“Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (8)
’n Week na die dranksugtige regsgeleerde, dr.C.I.Scofield, se bekering, dring die werklikheid van die nuwe lewe wat hy binnegegaan het, tot hom deur. Oor hierdie nuwe lewe het Paulus, wie se eie bekering ’n totale lewensverandering was, geskryf: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen…” (2 Kor.5:17,18). In daardie eerste week ontvang Scofield ’n groot bemoediging in sy hart. Hy sê hy stap in ’n straat van St. Louise by ’n kunswinkel verby. In die uitstalvenster hang ’n prent van Daniel in die leeukuil. Dit toon hom waar hy tussen die leeus opkyk om die koning te antwoord: “My God het sy engel gestuur om die bekke van leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie…” (Dan. 6:22,23). Toe hy daar voor die prent staan en daarna kyk, vloei gerusstelende geloof en hoop in sy hart in. Hy sê vir homself: “Om my is baie leeus – my ou gewoontes en sondes, ou vriende, kroeë in hierdie straat af. Maar God wat die leeus se bekke gesluit het om Daniel nie te verskeur nie, sal my ook bewaar!” God het Daniël nie van die leeukuil bewaar nie, maar ín die leeukuil was Hy by Daniel om hom veilig te hou.
God voel vír ons, en sáám met ons, as ons in versoeking kom: “God sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan”(1 Kor.10:13). “Omdat Jesus self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb.2:18).
“Here, vandag skuil ek by U in die versoekingsoomblik”