“Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit … weggeneem” (14).
Charles Finney, die bekende herlewingsprediker van die 19de eeu, vertel van ’n dorp waar ’n geestelike doodsheid geheers het. In dié dorp het ’n bejaarde grofsmid gewoon. Hy het so gehakel, dit was pynlik om na hom te luister. Een Vrydag, terwyl hy in sy werkswinkel wielbande kort, raak hy in sy gemoed beklem oor die vervalle toestand van die kerk en die baie onbekeerde en onverskillige mense in sy dorp. Hierdie onverklaarbare, innerlike droefheid raak so hewig dat hy sy werk staak. Hy sluit sy winkel. Alleen in sy winkel kniel hy op die vloer neer. Hy bring die hele middag deur met gebed tot God, om herlewing ook in hulle dorp te stuur. Die daaropvolgende Sondagoggend, vra hy sy predikant huiwerig om vir daardie Sondagaand, ‘n biduur te belê. Die dominee is glad nie daarvoor lus nie, want aanddienste en bidure het lankal ophou bestaan. Toe die ou man egter aanhou pleit, stem hy in. Die biduur kan sommer in die pastorie gehou word, want hy verwag nie veel mense nie. Teen aand se kant begin mense aankom pastorie toe. Die sitkamer word vol, mense staan in die gang en in die eetkamer. ’n Bewoëndheid heers. Iemand begin bid en bely met ontroering sy sondes en vra die Here om hom te red. Ander innige gebede volg. Meer as een bid later gelyk. Almal is onder sondeoortuiging. Herlewing het in die dorp begin. Later word dit duidelik, die algemene sondeoortuiging het daardie Vrydagmiddag, terwyl die ou man in sy smidswinkel gebid het, in harte begin posvat. Dit was God se genadige besoek aan daardie dorp. Hy het daardie ou man se biddende hart as kanaal vir die herlewing gebruik.
Dwarsdeur die Bybel en ons kerkgeskiedenis vind ons, gebed is altyd God se kanaal waarlangs Hy sy seën stuur. Soms word saam gebid. Jesus se woorde: “Waar twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle”(Mat.18:19). Maar dikwels begin die Here sy seën stuur wanneer één persoon begin bid. Daniël: “Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking…(Dan. 9:2). ”Nehemia: “ek (het) dae lank getreur. Ek het gevas en gebid… (Nem.1:4).” Die Heilige Gees leer ons en bekwaam ons om te bid: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom.26).
“Here, vandag wil ek vir u ’n kanaal wees om U seën langs te stuur.”