“Kyk, U het my dae ‘n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie …”(6) Ou Vertaling.
‘n Russies wetenskaplike,Dr. Alexander Bogomolets, het ‘n serum ontwikkel wat A.C. genoem is. Volgens hom sou hierdie serum die veroudering van die liggaam se weefsels vertraag. Sy verwagting was om die proses van ‘n mens se leeftyd tot 150 jaar te verleng. Hy het verklaar die Bybelse uitspraak wat die normale menslike leeftyd van 70 of 80 jaar bepaal, is ‘n onnodige beperking op die mens se leeftyd.
‘n Mens wil graag die tyd wat so vinnig verbysnel probeer rem. Skaars het die jaar begin, voel dit, of ons trek alweer oor die helfte van die jaar en voor ons ons oë uit vee, is dit Kersfees en weer ‘n nuwe jaar. Gouer as wat ‘n mens dit verwag, betree ons daardie belangrikste dag van ons lewe: die oorgaan na die ewigheid toe – ons sterfdag. Ons merk hoe ons eie uurglasie leegloop, as die Bybel ons leeftyd op 70 of 80 jaar vasbind en ons uit ondervinding weet, min mense styg veel hoër as 90 jaar. Ongelukkig kon dr. Bogomolets sy navorsing nie voltooi nie. Hy is op 64-jarige ouderdom dood.
Dit is wysheid om van elke lewensjaar en elke geleentheid die beste gebruik te maak. Dit is groter wysheid om ons tyd wat verbygaan ‘n ewigheidswaarde te gee. Die Here Jesus het vir ons die ewige lewe ontsluit deur sy kruisdood en opstanding. Deur geloof in Christus as ons Verlosser en ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God na sy Woord, bewerk die Heilige Gees ewige lewe in ons. Dit is Paulus se trant in Romeine 13:11-14: “Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het … julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”
“Here, vandag wil ek hiérdie dag se groot waarde opnuut waardeer en benut.”