Dins 30 Sept: Ons Jare Glip Vinnig Verby

Lees Psalm 39:1-7

“Kyk, U het my dae ‘n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie …”(6) Ou Vertaling.

‘n Russies weten­skap­like,Dr. Alexander Bogomolets, het ‘n serum ontwikkel wat A.C. genoem is. Volgens hom sou hierdie serum die veroude­ring van die liggaam se weefsels vertraag. Sy ver­wag­ting was om die proses van ‘n mens se leeftyd tot 150 jaar te verleng. Hy het verklaar die By­belse uitspraak wat die normale menslike leef­tyd van 70 of 80 jaar bepaal, is ‘n onnodige beperking op die mens se leeftyd.

‘n Mens wil graag die tyd wat so vinnig verbysnel pro­beer rem. Skaars het die jaar begin, voel dit, of ons trek alweer oor die helfte van die jaar en voor ons ons oë uit vee, is dit Kersfees en weer ‘n nuwe jaar. Gouer as wat ‘n mens dit verwag, betree ons daardie be­lang­rikste dag van ons lewe: die oorgaan na die ewigheid toe – ons sterfdag. Ons merk hoe ons eie uurglasie leegloop, as die Bybel ons leeftyd op 70 of 80 jaar vasbind en ons uit ondervinding weet, min mense styg veel hoër as 90 jaar. Ongelukkig kon dr. Bogomolets sy na­vor­sing nie voltooi nie. Hy is op 64-jarige ouderdom dood.

Dit is wysheid om van elke lewensjaar en elke ge­leentheid die beste gebruik te maak. Dit is groter wysheid om ons tyd wat verbygaan ‘n ewigheids­waarde te gee. Die Here Jesus het vir ons die ewige lewe ontsluit deur sy kruisdood en opstan­ding. Deur geloof in Christus as ons Verlosser en ‘n lewe van ge­hoorsaamheid aan God na sy Woord, bewerk die Heilige Gees ewige lewe in ons.  Dit is Paulus se trant in Romeine 13:11-14: “Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale ver­los­sing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het … julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”

“Here, vandag wil ek hiérdie dag se groot waarde opnuut waardeer en benut.”

Ma 29 Sept: Voel Veilig

Lees Psalm 57 (Dawid se woorde)

“Wees my genadig, o God! … onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is … Ek voel weer veilig, o God … Ek wil ‘n lied sing … want U liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke!” (2,8,11)

In Preacher’s Lantern skryf William Gurnall oor ‘n tyd toe die London Bridge met huise bebou was. Hy vertel die bewoners van die huise wat op die brug gebou was, het snags net so vas en rustig ge­slaap as die inwoners van die huise in Whitehall of Cheapside. Die see se branders het onder die brug deur gestorm en gedreun, maar dit het die in­woners van die huise op die brug nie ontstel nie. Die branders kon hulle nie skaad nie. Hulle het veilig gevoel, want hulle het geweet die brug rus op groot, sterk pilare. In Psalm 57, skryf Gurnal, het Da­­wid onder net so ‘n stormende gedreun van ge­vare verkeer. Dawid het hom, volgens die Psalm se in­lei­ding, in die grot van Adullam, waar hy vir die vervolging van sy groot vyand, koning Saul ge­skuil het, be­vind. In daardie gevaarlike posisie voel Dawid veilig, omdat hy by God skuil, en hy sing: “Ek voel weer veilig…”

Om ons is daar ook dikwels die gedreun van om­­­standig­­heidsbranders wat ons bang maak. As ons meer bewus kan wees van God se liefde en ge­trou­heid, voel ons onder die aanslag van bedrei­ging veilig. So ‘n vertroue in God is nie ‘n natuur­li­ke, menslike bewussyn nie. Die Heilige Gees wek hierdie vertroue op in ons hart as ons in die Woord al die beloftes van God se liefde en getrouheid lees. Jesus het dit baie eenvoudig vir sy dissipels geleer: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie…” (Mat.10:29-31). En Petrus bemoe­dig ons ook: “Onderwerp julle daarom in ne­de­rig­heid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle”

“Here, vandag skuil ek met geruste hart by U.”

Do 25 Sept: So Naby

SKRIFDEEL Hebreërs 4: 15 – 16

“Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie …”(15).

