Wo 24 Sept: Die Lewe wat Tel

SKRIFDEEL Psalm 40.

“Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê, ’n loflied van ons God” (4).

Prof. dr. J. C. G. Kotzé, ook bekend as oom Ko­lie, was in die veertiger jare van die vorige eeu die N.G.Kerk se spesiale prediker en later Sekretaris van Evangelisasie. Op uitnodiging het hy gemeen­tes besoek en dan vir 10 dae ’n diensreeks gehou. Baie mense het onder sy prediking tot bekering gekom. Hy het later teo­logiese professor aan die Uni­versiteit van Stel­len­bosch geword. Hy was van nature ’n begaafde en uitnemende mens. As stu­dent was hy elke dag voorbereid vir enige vorm van ek­sa­men. Elke dag van sy lewe was hy op da­tum! Dit was egter die genadewerk van die Here in sy lewe wat hom so ’n krag in die Here se diens en ’n seën in baie mense se lewens gemaak het.

Hyself vertel dit soos volg: “Gebore en opge­voed in ’n Christelike huis, het ek van kindsbeen af ’n Christelike rigting ingeslaan. Verseker van my ver­­los­sing was ek egter nie. En toe op 13 Mei, as stu­dent op Stellenbosch, tienuur die aand na kerk, het die oomblik van opstanding uit die dode vir my siel gekom. Dit was of ek in ’n malende meul van son­debesef was. Ek het my­self ontdek as ’n af­grys­like, sondige monster. In daardie smart het ek vir die eerste keer in my lewe ontdek, ek is ’n verlore sondaar. Voorheen was ek doodgerus oor die ewigheid, want ek was, na my mening, te goed en godsdienstig om verlore te wees. Wel was daar baie sondes in my, maar wie doen nie sonde nie? En ek was darem tog ook taamlik godsdienstig met baie goeie dinge in my. Maar daardie aand het my godsdiens my in die teenwoordigheid van ‘n heilige God begewe. Ja, ek het onder die pynli­ke ont­nugtering gekom dat ek verlore was, so verlore, dat ek my van God verlate gevoel het. In daardie dood­se angs het my siel soos dié van Dawid na God geroep asof uit ’n kuil van slymerige modder.

“In my verlatenheid het ek Hóm ontmoet, onse Here Jesus Christus, wat van God verlate was, sodat ek nimmermeer van God verlaat sou word nie. Vir die eerste maal het die lig van die ewigheid waarlik in my siel ge­skyn. Salig was die rus waarin my siel daar­die nag weggesink het. Alles het anders ge­word.” Hy het my getrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my op vaste grond laat loop.(Ps.40: 2,3).

“Here, vandag glo ek dat U my ook liefhet en my ook uit die dood optrek en die ewige lewe gee.”