“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” (9).
’n Dogtertjie staan by ’n klein kerkie, maar sy word deur die man by die deur weggestuur. Daar is net nie meer plek in die kerkie nie. Die predikant loop toe juis by haar verby. “Ek kan nie Sondagskool toe gaan nie,” snik sy toe hy vra hoekom sy buite staan en huil. Hy sien haar ongekamde hare, slordige en vuil rokkie en besef dadelik hoekom sy eintlik weggestuur is. Hy neem haar saam met hom in die kerk in en kry vir haar plek in ’n Sondagskoolklassie. Twee jaar later sterf die dogtertjie, in ’n armoedige kamertjie, in die stad se agterbuurt. Haar ouers gaan vertel dit vir die goedhartige predikant wat hul dogtertjie se vriend geword het. Hulle vra hom om haar begrafnis te reël. Toe hulle haar wegneem, val ’n gehawende rooi beursie uit haar klere uit. In die beursie is 57c en ’n briefie in haar kinderlike handskrif: “Dis om te help om die kerk groter te bou.” Twee jaar se spaargeld! Die predikant lees die briefie met betraande oë en hy weet wat hy gaan doen. Daardie Sondag wys hy vir sy gemeente die beursie en lees die briefie. Hy daag die diakens uit om genoeg geld in te vorder om die kerk groter te bou. ’n Koerant hoor daarvan en plaas die storie. ’n Ryk eiendomsagent lees dit en bied die kerk ’n stuk grond aan, wat baie duisende werd is. Die kerk kan nie so ’n groot bedrag betaal nie. Hy bied aan om die grond vir 57c aan die kerk te verkoop. Dit ontroer die hele gemeente se hart en binne vyf jaar bereik die dogtertjie se oorspronklike 57c deur ander donasies $250 000. ‘n Groot bedrag vir daardie tyd!
Ek haal die Engelse verhaal nou letterlik aan: When you are in the city of Philadelphia, look up Temple Baptist Church, with a seating capacity of 3 300. And be sure to visit Temple University, where thousands of students are educated. Have a look, too, at the Good Samaritan Hospital and at a Sunday School building which houses hundreds of beautiful children, built so that no child in the area, will ever need to be left outside during Sunday school time. In one of the rooms of this building may be seen the picture of the sweet face of the little girl whose 57c, so sacrificially saved, made such remarkable history. Alongside of it is a portrait of her kind pastor, Dr. Russel H. Conwell, author of the book, Acres of Diamonds.”
Die vyf brode en twee vissies het in Jesus se hande genoeg kos geword om die duisende te voed en nog mandjies vol te laat oorbly. Dit wat ons binne ons klein vermoë vir die Here gee of doen of getuig, word in sy hande die oorvloed wat sy koninkryk opbou. Die lewe gerig op die Here Jesus, aan Hom toegewy en bestuur deur die Heilige Gees, het in God se hand groot krag, al is die aardse voorkoms klein en onopsigtelik.
“Here, vandag is ek en wat ek het tot U beskikking.”