Jesus het Homself die Seun van die mens ge­­noem, omdat God in Hom die hele end ge­kom het tot waar ons is, tot in ons diepste nood. So het Hy kom inbreek in ons ge­vange­nis; kom inkruip onder ons sondelas; ons in sy arms kom neem en soos die verlore skaap, ons op sy skouers gesit, om ons terug huis toe te dra. In die mens Jesus het God tot by ons gekom. Hy kan ons verstaan; Hy kan met ons medelye hê. “Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barm­har­tige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb.2:17,18).

Ons kan aan sy boesem leun; ons kan gryp aan sy sterk arm; ons kan opkyk in sy oë; ons kan lag, roem, snik en ween aan sy voete. Hy ver­staan. Wanneer almal die hoof skud, dan nog fluister Hy ons in: “Staan op, jy kan nog oorwin. Ek ken dieselfde stryd. Ek sal jou leer om te oorwin.” Dit is hoe naby Jesus nou aan ons is.

“Here, vandag kom ek na U toe. U het so naby aan my gekom.”

Vry 26 Sept: Geen Sambrele Nie

SKRIFDEEL Lukas 18: 1 – 8

“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? … Ek sê vir julle dat Hy sal hulle help, en gou ook!” (7,8)

Tydens ‘n langdurige droogte is besluit om ’n dag van gebed vir reën te hou. Baie mense het gekom en die gebede was ernstig en dringend. ’n Klein dogtertjie het met groot oë al­les aanskou en aangeluister. Later fluister sy vir haar pa: “Glo die mense regtig dit gaan reën?” “Natuurlik,” fluister haar pa gesteurd terug, “anders sou hulle mos nie kom bid het nie.” Na ’n paar oomblikke fluister sy weer: “Maar niemand het dan ’n sambreel saamge­bring nie.” Kinderlike ge­loof beteken om soos ’n kind te dink en te glo: God hoor en God gaan antwoord en ’n mens moet vir die gebeds­antwoord voorberei.

Vir gebedsverhoring is ’n skoon hart nodig. Geen be­wuste ongehoorsaamheid, geen bewus­te sonde, geen bewuste twisgevoel teen iemand anders nie. “As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles…as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons…doen wat Hy goedvind” (1Joh.3:20,21).

Soos ouers soms tot die beswil van ’n kind vir die kind “nee” sê, sê God ook soms vir ons “nee”. Ons hart moet naby genoeg aan God wees om dit te hoor en te verstaan, soos Paulus ver­staan het toe die Here vir hom die “doring in die vlees” nie wou wegneem nie.“Drie maal het ek die He­re ge­bid dat dit…weggeneem moet word. Sy an­t­woord was: ‘My genade is vir jou genoeg” (2 Kor.12:7).

Ons deel ook in die beloftes wat Jesus vir sy dis­sipels gegee het. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun ver­heerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh.14:13,14).

“Here, vandag kom ek om U aan te roep, U my nood te vertel en te weet U hoor en help my.”

Wo 24 Sept: Die Lewe wat Tel

SKRIFDEEL Psalm 40.

“Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê, ’n loflied van ons God” (4).

Prof. dr. J. C. G. Kotzé, ook bekend as oom Ko­lie, was in die veertiger jare van die vorige eeu die N.G.Kerk se spesiale prediker en later Sekretaris van Evangelisasie. Op uitnodiging het hy gemeen­tes besoek en dan vir 10 dae ’n diensreeks gehou. Baie mense het onder sy prediking tot bekering gekom. Hy het later teo­logiese professor aan die Uni­versiteit van Stel­len­bosch geword. Hy was van nature ’n begaafde en uitnemende mens. As stu­dent was hy elke dag voorbereid vir enige vorm van ek­sa­men. Elke dag van sy lewe was hy op da­tum! Dit was egter die genadewerk van die Here in sy lewe wat hom so ’n krag in die Here se diens en ’n seën in baie mense se lewens gemaak het.

