“Wees inskiklik teenoor alle mense” (5).
Die skilder, Turner, se werke was buitengewoon helderkleurig. Werke met stiller kleure het afgesteek langs Turner se werke. In 1826, vertel Moody Monthly, het hy sy groot werk van Cologne by ’n uitstalling vertoon. Sy skildery met die oorweldigende helder kleure, is tussen twee werke deur Sir Thomas Lawrence, gehang. Lawrence het dadelik die effek bemerk wat Turner se helder kleure op sy stiller kleure gehad het. Dit het sy werke dof gemaak. Hy het ongelukkig en verneder gevoel. Hy het tevergeefs beswaar gemaak teen die plasing van sy werke langs Turner s’n. Die hang van die skilderye was presies uitgewerk en kon nie weer verander word nie. Turner het besluit om iets aan die saak te doen. Daardie jare is kunstenaars toegelaat om geringe en nodige opknappingswerk aan hulle skilderye te doen na dit reeds uitgestal is. Turner het sy helder kleure dowwer gemaak en sy skildery was nie langer ’n bedreiging vir Lawrence se werke nie. ’n Vriend van Turner, wat die treffende skilderstuk met die oorweldigende kleure voorheen gesien het, het ’n paar vriende saamgebring om met sy vriend se werk te spog. Toe hulle voor die skildery kom, het hy verbysterd teruggesteier. Die vlammende blou lug was nou ’n dowwe, bruin kleur – die prent is bederf. Toe hy Turner sien, hardloop hy letterlik na hom toe om te vra wat met sy voortreflike skildery gebeur het. Turner maak hom stil. “Dis nie so erg nie.” Hy knipoog vir hom. “Ek het roet gebruik wat na die uitstalling met water van die olieverf afgewas kan word. Ek kon dit net nie verdra om arme ou Lawrence so ongelukkig te sien en te weet dit is deur my toedoen nie. Ek het toe minder, en hy meer geword.”
Ek weet nie of Turner ’n uitgesproke Christen was nie, maar sy gedrag, moontlik gebore uit die kunstenaar se aanvoeling van wat mooi en reg is, het iets verraai van die soort lewe wat Christus by sy volgelinge soek: bevoordeel ’n ander, maak ’n ander gelukkig, moenie vir ’n ander ’n struikelblok en hindernis wees nie. Die geheim van die aantreklike Christenlewe is om deur die Heilige Gees uit Christus se eie lewe te leef en nie aangespoor te word deur ons eie natuurlike en gebrekkige motiewe nie. “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe” (Ef.4:15). Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig…want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry” (1 Pet.3:8,9).
“Here, vandag put ek my lewensmotiewe uit Jesus”