begin kan geloof net na Jesus KYK. Selfs dan is daar so baie wolke van twyfel en dofheid van oë, dat ons die Heilige Gees nodig het om sy lig op die kruis te skyn, voordat ons dit kan sien. Dan kry geloof  krag om na Jesus te KOM.

   Na ’n mens na Jesus gekom het, vorder geloof ’n bie­tjie verder en KLEM aan Christus vas. Geloof begin Chris­tus aansien in sy voortreflikheid en aanvaar Hom en neem Hom aan en beskou Hom as ’n ware Ver­losser en is oortuig van sy volkome vermoë om te red.

Nou gaan geloof nog verder en dit LEUN op Chris­tus. Die laste van sorge, droefheid en kwelling word op sy geseënde skouers gelê.

Geloof kan nou nederig, maar vasbeslote, alles wat Christus is en alles wat Hy bewerk het, TOEëIEN.

Eindelik, terwyl dit slegs vertrou in Christus en sy verlossingswerk, styg geloof op tot ’n VOLLE SE­KER­HEID. Dit is ’n geseënde toestand van die geloofs­le­we.

“Deur Christus het julle … die evangelie van julle verlossing gehoor en tot geloof gekom … In Christus het die Heilige Gees … julle as die eiendom van God beseël” (Ef.1:13). “Laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid …Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb.10:22). “En  verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei …”(1Pet.2:2 Ou Vertaling).

“Here, vandag verlang ek na die werking van die Heilige Gees in my hart om my te laat groei tot die volle sekerheid van geloof.”

Do 19 Nov: 'n Soort Skool

Lees Markus 10: 13 – 16.

“Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (14).

’n Jong koerantuitgewer, Robert Raikes, stap op ’n dag deur een van Gloucester, Engeland, se ag­­terbuurtes, om ’n nuwe tuinier te soek, vertel Ro­bert J. Morgan.  Baie kinders woel om hom rond. Hy is geskok om te hoor hoe hulle op me­kaar skreeu en vloek. Selfs as hulle speel vloek hul­le en gebruik die Here se Naam as vloekwoor. Ro­bert Raikes is diep ontroer in sy binneste toe hy dié dag teruggaan na sy mooi en rustige tuis­te. Hy neem hom voor om iets aan die saak te doen. En hy hét iets gedoen. Hy het ’n nuwe soort skool begin, ’n nuwe bediening. Hy het skool in die kerk op ’n Sondag begin. Op Sondae lok hy die kinders op allerlei maniere na sy nuwe skool. Daar het hy hulle van die Here geleer en hoe om vir die Here te lewe. Dit was die begin van die ge­seënde instelling wat ons tot vandag toe Sondag­skool noem. In ons kerke het die naam Sondag­skool plek gemaak vir die kerk se kategese, en ons praat van kategeseskool. Die kinders word van die Here, sy Woord en die ge­loofsleer van die kerk geleer.

Die vrug en seën wat gevolg het op Robert Rai­kes se besorgdheid oor die geestelike wel­vaart van die kinders sal nooit bepaal kan word nie. Sommige kinders groei op in ‘n huis soos dié van Ti­moteus oor wie Paulus skryf: “Ek dink aan jou op­reg­te geloof wat al in jou ouma Loïs  en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is” (2 Tim.1:5). Ander kinders het nie so ’n voorreg nie en hierin vervul die Sondagskool ’n ge­­seënde bediening. Die opdrag van die Here Je­sus: “Laat die kindertjies na My toe kom,” word hier­­in nagekom. Laat ons bid vir ons kinders en  vir ons kerke se werk onder die kinders.

“Here, vandag bid ek vir my eie kinders en klein­kinders en ook vir die baie kinders om ons en in die wêreld.”

Wo 18 Nov: Gestuur

Lees Handelinge 26: 12 – 18

“Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het…(vir) die heidennasies na wie toe Ek jou stuur…jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle…tot God kan bekeer…” (16,17,18)

William Carey was ‘n sieklike kind en as tiender­ja­rige het hy hom aan ‘n onverskillige lewe oor­ge­gee. Weens sy swak geleerdheid kon hy nie ander werk kry as om vak­leerling in ‘n skoenmakerswin­kel te word nie. ‘n An­der vakleerling, John Warr, wat reeds daar gewerk het, was ‘n Christen en vasbe­slote om waar hy kon vir Christus te getuig. Aan die begin kon hy met die skraal, los­bandige Wil­liam Carey geen hond haaraf maak nie. Op ‘n dag word Carey betrap waar hy ‘n nagemaakte munt­­stuk in die geldlaai vir ‘n egte muntstuk probeer om­­ruil. In sy vernedering wend hy hom tot John Warr om vir hom te bid dat hy nie afgedank of ver­volg sal word nie. John Warr se getroue getuienis vir Christus het op Carey indruk gemaak.

