Di 16 Sept: Die Lewende Bybel

SKRIFDEEL: Galasiërs 5: 13 – 26

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (25).

Sy naam is Billy. Hy het woeste hare, dra ‘n T-hemp met gate in, jeans en geen skoe­ne nie, stuur Maria van der Merwe, `n gereeld e-posleser, vir ons `n storie. Op kollege het hy `n gelowige geword. Oor­­kant die straat van die kol­legekampus af was ‘n netjiese en baie kon­ser­watiewe kerk. Hulle wou ‘n bediening begin vir die kollege­studente, maar het nie geweet hoe om dit te begin en uit te voer nie.

Eendag besluit Billy om die diens in die kerk by te woon. Kaalvoet stap hy die kerk in, met sy gewone T-hemp, jeans en wilde hare. Die diens het reeds begin en Billy stap in die paad­jie af, opsoek na `n sitplek. Die kerk was vol ge­pak en daar was nie ‘n enkele sitplek oop nie. Van die gemeentelede lyk al redelik on­ge­mak­lik oor die student, maar niemand sê ‘n woord nie. Billy kom al nader en nader aan die preekstoel. Hy besef uiteindelik daar is geen sitplek be­­skikbaar nie, en maak hy homself tuis op die mat voor die preekstoel.

Teen dié tyd is die gemeentelede alreeds baie opgetrek oor die situasie en die atmosfeer is so dik jy kan dit amper met ‘n mes sny. Op dié stadium besef die prediker dat een van die ou­derlinge, van heel agter in die kerk, op pad is na Billy toe. Die ouderling is reeds in sy tag­tigs, het silwer-grys hare en ‘n driestuk pak aan. ‘n Godvresende man, baie elegant, statig en hoflik. Hy stap met ‘n kierie en terwyl hy sy weg baan na die jongman, sê elkeen vir hulself, dat hulle nie die ouderling kan kwalik neem vir dit wat hy van plan is om te doen nie. Dit neem die ouderling ‘n hele tydjie om die jong­man uit­eindelik te bereik. Die kerk is dood­stil, behalwe die ge­klik van die ouderling se kie­rie op die vloer. Al­le oë is vasgenael op hom en die gemeente­lede haal skaars asem. Die prediker kan nie eens aangaan met die preek, tot­dat die ouderling gedoen het wat hy moet doen nie. Toe die ouderling by die jongman kom, laat val hy sy kierie op die mat langs die jongman. Met groot moeite sak hy af en gaan sit langs Billy, sodat die jongman nie alleen moet voel nie.

Die hele gemeente voel hoe die emosies in hul­le opwel. Die prediker kry uiteindelik beheer oor sy eie emosies en sê: “Wat ek vandag gaan preek, sal julle nooit onthou nie. Wat julle so pas gesien het, sal julle nooit vergeet nie.”

Die gemeente het `n lewende Bybel gesien. Wees versigtig hoe jy leef. Jy mag dalk die enig­ste Bybel wees wat sommige mense ooit sal lees. Jesus se lering en gesindheid van ver­draagsaamheid en meegevoel is weerspieël.

“Here, vandag wil ek leef soos U van my verwag.”