Wo 10 Sept: God se Liefde vir Ons

SKRIFDEEL : 1 Johannes 4: 7 – 21

“Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het… (10).

Die Gospel Herald vertel van ‘n belydende Chris­ten, wat ernstig siek geword het. Waar hy so siek in die bed lê, raak hy be­kom­merd oor die min liefde wat hy in sy hart teenoor God voel. Hy praat daaroor met ’n vriend wat hom kom besoek. Dit is hoe die vriend hom antwoord: “As ek netnou huis toe gaan, is een van my eerste take, om my baba op my skoot te tel. Moeg soos ek is, gaan haar teenwoordigheid vir my ’n aan­gena­me plesier wees, want ek het my kindjie met on­uitspreeklike teerheid lief. Sy het my nog nooit iets gegee nie, inteendeel, sy is vir my ’n groot uitgawe. Ek is nie ryk nie, maar geen geld in die wêreld kan haar by my koop nie. Hoekom is dit so? Omdat sy my lief het? Of omdat ek háár lief het? Gaan ek my liefde terughou totdat sy my eendag ook lief het? Wag ek tot sy eers iets goeds aan my doen, voor ek groter liefde op haar gaan uitstort?” Bewoë luister die siek man na hierdie praktiese vergelyking. “Nou sien ek dit!” roep hy uit. “Ek moenie aan my liefde vir God dink nie, maar ek moet dink aan God se liefde vir my. Nou weet ek ek het God ook lief!”

C.H.Spurgeon het gepreek oor 1 Joh. 4:19: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerte liefgehad het.” Spurgeon se eie woorde: “The love of God is before our seeking. He draws us before we run after him. We do not seek that love; that love seeks us. Today we have faith in Jesus Christ, but our faith did not come before his love; on the contrary, our faith rests in what that love has done for us of old – He died for us!”

Dit is goed om besorg te wees oor ons gevoel vir God en ons verhouding met Hom. Be­sorgd­heid in die hart oor ons gevoel teenoor God is ook ’n goeie teken. Die onbekeerde hart het geen gevoel vir God nie en is ook nie besorg oor hoe God oor hom voel nie. Die hart, we­der­ge­bore deur die Heilige Gees, uit geloof in Chris­tus as Verlosser, gee om oor hoe hy oor God voel en hoe God oor hom voel. Hy wil God behaag. Ons moenie ons gevóél ons fokuspunt maak nie. Wat ons oor God gló, soos sy woord ons leer en soos die Heilige Gees dit in ons hart oordra, maak saak. Sy woord sê Hy het ons lief; sy woord sê Hy sorg vir ons; sy woord sê Hy maak ons ryk met ’n ewige ryk­dom. Christus het vir ons die weg na God toe oopgemaak. Wat Hy aan ons belowe, kan ons glo, en daaruit die blyd­skap en die vrede put waar­na ons in ons har­te soek. “Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het” (Rom.5:11). “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom.15:13)”.

“Here, vandag verheug ek my oor U liefde vír my.”