Op die Sondag, 10 Februarie 1779, oorreed John Warr vir Carey om saam met hom kerk toe te gaan. Die prediker se teks is Hebreërs 13:12-14: “Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en (sy) smaad dra…want ons het in hierdie wê­reld geen vaste ver­blyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.” Na die diens het John Warr vir Carey, toe sewentien jaar oud, gehelp om die Here Je­sus as sy Sa­ligmaker aan te neem en hy het Christus se vu­ri­ge dis­sipel ge­word. John Warr sou daardie dag nie kon besef watter groot be­legging hy in Christus se koninkryk gemaak het nie.

‘n Tyd daarna lees Carey ‘n boek: Captain Cooke’s Voy­ages. Dit maak hom bewus van die groot hei­den­wêreld daar buite. In daardie jare het net die Hernhut Morawiërs sendingwerk gedoen. Ca­­rey het intussen le­ke­prediker en Chris­­ten­wer­ker in die omliggende ge­meen­­tes ge­word. Hy be­gin ernstig by die predikante en ge­meentes pleit om iemand na die heidenlande te stuur. Daar­die tyd het die Protestante kerke geglo Chris­tus het sy sendingopdrag slegs aan sy apostels ge­gee. Ca­rey skryf ‘n boek, Obligations of Christians for the Conversion of the Heathens. Dit verskyn op 12 Mei 1792. Op 31 Mei 1792 spreek hy ‘n predikante­sa­me­­koms in Not­ting­ham toe oor die kerk se roeping om die evan­­gelie na die wêreldnasies te neem. Op 2 Ok­to­­ber 1792 word ‘n Sendingraad deur die ker­­ke gevorm. Uiteindelik hét Carey Indië toe gegaan. Hy het nooit verlof geneem nie en nooit weer na Engeland toe te­rug­­gekeer nie. Hy het 41 jaar in Indië gewerk. Hy is daar op 73-jarige ouderdom dood. Hy het die he­le Bybel in 6 ta­le en dele van die Bybel in 29 an­der tale vertaal. Mense moet die Bybel kan lees, het hy geglo. Hy het meer as 100 skole in die In­diese platteland opgerig. Hy het die Seram­po­re College, waar daar nog steeds predikante op­gelei word, gestig. Hy het woordeboeke en taalboeke in 5 verskillende tale opgestel. Onder sy invloed is die ge­bruik, om ‘n man se weduwee na sy dood te ver­brand, afgeskaf.

Die kort geskiedenis van hierdie vrugbare diens­kneg van die Here se lewe word met die volgende woorde afgesluit: Most impor­tant, he launch­ed the modern era of missions and laid the foundation for the modern science of missiology. One biogra­pher, Mary Drewery, wrote: “The num­ber of actual conversions attributed to him is pa­the­­tically small; the number indirectly attribu­table to him must be legion.”

 “Here, vandag wil ek u getroue getuie wees.”

Di 17 Nov: Oorwinning

Lees Johannes 20: 19 – 25

“Alhoewel die deure gesluit was omdat die dis­sipels bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’” (19)

’n Interessante verhaal word vertel hoe die nuus, van die afloop van die geveg by Waterloo, tus­sen die Engelse, onder Wellington, en die Fran­­se, onder Napoleon, in Londen bekend ge­maak is. ’n Skip het tot naby die Engelse kus gekom en met vlae die boodskap na die Win­ches­ter Katedraal toe begin sein. Die letters van die boodskap, soos die vlae dit gesein het, is een-een neergeskryf:  W-E-L-I-N-G-T-O-N  D-E-F-E-A-T-E-D…. en toe sak die mis oor die skip toe en die res van die boodskap kon nie gesien word nie. Geheel Londen was geskok oor genl. Wel­ling­ton se neerlaag teen keiser Napoleon. ’n Neer­slagtigheid het oor die Engelse neergesak. Toe lig die mis weer op en die res van die bood­skap word gesein: N-A-P-O-L-E-O-N. Dus: Wellington defeated Napoleon. Dít was ’n an­der sto­rie. Hierdie wonder­li­ke nuus het soos ’n huppelende lied geheel Engeland deurgalm.

