“Wees my genadig, o God! … onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is … Ek voel weer veilig, o God … Ek wil ‘n lied sing … want U liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke!” (2,8,11)
In Preacher’s Lantern skryf William Gurnall oor ‘n tyd toe die London Bridge met huise bebou was. Hy vertel die bewoners van die huise wat op die brug gebou was, het snags net so vas en rustig geslaap as die inwoners van die huise in Whitehall of Cheapside. Die see se branders het onder die brug deur gestorm en gedreun, maar dit het die inwoners van die huise op die brug nie ontstel nie. Die branders kon hulle nie skaad nie. Hulle het veilig gevoel, want hulle het geweet die brug rus op groot, sterk pilare. In Psalm 57, skryf Gurnal, het Dawid onder net so ‘n stormende gedreun van gevare verkeer. Dawid het hom, volgens die Psalm se inleiding, in die grot van Adullam, waar hy vir die vervolging van sy groot vyand, koning Saul geskuil het, bevind. In daardie gevaarlike posisie voel Dawid veilig, omdat hy by God skuil, en hy sing: “Ek voel weer veilig…”
Om ons is daar ook dikwels die gedreun van omstandigheidsbranders wat ons bang maak. As ons meer bewus kan wees van God se liefde en getrouheid, voel ons onder die aanslag van bedreiging veilig. So ‘n vertroue in God is nie ‘n natuurlike, menslike bewussyn nie. Die Heilige Gees wek hierdie vertroue op in ons hart as ons in die Woord al die beloftes van God se liefde en getrouheid lees. Jesus het dit baie eenvoudig vir sy dissipels geleer: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie…” (Mat.10:29-31). En Petrus bemoedig ons ook: “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle”
“Here, vandag skuil ek met geruste hart by U.”