“…waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het…die teenswoordige… aarde…word vir die vuur bewaar teen die dag van die verderf van die goddelose mense (6,7).
“Hoe lyk die aarde, van `n 10 000 meter hoogte af?” Dit is net een van die vrae, wat die veteraan vlieënier, Mitsuo Yamada vra, wanneer hy dwarsoor Japan sy “Gaan na die lugruim”-lesings aanbied, om kinders te leer oor omgewingskwessies wat ons aardbol bedreig. “Ek werk vir ʼn lugredery en die lugruim is my werkplek,” sê hy. “Dit is my plig om mense te vertel hoe die omgewing beskadig word!” Vir die afgelope 35 jaar vlieg hy JAL-vliegtuie. Die afgelope 7 of 8 jaar neem hy veranderinge waar op die oppervlakte van die aarde. Hy sien hoe ʼn grys waas die lugruim van Sjina bedek, ʼn rooi gety oor die Suid-Sjinese see versprei en stroke van die Indonesiese reënwoud verdwyn. Hy noem dit waarskuwingstekens vir ons aarde. (Yomiuri Nuus- G. Yonei, 2008-08-31)
Neil Verwey van Japansending stuur vir ons hierdie storie en voeg by: God se standpunt oor die toekoms van die aarde is duidelik beskryf in die Bybel: “Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe” (Rom.8:22). Die aarde sal sonder twyfel vernietig word, maar slegs volgens God se plan. “Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense (2 Petrus 3:7).
God is gereed om oordeel oor die wêreld uit te spreek! In die tussentyd is ons Christusgewe taak, om die verlorenes, wie andersins sal omkom saam met die aarde, te wen vir Christus. “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ʼn nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:11-13).
Wanneer die heelal verbrand en die aarde soos ons dit ken verdwyn, sal die toekoms van die oorblyfsels van die mensdom wat in God glo, so helder soos die beloftes van God se onfeilbare Woord skyn. Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie (Jes. 65:17). Ons weet nie wanneer God al hierdie dinge sal laat geskied nie, so laat ons gereed wees vir daardie wonderlike dag!
Nie hierdie aarde en hierdie wêreld moet ons lewensterminus wees nie, maar God se nuwe aarde en hemel wat die Here Jesus vir ons met sy bloed gekoop het.
“Here, vandag wil ek gereed wees vir u koms.”