Die heerlike nuus van die Here Jesus se opstanding en sy oorwinning oor Satan en die dood, het amper dieselfde proses deurloop. Die aanvanklike nuus van sy opstanding was somber en dubbelsinnig. Oor die twee Emmausgangers se gesprek met Je­sus, wat na sy opstanding by hulle aangesluit het, lees ons in Lukas 24:13-24: “Je­sus vra hulle toe: ‘Wat is dit wat julle so ernstig met me­kaar loop en bespreek?’ Met somber gesigte gaan hulle staan…en antwoord Hom: ‘Die dinge in ver­band met Jesus…en hoe ons Raad Hom…gekruisig het…’n paar vroue…het ons ook nog ont­stel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf …hulle het…engele gesien wat sê dat Hy lewe. Sommige van ons mense het graf toe gegaan…maar Hom het hulle nie gesien nie.” Selfs toe Jesus tussen die dissipels verskyn het, lees ons in Luk.24:36: “Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ’n gees…”

Leef ons in die oorwinning en blydskap van Jesus se opstanding uit die dood. Die Heilige Gees kan deur die Here se woord dit vir ons werk­likheid maak. “Ons het dieselfde Gees wat die ge­loof wek, en ons glo…ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon stel” (2 Kor.4:13,14). Wanneer Je­sus in sy opstandingsheerlikheid vir ons ’n werk­lik­heid geword het, word sy kruisdood vir ons ’n nu­we werklikheid. Toe Jesus aan sy dissipels verskyn het, het hy vir hulle sy wonde gewys. “Jesus het gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle’…nadat Hy dit gesê het wys Hy sy hande en sy sy vir hulle…” (Joh.20:19,20). Tomas het selfs gesê hy sal nie glo voor hy nie sy vinger in die merke van die wonde gesteek het nie. “Jesus sê vir Tomas: Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy…” (Joh.20:24,25,27).


“Here, vandag verheug ek my in u kruisdood en u opstanding vir my.”

Ma 16 Nov: Vir Sy Behoud

Lees Hebreërs 12: 4 – 12

“Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug).

In sy boek, A View from the Zoo, vertel Gary Richmond hoe ’n kameelperdvulletjie hierdie wê­reld binnekom. Eers verskyn die voorpote en dan die kop. Dan kom die nek redelik vinnig en die res van die lyf val af grond toe. Die ka­meel­perdkoei se agterstewe is hoog van die grond af! Die kalfie beland op sy rug. Feitlik dadelik rol hy om en lê met die bene onder hom ingetrek. In hier­die posi­sie kyk hy na die wêreld om hom en skud die laaste geboortevog uit sy oë en ore. Die kameel­perdkoei laat haar kop sak tot sy hoogte en bekyk hom met groot oë. Sy gaan staan oor hom. Dan voer sy as kameelperdma ’n verstommende han­de­­ling uit. Gary Richmond beskryf dit so: “She swings her long, pendulous leg outward and kicks her baby, so that it is sent sprawling head over heels. When he does’nt get up, the violent process is repeated over and over again….untill finally, the calf stands for the first time on its wobbly legs.” Dan doen die ma weer ’n eien­aar­di­ge ding. Sy skop hom weer van sy voete af. Hoe­kom. Hy moet ont­hou hoe hy op gekom het. In sy nuwe wêreld moet die kameelperdbaba leer om vin­nig op die been te kom, sodat hy by die trop kan bly as hulle vir ’n roofdief moet vlug en die agterblykalfie dus nie sommer gou-gou deur ’n leeu, luiperd of wildehond gevang kan word nie. Dit is die kalfie se behoud om altyd tus­sen die trop te bly en saam met die trop te beweeg.

Gary Richmond maak ’n belangrike geestelike toe­passing: There have been many times when it seem­ed that I had just stood up after a trial, only to be knocked down again by the next. It was God helping me to remember how it was that I got up last time, urging me always to walk with Him, in his shadow, under his care – the only safe place.”

“Here, vandag laat ek my deur U leer om by U te bly.”

Vry 13 Nov: Die Name in die Boek

Lees Openbaring 20 : 11 – 15

“Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe….As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi” (12,15).

