“Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie …”(15).
Jesus het Homself die Seun van die mens genoem, omdat God in Hom die hele end gekom het tot waar ons is, tot in ons diepste nood. So het Hy kom inbreek in ons gevangenis; kom inkruip onder ons sondelas; ons in sy arms kom neem en soos die verlore skaap, ons op sy skouers gesit, om ons terug huis toe te dra. In die mens Jesus het God tot by ons gekom. Hy kan ons verstaan; Hy kan met ons medelye hê. “Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb.2:17,18).
Ons kan aan sy boesem leun; ons kan gryp aan sy sterk arm; ons kan opkyk in sy oë; ons kan lag, roem, snik en ween aan sy voete. Hy verstaan. Wanneer almal die hoof skud, dan nog fluister Hy ons in: “Staan op, jy kan nog oorwin. Ek ken dieselfde stryd. Ek sal jou leer om te oorwin.” Dit is hoe naby Jesus nou aan ons is.
“Here, vandag kom ek na U toe. U het so naby aan my gekom.”