Hyself vertel dit soos volg: “Gebore en opge­voed in ’n Christelike huis, het ek van kindsbeen af ’n Christelike rigting ingeslaan. Verseker van my ver­­los­sing was ek egter nie. En toe op 13 Mei, as stu­dent op Stellenbosch, tienuur die aand na kerk, het die oomblik van opstanding uit die dode vir my siel gekom. Dit was of ek in ’n malende meul van son­debesef was. Ek het my­self ontdek as ’n af­grys­like, sondige monster. In daardie smart het ek vir die eerste keer in my lewe ontdek, ek is ’n verlore sondaar. Voorheen was ek doodgerus oor die ewigheid, want ek was, na my mening, te goed en godsdienstig om verlore te wees. Wel was daar baie sondes in my, maar wie doen nie sonde nie? En ek was darem tog ook taamlik godsdienstig met baie goeie dinge in my. Maar daardie aand het my godsdiens my in die teenwoordigheid van ‘n heilige God begewe. Ja, ek het onder die pynli­ke ont­nugtering gekom dat ek verlore was, so verlore, dat ek my van God verlate gevoel het. In daardie dood­se angs het my siel soos dié van Dawid na God geroep asof uit ’n kuil van slymerige modder.

“In my verlatenheid het ek Hóm ontmoet, onse Here Jesus Christus, wat van God verlate was, sodat ek nimmermeer van God verlaat sou word nie. Vir die eerste maal het die lig van die ewigheid waarlik in my siel ge­skyn. Salig was die rus waarin my siel daar­die nag weggesink het. Alles het anders ge­word.” Hy het my getrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my op vaste grond laat loop.(Ps.40: 2,3).

“Here, vandag glo ek dat U my ook liefhet en my ook uit die dood optrek en die ewige lewe gee.”

Di 23 Sept: Die Lewensterminus

SKRIFDEEL: 2 Petrus 3: 1 – 13 Ou Vertaling

“…waardeur die toenmalige wêreld met water oor­stroom is en vergaan het…die teenswoordige… aar­de…word vir die vuur bewaar teen die dag van die verderf van die goddelose mense (6,7).

“Hoe lyk die aarde, van `n 10 000 me­ter hoog­te af?” Dit is net een van die vrae, wat die veteraan vlieënier, Mitsuo Ya­ma­da vra, wanneer hy dwarsoor Japan sy “Gaan na die lugruim”-lesings aan­bied, om kinders te leer oor om­ge­wings­kwessies wat ons aard­bol be­dreig. “Ek werk vir ʼn lugredery en die lugruim is my werkplek,” sê hy. “Dit is my plig om men­se te vertel hoe die om­ge­wing be­skadig word!” Vir die afgelope 35 jaar vlieg hy JAL-vliegtuie. Die afgelope 7 of 8 jaar neem hy verande­ringe waar op die oppervlakte van die aar­de. Hy sien hoe ʼn grys waas die lugruim van Sjina bedek, ʼn rooi gety oor die Suid-Sji­nese see versprei en stroke van die In­do­nesiese reënwoud ver­dwyn. Hy noem dit waarskuwings­te­kens vir ons aarde. (Yomiuri Nuus- G. Yonei, 2008-08-31)

Neil Verwey van Japansending stuur vir ons hierdie storie en voeg by: God se standpunt oor die toekoms van die aarde is duidelik beskryf in die Bybel: “Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en te­same in barensnood is tot nou toe” (Rom.8:22). Die aarde sal sonder twyfel vernietig word, maar slegs volgens God se plan. “Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense (2 Petrus 3:7).

God is gereed om oordeel oor die wêreld uit te spreek! In die tussentyd is ons Chris­tus­ge­we taak, om die verlorenes, wie andersins sal omkom saam met die aarde, te wen vir Christus. “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en ver­smelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ʼn nuwe aarde waar­in geregtigheid woon” (2 Petrus 3:11-13).

Wanneer die heelal verbrand en die aarde soos ons dit ken verdwyn, sal die toekoms van die oorblyfsels van die mensdom wat in God glo, so helder soos die beloftes van God se onfeil­bare Woord skyn. Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie (Jes. 65:17). Ons weet nie wanneer God al hierdie dinge sal laat geskied nie, so laat ons gereed wees vir daardie wonderlike dag!

Nie hierdie aarde en hierdie wêreld moet ons lewensterminus wees nie, maar God se nuwe aarde en hemel wat die Here Jesus vir ons met sy bloed gekoop het.

“Here, vandag wil ek gereed wees vir u koms.”

Ma 22 Sept: 'n Klein Bydrae

SKRIFDEEL: Johannes 6: 1 – 15

“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” (9).