In die Kapel van St. George, in die Westmin­ster A­bdy, is ’n gedenkboek oor die Tweede Wêreld­oor­log, wat uit vier volu­mes bestaan, word in Our Hope vertel. Die name van die 60 000 burger­likes, mans, vroue en kinders, wat in Londen, as gevolg van die oorlog, omgekom het, is in hierdie gedenk­boek se vier volumes geskryf. Om die beurt lê een van die volumes op die gebeds­altaar oop en ’n lig skyn op die bladsy neer. Elke dag word een bladsy omge­blaai. Die na­me is in datumvolgorde, van die per­sone se dood, neerge­skryf. So verskyn die na­me van die rykes en die armes, getiteldes en ge­wo­ne mense, oud en jonk, gesond of sieklik, be­roemd of onbekend, almal daar saam op die blad­sy wat omgeblaai is, vir almal om dit te sien, en dit te respekteer. Hierdie boek is ’n boek van die dood.

Daar is ’n ander boek, die Boek van die Lewe. Daardie boek is in die hemel. In dáárdie Boek staan die name van die mense wat op aar­de ge­leef het, óók sonder inagneming van klas, kul­tuur, stand of rykdom. Die lig van die hemel skyn daarop neer. Dit is die name van men­se, wat in die bestek van hul aardse lewe, deur hul geloof in Christus Jesus, God se eiendom geword het en deur die Heilige Gees, die nuwe lewe uit Chris­tus, deelagtig geword het.

Iewers in ons lewe, moet ’n dag wees, waar die kennismaking tussen ons en Christus, as verlore sondaar en ewige Verlosser, plaasgevind het. Dalk het dit gebeur toe u nog klein was. U ouers het hul doopbelofte goed nagekom en u het, baie vroeg in u lewe, Jesus as Saligmaker leer ken. U weet nie van die dag nie, maar u weet: Jesus Christus is my Verlosser, omdat Hy ook my sonde aan die kruis gedra het en ook in my hart, sy nuwe lewe ge­gee het. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vryge­maak van die wet van sonde en dood…Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God…julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom.8:1,2,14,15,16). Die Heilige Gees gee ons in ons hart die se­kerheid, ons behoort, op grond van Jesus se verlossingswerk, aan Hom. Dit is `n ondersteuning van geloof, as ’n mens ’n dag beleef het, toe hy kragdadig, dalk dramaties, tot bekering gekom het! Die van ons wat nie so ’n besondere bekeringsdag ken nie, en in ons hart ook nog twyfel of ék regtig ’n kind van God is, want die Gees se getuienis in my hart is nie so helder nie, moet dit in ons binne­kamer met die Here uitmaak, of by iemand daarvoor hulp soek. Anders mag met ons gebeur waar­oor Jesus ons in Mat­teus 7:21-23 waarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die he­mel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie…?’ dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af…”

“Here, vandag wil ek seker maak my naam is u Boek van die Lewe geskryf.”

Wo 11 Nov: Die Veilige Plek (2)

Lees Deuteronomium 33: 26 – 29

“Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou” (27).

In die Bible Expositor and Illuminator vertel die skrywer van sy vriend, wat ‘n pragtige vrou en lieflike 3-jarige dogtertjie gehad het. Donker hartseer het skielik oor die huisgesin gekom, toe die vrou een middag in ‘n motorongeluk dood is. Die aand na die begrafnis, sit die jong pa sy dogtertjie in die bed en terwyl hy met onhan­dige vingers sukkel om die nagklere se knope vas te maak, gaan die hele huis se ligte dood. Dadelik ver­moed hy ‘n sekering het uitgebrand. Die skakelbord is in die kelder, en hy wil gaan kyk wat verkeerd is. Hy sê vir sy dogtertjie: “Lê net so stil in jou bedjie. Pappa gaan net gou die lig regmaak. Ek is nou weer terug by jou.” Verskrik wil sy begin huil, oor die gedagte om so alleen, in die donker agtergelaat te word. “Saamgaan, Pappa! Saamgaan!” begin sy kerm. Hy tel haar op in sy arms en so in die donker, begin hy deur die huis loop, versigtig af met die trappe. Sy dogtertjie wikkel haar dieper in sy arms in en druk haar gesiggie in sy nek. “Donker, Pappa,” sug sy. “Ek nie bang nie. Pappa by my.” ‘n Snik skeur uit sy hart uit en hy druk sy gesig in haar hare. “Ja, liefstetjie,” snik hy sag, “dit is baie donker, maar ek is ook nie meer bang nie. My Vader is by my en Hy hou my ook vas in sy arms, ek weet!”

