Di 9 Sept: Plek in die Optog

SKRIFDEEL: Openbaring 7: 9 – 17

“…’n groot menigte…wat niemand kon tel nie…van elke nasie…hulle het hulle klere gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam…” (9,14).

Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, ver­tel van ’n man wat ge­droom het hy staan by die poort van die hemelstad. Hy aanskou ’n fees­vierende skare wat by die hemelpoort in­gaan en singende deur die hemelskare verwel­kom word. ’n Engel lig hom in: “Dit is die profete.” Die man skud sy kop. “Ek tel nie on­der hulle nie.” Kort daarna kom nog ’n jubel­ende optog verby, wat dieselfde verwelkoming ontvang. ”Dit is die apostels”, sê die engel. “Ek is nie een van hulle nie,” sug die man. Nie lank nie of nog `n skare kom singende verby. “Dit is martelare wat vir hulle geloof gely het.” “Ag, ek is nie werd om tussen hulle te wees nie!,” roep die man hartseer uit. Die volgende optog be­staan uit manne en vroue wat met vrug die evan­gelie op sendingvelde, in vreemde lande en in wêreldstede verkondig het. Die man be­dek sy gesig met sy hande en kreun: “Ek hoort nié onder hulle nie!”

Nog ’n skare kom verby, groter as enige van die voriges, met groter blydskap en hel­der­der sang. Die vaandeldraer heel voor is die moordenaar vir wie Jesus aan die kruis gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die para­dys wees.” Agter hom loop die sondares vir wie die Here Jesus gesê het: “Jou sondes is ver­gewe” Dan loop Saggeus, vir wie die Hei­land gesê het: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom…want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is.” En langs hom is die Samaritaanse vrou, vir wie Jesus gesê het: “…wie van die water ge­drink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.” Sy word gevolg deur die sipier van Filippi met sy hele gesin, vir wie Paulus gesê het: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” ’n On­tel­bare skare manne, vroue en kinders, volg vreug­de­vol op hulle hakke. Die man wonder wat­ter ontvangs húlle in die hemel gaan kry. Van agter die hemelmure gaan nou ’n gejuig op wat alles oortref en meng met die optog se eie ju­belende lied: “Ons redding kom van ons God wat op die troon sit en van die Lam”. Die engel sê met ‘n blye glimlag: “Dit is die groot sondaars, wat deur groot genade gered is!” “Dank, aan God!” roep die man uit. “Ek kan saam met húlle ingaan!” Op daardie oomblik word hy wakker.

“Here, vandag loof ek U, want ek kan ook só u hemel binnegaan.”