’n Dogtertjie staan by ’n klein kerkie, maar sy word deur die man by die deur weggestuur. Daar is net nie meer plek in die kerkie nie. Die pre­di­kant loop toe juis by haar verby. “Ek kan nie Sondag­skool toe gaan nie,” snik sy toe hy vra hoekom sy bui­te staan en huil. Hy sien haar ongekamde hare, slordige en vuil rokkie en be­sef dadelik hoekom sy eintlik weg­gestuur is. Hy neem haar saam met hom in die kerk in en kry vir haar plek in ’n Sondagskoolklassie. Twee jaar later sterf die dogtertjie, in ’n armoedige kamer­tjie, in die stad se agterbuurt. Haar ouers gaan vertel dit vir die goedhartige predikant wat hul dog­ter­tjie se vriend ge­word het. Hulle vra hom om haar begrafnis te reël. Toe hulle haar weg­neem, val ’n gehawende rooi beur­sie uit haar kle­re uit. In die beursie is 57c en ’n briefie in haar kin­der­like handskrif: “Dis om te help om die kerk groter te bou.” Twee jaar se spaargeld! Die predikant lees die briefie met betraande oë en hy weet wat hy gaan doen. Daardie Sondag wys hy vir sy ge­meente die beursie en lees die briefie. Hy daag die diakens uit om genoeg geld in te vorder om die kerk groter te bou. ’n Koerant hoor daarvan en plaas die storie. ’n Ryk eien­domsagent lees dit en bied die kerk ’n stuk grond aan, wat baie dui­sende werd is. Die kerk kan nie so ’n groot bedrag betaal nie. Hy bied aan om die grond vir 57c aan die kerk te ver­koop. Dit ontroer die hele gemeente se hart en bin­ne vyf jaar bereik die dogtertjie se oorspronk­like 57c deur ander do­na­sies $250 000. ‘n Groot bedrag vir daardie tyd!

Ek haal die Engelse verhaal nou letterlik aan: When you are in the city of Philadelphia, look up Temple Baptist Church, with a seating capacity of 3 300. And be sure to visit Temple University, where thousands of students are educated. Have a look, too, at the Good Samaritan Hos­pi­tal and at a Sunday School building which houses hundreds of beautiful children, built so that no child in the area, will ever need to be left outside during Sunday school time. In one of the rooms of this building may be seen the picture of the sweet face of the little girl whose 57c, so sa­cri­ficially saved, made such remarkable history. Alongside of it is a portrait of her kind pastor, Dr. Russel H. Conwell, author of the book, Acres of Diamonds.”

Die vyf brode en twee vissies het in Jesus se hande genoeg kos geword om die duisende te voed en nog mandjies vol te laat oorbly. Dit wat ons binne ons klein vermoë vir die Here gee of doen of getuig, word in sy hande die oorvloed wat sy koninkryk opbou. Die lewe gerig op die Here Jesus, aan Hom toegewy en bestuur deur die Hei­lige Gees, het in God se hand groot krag, al is die aardse voorkoms klein en onopsigtelik.

“Here, vandag is ek en wat ek het tot U beskikking.”

Vry 19 Sept: Sy Hande

SKRIFDEEL Matteus 25: 34 – 40

“Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (40).

`n Kerk is gedurende die vorige oorlog in Strasbourg so verwoes, dat net `n hoop rommel oorgebly het, vertel Sunday School Times. So het die mense gedink, totdat hulle die rommel begin verwyder het. Onder die rommel was `n beeld van Christus wat feitlik on­geskonde was. Al skade aan die beeld was die twee hande wat afgebreek het. Die gemeen­te het die kerk begin herbou. `n Beeld­houer het die beeld van Christus gesien en aange­bied, om sonder koste vir die beeld twee an­der hande te maak. Die kerk­raad het die vriendelik aanbod aangehoor en oorweeg, maar toe besluit om nie daarvan gebruik te maak nie. Hoekom wou hulle dit nie laat doen nie? Sunday School Times se woorde: “Our broken statue touched the spirits of men, but that He has no hands to minister to the needy or feed the hungry or enrich the poor – except our hands – He inspires us to perfrom.”

Toe Christus op aarde was, het sy eie han­de liefdedade aan ander uitgevoer, maar Hy is nou in die hemel. Wie sal nou die werk doen? Sy liggaam op aarde, sy gemeente, die ge­lo­wiges, elke Christen. Die Heilige Gees wek God se wil in ons harte en dan doen óns hande die dinge wat die Here gedoen wil hê. Is my hande tot sy beskikking?

“Here, vandag gee ek my liggaam vir U om te gebruik.”