Het ons ook al so ‘n pikdonker in ons lewe ervaar? Is dit nou dalk so donker? Daar is net een seker, vei­lige, troostende toevlug en dit is ‘n bewussyn van God en sy liefde. “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here God gekies as my toevlug” (Ps.73:28). “…my God gee lig as dit donker is om my”(Ps.18:29). Die Here Jesus Christus, as ons Hoëpriester, het vir ons die weg groot oopgemaak na God se genadetroon toe, waar ons troos en krag en vrede kan vind. “Terwyl ons dan nou `n groot Hoë­priester het…Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp…Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb.4:15,16).

“Here, vandag is dit om my donker en ek soek U lig en nabyheid.”

Di 10 Nov: Die Veilige Plek (1)

Lees Psalm 34: 1 – 11

“Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle. Kom ondervind en sien dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil” (8,9).

Ernest Gordon vertel in The Sunday School Times, hoe William Hacquist en die werkers van die Evange­lical Al­liance Mis­sion, gedurende die Boxerop­stand in Sjina, van die moorda­dige Sjinese­ opstandeling ont­snap het. Ses dae lank het hulle voor die bendes uitge­vlug, maar toe bereik hulle ’n punt, waar hulle moes kies, of hulle sal voortgaan om oor land, tussen die ber­ge deur, te vlug en of hulle met bote met die rivier sal afvaar. Weens die droogte was die Hanrivier droog. Die vlug oor land het die aangewese roete ge­blyk te wees, want hulle draers en wagte, wat hulle moes beskerm, het geweier om anders, as oor land, tussen die berge deur, te vlug. Hulle het besluit om bid­uur te hou en tyd te neem, om te weet, wat God se leiding is. Tydens die biduur, het daar in William Hacquist en die ander wer­kers se harte, ’n bewussyn ont­­waak om rivierlangs te vlug. Maar die rivier was droog! Hulle het egter in die ge­loof twee platboomskuite bekom. Hulle het kos ge­koop en dit saam met hul baga­sie in die bote geplaas. William Hacquist skryf: The place where we stayed was surrounded by high hills. As we prayed and waited, in about midafternoon, heavy dark clouds came over the hilltops, and from them came pouring down, the hea­viest rain I have ever seen. It really looked like a cloudburst. In a very short time the river bed was filled with water, so we could release the boats and nicely float down the rivier. Later moes hulle verneem, ’n paar honderd “Boxerbandits”, het hulle in ’n bergpas, ’n entjie ver­der die berge in, inge­wag om hulle dood te maak. Hieroor sê William Hacquist: “God sent us the safe way”.

Ons omgewing: strate en wonings, sakepersele, plase, paaie, het deesdae onveilige plekke vir ons, en almal wat vir ons kosbaar is, geword. Die belofte en versekering in Psalm 91:1-5 (Ou Vertaling) het vir ons kosbare en gerusstellende woorde geword: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skadu­wee van die Almagtige. Ek sal tot die Here sê: ‘My toevlug en my bergvesting, my God op Wie ek vertrou’….Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie…”. Dit is nie ’n beveiliging wat maar sommer net vir almal is nie. Dit is ’n geloofs­posisie wat ons moet inneem en deur gehoorsame lewe aan die Here moet handhaaf. Die belofte is: Hy wat sit…en vir die Here sê: My Toevlug en My Bergvesting en My God op Wie ek vertrou. So ’n geloofshouding en gemoedsvertroue kom, wanneer ons God se woord lees en ter harte neem, en die Heilige Gees dan die Woord gebruik, om in ons harte geloof te laat ontwaak. Ons weet die Here Jesus Chris­tus gee ons die vrymoedigheid, om God se beskerming en hulp te vra.

“Here, vandag neem ek my plek in in U as my Skuilplek.”

Ma 9 Nov: Die Onmoontlike Gebed

Lees Markus 11: 20 – 25

“En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredinge vergewe” (25).

Aan die einde van ’n Bybelkonferensie, skryf dr. R. C. McQuilkin in sy boek Studying Our Lord”s Parables, kom ’n meisie van 17 jaar oud na haar Bybelonder­wyser toe en vra om met hom te praat. Met ’n onvaste stem begin sy: “U het ook gehoor dat ’n meisie in haar getuienis vanog­­gend vertel het, dat daar ’n meisie is met wie sy vir ses weke nie gepraat het nie. Ek is daardie meisie.” ”Het jy nou besluit om met haar te praat en die saak tussen julle reg te maak?” ”Ek voel nie om dit te doen nie. Hoekom moet ek gaan regmaak. Kan ek nie ook reg wees nie? Alle ander dinge het ek aan die Here oorgegee.” ”Kom sit hier, dan praat ons,” sê haar onderwyser vir haar. ”Maar kom ons bid eers saam. Bid jy.” Vir ’n rukkie is dit stil. “Bid die Onse Vader,” moedig hy haar aan. Sy begin bid, maar sy bid met ’n ontevrede, opstandige klank in haar stem. “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredinge soos ons….(Mat.6:9)” Sy bly stil. “Wat makeer?” vra die onderwyser. Geen antwoord nie. “Hoekom gaan jy nie aan nie?” Stilte. “Hoe het jy die afgelope ses weke gebid?” ”Ek het nie gebid nie.” Deur die Here se Woord bring die Heilige Gees oortuiging van sonde in haar hart in. Sy bid toe spontaan en bely haar vy­andigheid teen die ander meisie. Sy het haar lewe aan die Here oorgegee en die vyandskap gaan regmaak.

Iets kan in ons Christelike lewe skeef lê sonder dat ons daarop agslaan, of omdat ons dit goed­praat. Deur die Here se Woord wek die Heilige Gees in ons sondeoortuiging op en ons maak die saak reg. Dit begin by ons kop. Ons lees of hoor die Here se Woord en ons begryp dit met ons ver­stand. Dan gaan dit na ons hart toe. Die Heilige Gees bring oortuiging in ons hart in. Die Woord wat ons verstaan het, begin vir ons saakmaak, raak ons, maak ons bekommerd. Dan gaan dit knieë toe. Ons luister na die Woord, neem die oortuiging van die Heilige Gees aan, buig ons knieë en bid dan daaroor. Dan bereik die Woord ons voete. Ons handel. Ons gaan maak ’n saak reg, ons doen die ding waaroor die Here met ons praat. Hierdie proses bring verdieping en oorwinning in ons Christelike lewe in.

“Here, vandag hoor ek, voel ek, bid ek en gehoorsaam ek u Woord.”

Vry 6 Nov: Kom Net So

Lees Jesaja 57: 14 – 21 – Ou Vertaling

“Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes (15).

Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, vertel die storie van die groot en geliefde vors, wat by se­­ke­­re geleenthede, die bedelaars en armes van die stad in sy paleis onthaal het. Rondom hom by die feestafel het sy howelinge gesit, geklee in fyn, spier­­wit hofklere. Aan dieselfde tafel het die bede­laars ge­sit, geklee in verflenterde, vuil klere. Dit was altyd ’n feestelike geleentheid en almal was bly, want hulle was lief vir hulle goeie koning. Hy het geen onderskeid gemaak tussen die ryk howe­linge en die verarmde bedelaars nie.

Eendag op pad na so ’n maaltyd toe, kom een van die koning se howe­linge ’n ongeluk oor en smeer sy wit kleed vuil. Met skok bekyk hy homself Hy kon on­moontlik só sy plek tussen al die wit en ryk ge­klede howelinge gaan inneem. Maar hy kon die gedagte nie verdra om van die maaltyd uitge­sluit te wees en vir ’n volgende keer te wag nie. Toe kom die gedagte by hom op: As die koning sy fees­­maal hou, sal sommige as wit geklede howe­linge kom en met hulle pragtige klere, hul geëerde plekke inneem. Ander gaan met vuil klere en vod­de opdaag, maar hulle gaan by die koning net so welkom wees. Hy besluit: “Solank ek net my koning kan sien, gaan ek vandag my plek tussen die bedelaars en armes inneem, en net só met vuil klere en al aansit, en ek weet ek sal net so welkom wees, asof ek die witste klere aan het.”

Nou skryf Spur­geon: “Wanneer my vrymoedig­heid en die kentekens van my verlossing dof was, het ek dit ook al dikwels gedoen,. Ek raai u aan: Doen dit ook. As u nie as heilige na Jesus toe kan kom nie, kom dan net só, met vuil klere as son­daar. Kom vrymoedig, met ver­oot­moe­dig­ing en ge­loof. Baie gou sal u weer sy vrede en vreugde, sy vergif­nis en reiniging, in u hart ervaar.”