Do 18 Sept: 'n Intieme Binnekring

SKRIFDEEL: Johannes 14 : 15 – 31

“Nog net `n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe” (19)

In Moody Monthly vertel Dr. William Ward Ayer, van `n Sweedse ou dame wat haar pre­dikant oor die kole haal, omdat hy in sy preek be­­weer het Jesus is `n Jood en sy taal was Ara­mees. Hy is totaal verkeerd, sê sy vir hom. Je­sus was `n Sweed en Hy het Sweeds ge­praat. Die predikant antwoord geduldig: “My liewe suster, jy sal `n probleem hê om dit te bewys.” “Glad nie,” antwoord sy, “hier het ek die be­wys daar­voor.” Sy haal haar Sweedse Bybel uit en wys hom al Jesus se woorde was in Sweeds.” Hieroor skryf dr. Ayer: “How glad I am that she thought Jesus was a member of her race, and that I think of Him as a member of my race!”

Ons omgang met Jesus is in ons eie taal. Hoe bevoorreg is ons om sy woorde in Afri­kaans te hê en in ons gebede met Hom Afri­kaans te praat! En so voel elkeen oor Jesus in sy of haar eie taal. Soos Hy as God, mens geword het, het hy ook na ons eie omstandig­hede toe ingekom. Deur sy Heilige Gees se werking in ons eie hart, maak Jesus Homself deel van ons eie, persoonlike omstandighede.

“Here, vandag geniet ek u eie nabyheid.”

Wo 17 Sept: In Volle Lig

SKRIFDEEL : Efesiërs 5: 6 – 20

“Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is….en Christus sal jou lewe verlig” (8,9,14).

`n Insident in Lord Tennyson se lewe, toe hy nog as Poet Laureate, bekend was, word deur Gospel Herald vertel. Hy het eendag saam met `n vriend in dié se tuin geloop en na die blomme en plante gekyk, terwyl hulle oor allerlei belang­ri­ke, huidige gebeurtenisse gesels. Die vriend, `n toe­gewyde Christen, het geloop en soek na `n geleentheid om met Tennyson oor sy ver­hou­ding met die Here Jesus Chistus te praat. In `n stil moment van hulle gesprek neem hy die dig­ter aan die arm en vra sag: “Wat dink jy van Jesus Christus?” Gospel Herald skryf: “Tenny­son pointed to a flower blooming in all its beauty by the pathway and said: ‘As the sun is to that flower, so Jesus Christ is to me.’”

Die Heilige Gees dra geestelike energie en warm­te en liefde vir die Here Jesus oor na ons harte toe, soos die son daardie blom laat blom en bloei het. Ons stiltetyd en openheid vir die werking van die Heilige Gees deur God se Woord in ons hart, is noodsaaklik in ons lewens.

“Here, vandag is U my krag en oorwinning.”

Di 16 Sept: Die Lewende Bybel

SKRIFDEEL: Galasiërs 5: 13 – 26

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (25).

Sy naam is Billy. Hy het woeste hare, dra ‘n T-hemp met gate in, jeans en geen skoe­ne nie, stuur Maria van der Merwe, `n gereeld e-posleser, vir ons `n storie. Op kollege het hy `n gelowige geword. Oor­­kant die straat van die kol­legekampus af was ‘n netjiese en baie kon­ser­watiewe kerk. Hulle wou ‘n bediening begin vir die kollege­studente, maar het nie geweet hoe om dit te begin en uit te voer nie.

Eendag besluit Billy om die diens in die kerk by te woon. Kaalvoet stap hy die kerk in, met sy gewone T-hemp, jeans en wilde hare. Die diens het reeds begin en Billy stap in die paad­jie af, opsoek na `n sitplek. Die kerk was vol ge­pak en daar was nie ‘n enkele sitplek oop nie. Van die gemeentelede lyk al redelik on­ge­mak­lik oor die student, maar niemand sê ‘n woord nie. Billy kom al nader en nader aan die preekstoel. Hy besef uiteindelik daar is geen sitplek be­­skikbaar nie, en maak hy homself tuis op die mat voor die preekstoel.

Teen dié tyd is die gemeentelede alreeds baie opgetrek oor die situasie en die atmosfeer is so dik jy kan dit amper met ‘n mes sny. Op dié stadium besef die prediker dat een van die ou­derlinge, van heel agter in die kerk, op pad is na Billy toe. Die ouderling is reeds in sy tag­tigs, het silwer-grys hare en ‘n driestuk pak aan. ‘n Godvresende man, baie elegant, statig en hoflik. Hy stap met ‘n kierie en terwyl hy sy weg baan na die jongman, sê elkeen vir hulself, dat hulle nie die ouderling kan kwalik neem vir dit wat hy van plan is om te doen nie. Dit neem die ouderling ‘n hele tydjie om die jong­man uit­eindelik te bereik. Die kerk is dood­stil, behalwe die ge­klik van die ouderling se kie­rie op die vloer. Al­le oë is vasgenael op hom en die gemeente­lede haal skaars asem. Die prediker kan nie eens aangaan met die preek, tot­dat die ouderling gedoen het wat hy moet doen nie. Toe die ouderling by die jongman kom, laat val hy sy kierie op die mat langs die jongman. Met groot moeite sak hy af en gaan sit langs Billy, sodat die jongman nie alleen moet voel nie.

Die hele gemeente voel hoe die emosies in hul­le opwel. Die prediker kry uiteindelik beheer oor sy eie emosies en sê: “Wat ek vandag gaan preek, sal julle nooit onthou nie. Wat julle so pas gesien het, sal julle nooit vergeet nie.”

Die gemeente het `n lewende Bybel gesien. Wees versigtig hoe jy leef. Jy mag dalk die enig­ste Bybel wees wat sommige mense ooit sal lees. Jesus se lering en gesindheid van ver­draagsaamheid en meegevoel is weerspieël.

“Here, vandag wil ek leef soos U van my verwag.”

Ma 15 Sept: Ontspan

SKRIFDEEL: Jesaja 43: 1 – 4

“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (1)

’n Ouma in West Virginia het nog nooit vlieg­tuig gery nie. Haar kleinseun was ’n geesdriftige vlie­ënier. Op ’n dag oorreed hy haar om saam met hom in die vliegtuig op te gaan. Teësinnig wil­lig sy in. Na ’n kort vlug land hulle weer veilig. “En toe, Ouma. Hoe het dit gevoel?” wil hy plesierig weet. Sonder geesdrif antwoord sy: “Ek het in die vlieg­tuig opgegaan, ek het in die vliegtuig geland, maar ek nie vir ’n oomblik my gewig op hom neergesit nie!” Roy Zuck merk op: “That fearful, distrustful grand­­ma is like many of God’s children. In all His great­ness, we too often neglect to rest com­pletely in His all powerful hands.”

Augustinus het gesê: Vertrou die verlede toe aan God se genade (ons het vergifnis no­dig); die hede aan sy liefde (ons het aandag nodig); die toekoms aan sy voorsie­nigheid (ons het versorging nodig.) Corrie ten Boom het geskryf: Never be affraid to trust an unknown future to a known God.

“Here, vandag berus ek my in u krag.”

Vry 12 Sept: Ruimte vir Ander

SKRIFDEEL Filippense 4: 2 – 9

“Wees inskiklik teenoor alle mense” (5).

Die skilder, Turner, se werke was buiten­gewoon helderkleurig. Werke met stil­ler kleure het afgesteek langs Turner se wer­ke. In 1826, vertel Moody Monthly, het hy sy groot werk van Cologne by ’n uitstalling vertoon. Sy skil­dery met die oor­wel­di­gende helder kleure, is tussen twee werke deur Sir Thomas Law­rence, gehang. Lawrence het da­de­lik die effek bemerk wat Turner se helder kleu­re op sy stiller kleure gehad het. Dit het sy werke dof gemaak. Hy het ongelukkig en verneder ge­voel. Hy het tevergeefs beswaar gemaak teen die plasing van sy werke langs Turner s’n. Die hang van die skilderye was presies uitgewerk en kon nie weer verander word nie. Turner het be­sluit om iets aan die saak te doen. Daardie jare is kunstenaars toegelaat om geringe en nodige op­knappingswerk aan hulle skilderye te doen na dit reeds uitgestal is. Turner het sy helder kleure dow­wer gemaak en sy skildery was nie langer ’n be­dreiging vir Lawrence se werke nie. ’n Vriend van Turner, wat die tref­fende skilderstuk met die oorweldigende kleure voorheen gesien het, het ’n paar vriende saam­gebring om met sy vriend se werk te spog. Toe hulle voor die skildery kom, het hy verbysterd teruggesteier. Die vlammende blou lug was nou ’n dowwe, bruin kleur – die prent is bederf. Toe hy Turner sien, hardloop hy letterlik na hom toe om te vra wat met sy voor­treflike skildery gebeur het. Turner maak hom stil. “Dis nie so erg nie.” Hy knipoog vir hom. “Ek het roet gebruik wat na die uitstalling met water van die olieverf afgewas kan word. Ek kon dit net nie verdra om arme ou Lawrence so onge­lukkig te sien en te weet dit is deur my toedoen nie. Ek het toe minder, en hy meer geword.”