Jo­han­nes moedig ons ook aan: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met me­kaar deel aan die­self­de gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle onge­reg­tigheid” (1 Joh.1:7-9). Jesaja moedig ons nog verder aan: “So sê die Here: ‘Ek slaan ag op die mens in nood, op die een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord’” (Jes.66:2).

“Here, vandag kom ek na U toe net soos ek is.”

Do 5 Nov: Die Lampaansteker

Lees 2 Korintiërs 4: 1 – 6

“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom” (9,10)

In die dae voor elektriese straatligte, moes die gas- of parafien­lam­pe, met sononder een vir een, deur ‘n lamp­aan­steker aan­ge­steek word, en die volgende og­gend, weer ge­doof word.

Die Sunday School Times vertel van so ‘n lamp­aan­steker, ‘n onverskillige jongman, wat een aand, op sy rond­te om die lampe aan te steek, by die heilsleër (sal­vation army) se opelugdiens ver­by­­loop, die evangelie hoor en tot bekering kom. Sy geestelike lig is dié aand deur God aan­ge­steek. Een van sy vriende, ‘n drinking pal, het hy hom ge­noem, spot later met hom, omdat hy nou so gods­dienstig geword het, dat hy nie meer met die gang wil uitgaan en jolyt hou nie.

“Jy weet wat my werk is,” sê Jesus se nuwe volge­ling vir sy vorige maat. “Soggens voor sonop, begin ek straat­op gaan om lampe dood te maak. Dan lê die straat, soos ek vorder, donker ag­ter my. Dit is hoe my lewe eers was, ‘n donker ver­lede. Kyk ek vorentoe, sien ek ‘n lang ry skynende ligte voor my. Dit is hoe my toekoms nou lyk, na ek Jesus in my lewe laat inkom het.” “Dis goed en wel,” antwoord die vorige maat, “maar dis nie lank nie of jy maak die laaste lamp ook dood en dan is dit ook maar weer don­ker. Waar is jy dan met jou danige Jesus?” “Dis waar,” antwoord die lampwerker, “maar dan kom die son op en ek het nie meer lampe nodig om vir my lig te maak nie. Jesus is nou die lig in my lewe en na my laaste dag, op aarde, gaan ek na Hom toe in sy ewige hemel.”

Die Nuwe Testament beklemtoon hierdie be­moe­­di­gende waarheid. “Die volk wat in duisternis woon, het ‘n groot lig gesien…vir hulle het die lig opgegaan” (Mat.4:13-16). “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is” (Ef.5:8). Dit is elke geredde mens se ver­wagting van die ewige hemel: “Die stad het nie die son en maan nodig om hom te verlig nie, want die heer­likheid van God het hom verlig en die Lam is sy lamp” (Op.21:23). Op `n dag, doof elkeen van ons, se le­wens­lig. Vir elkeen in wie se lewe die Here Jesus as Verlosser ingekom het, kom die son van ewige lig dan op.

“Here, vandag kyk ek weg van die aardse donker en ek verlang na Jesus se lig in my lewe en my toekoms.”

Wo 4 Nov: Die Rooskweker

Lees Romeine 6: 1 – 11

“Ons het saam met Christus gesterwe….onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (8,11).

Dr. A. S. Gumbart se Hollandse vriend se meto­de om goeie rose te kweek, het vir dr. Gumbart ’n waardevolle geestelike les geleer. Die kweker se metode was om ‘n minderwaardige roossoort, langs ’n kosbare roosvariteit te plant. Hy hou die minder-waardige roos goed dop en sodra die meeldrade verskyn, knip hy dit kort, sodat die minderwaardige roos hom nie self bestuif nie. Die bestuiwing van die minderwaardige roos moet van die goeie roos af kom. Gaandeweg ontwikkel die swak roos die goeie eienskappe van die meerderwaardige roos en nie te lank nie, of dit lyk en ruik, soos daardie goeie roos waarlangs hy groei.

Dr. Gumbart sê: This is indeed a beautiful illustration of the blessing that comes to the life that knows the com­pa­nion­ship of Jesus. If our lifes are pollenized, as it were, by his righteousness; if his life transforming truth is received into the heart, and self be sacrified to make room for the incoming of his superior life, it cannot be other than that gradually the life loses its own inferior cha­racteristics and develops the cha­rac­teristics of the blessed life of Him who is Himself the Rose of Sharon.

So ’n proses vra tyd van omgang met Jesus, luister na sy Woord en sy stem deur die Heilige Gees in ons hart, belydenis en aflegging van ons slegte meeldrade van selfsug, oneerlikheid, wellus en ongehoorsaamheid. Dit is die lonende, lieflike groeiproses in die lewe van die dissipels van Jesus wat stadigaan soos hulle Meester begin word.

“Here, vandag bly ek naby U en wil met U verkeer.”

Di 3 Nov: Beproef tot ons Voordeel

Lees 1 Petrus 1: 1 – 10

“Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word…selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets…” (6,7).

Die Christenskrywer Baxter, deur wie se boeke baie van ons al in ons geestelike lewe aange­moe­dig is, skryf oor homself, dat hy, toe hy gesond was, geen gedagte ge­­had het om boeke te skryf nie. Sy diens aan God, as pre­diker van die evan­gelie, het hom heeltemaal bevredig. Toe doen hy ’n kwaal van ernstige, inwendige bloe­ding op. Hy skryf: “When I was left solitary in my cham­ber at Sir John Cook’s, in Derbyshire, without any acquain­tance, but my servant about me, and was sen­­tenc­ed to death by the physicians, I began to contemplate most seriously on the everlasting rest, which I apprehended myself to be just on the borders of … I began to write something on that subject … and it enlarged to the bulk in which it is published.”

So ’n skrywer se skryfwerk het ’n diep loop in die leser se hart. Sulke manne se boeke is ge­seën­de leesstof. Dit is tot ons voordeel dat die Here oor hom so ’n beproewing gebring het. Dit is dieselfde met Dawid. Die Here het hom deur pyn­­like erva­ringe en beproewinge gelei en hy het vir ons, deur die Heilige Gees, die Psalms geskryf wat van­dag vir ons so baie werd is. Met Paulus was dit die­­self­de. As Paulus nie in die tronke van Sesarea en Ro­me beland het nie, het ons nie sy send­briewe ge­had nie. Die toetse en beproewinge wat vir ons dik­wels teleurstellend en swaar is, is baie keer die He­re se manier om ons juis skerp te maak, om vir Hom bruik­bare instru­mente tot seën vir ander te maak. “Wan­neer ons getug word, lyk die tug op daardie oom­blik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daar­deur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hul­le gehoorsaam is aan die wil van God” (Heb.12:11).

“Here, vandag wil ek verstaan dat U my met ’n doel tugtig.”

Ma 2 Nov: Die Rooskweker

Lees Romeine 6: 1 – 11

“Ons het saam met Christus gesterwe….onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (8,11).

Dr. A. S. Gumbart se Hollandse vriend se meto­de om goeie rose te kweek, het vir dr. Gumbart ’n waardevolle geestelike les geleer. Die kweker se metode was om ‘n minderwaardige roossoort, langs ’n kosbare roosvariteit te plant. Hy hou die minder-waardige roos goed dop en sodra die meeldrade verskyn, knip hy dit kort, sodat die minderwaardige roos hom nie self bestuif nie. Die bestuiwing van die minderwaardige roos moet van die goeie roos af kom. Gaandeweg ontwikkel die swak roos die goeie eienskappe van die meerderwaardige roos en nie te lank nie, of dit lyk en ruik, soos daardie goeie roos waarlangs hy groei.

Dr. Gumbart sê: This is indeed a beautiful illustration of the blessing that comes to the life that knows the com­pa­nion­ship of Jesus. If our lifes are pollenized, as it were, by his righteousness; if his life transforming truth is received into the heart, and self be sacrified to make room for the incoming of his superior life, it cannot be other than that gradually the life loses its own inferior cha­racteristics and develops the cha­rac­teristics of the blessed life of Him who is Himself the Rose of Sharon.

So ’n proses vra tyd van omgang met Jesus, luister na sy Woord en sy stem deur die Heilige Gees in ons hart, belydenis en aflegging van ons slegte meeldrade van selfsug, oneerlikheid, wellus en ongehoorsaamheid. Dit is die lonende, lieflike groeiproses in die lewe van die dissipels van Jesus wat stadigaan soos hulle Meester begin word.

“Here, vandag bly ek naby U en wil met U verkeer.”