Ek weet nie of Turner ’n uitgesproke Christen was nie, maar sy gedrag, moontlik gebore uit die kuns­tenaar se aanvoeling van wat mooi en reg is, het iets verraai van die soort lewe wat Chris­tus by sy volgelinge soek: bevoordeel ’n ander, maak ’n ander gelukkig, moenie vir ’n ander ’n struikelblok en hindernis wees nie. Die geheim van die aantreklike Christenlewe is om deur die Heilige Gees uit Christus se eie lewe te leef en nie aangespoor te word deur ons eie natuurlike en gebrekkige motiewe nie. “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe” (Ef.4:15). Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig…want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry” (1 Pet.3:8,9).

“Here, vandag put ek my lewensmotiewe uit Jesus”

Do 11 Sept: Bedreiging en Bewaring

SKRIFDEEL: 1 Petrus 5: 8 – 11

“Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (8)

’n Week na die dranksugtige regsgeleerde, dr.C.I.Scofield, se bekering, dring die werklik­heid van die nuwe lewe wat hy binnegegaan het, tot hom deur. Oor hierdie nuwe lewe het Paulus, wie se eie bekering ’n totale le­wens­verandering was, geskryf: “Iemand wat aan Chris­tus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is ver­by, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen…” (2 Kor.5:17,18). In daardie eerste week ontvang Scofield ’n groot bemoe­dig­ing in sy hart. Hy sê hy stap in ’n straat van St. Louise by ’n kuns­winkel verby. In die uit­stal­venster hang ’n prent van Da­niel in die leeu­kuil. Dit toon hom waar hy tussen die leeus opkyk om die koning te antwoord: “My God het sy engel gestuur om die bekke van leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie…” (Dan. 6:22,23). Toe hy daar voor die prent staan en daarna kyk, vloei gerus­stelende geloof en hoop in sy hart in. Hy sê vir hom­self: “Om my is baie leeus – my ou gewoontes en sondes, ou vriende, kroeë in hierdie straat af. Maar God wat die leeus se bekke gesluit het om Daniel nie te ver­skeur nie, sal my ook bewaar!” God het Daniël nie van die leeukuil bewaar nie, maar ín die leeukuil was Hy by Daniel om hom veilig te hou.

God voel vír ons, en sáám met ons, as ons in versoeking kom: “God sal nie toelaat dat jul­le bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan”(1 Kor.10:13). “Omdat Jesus self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb.2:18).

“Here, vandag skuil ek by U in die versoekingsoomblik”

Wo 10 Sept: God se Liefde vir Ons

SKRIFDEEL : 1 Johannes 4: 7 – 21

“Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het… (10).

Die Gospel Herald vertel van ‘n belydende Chris­ten, wat ernstig siek geword het. Waar hy so siek in die bed lê, raak hy be­kom­merd oor die min liefde wat hy in sy hart teenoor God voel. Hy praat daaroor met ’n vriend wat hom kom besoek. Dit is hoe die vriend hom antwoord: “As ek netnou huis toe gaan, is een van my eerste take, om my baba op my skoot te tel. Moeg soos ek is, gaan haar teenwoordigheid vir my ’n aan­gena­me plesier wees, want ek het my kindjie met on­uitspreeklike teerheid lief. Sy het my nog nooit iets gegee nie, inteendeel, sy is vir my ’n groot uitgawe. Ek is nie ryk nie, maar geen geld in die wêreld kan haar by my koop nie. Hoekom is dit so? Omdat sy my lief het? Of omdat ek háár lief het? Gaan ek my liefde terughou totdat sy my eendag ook lief het? Wag ek tot sy eers iets goeds aan my doen, voor ek groter liefde op haar gaan uitstort?” Bewoë luister die siek man na hierdie praktiese vergelyking. “Nou sien ek dit!” roep hy uit. “Ek moenie aan my liefde vir God dink nie, maar ek moet dink aan God se liefde vir my. Nou weet ek ek het God ook lief!”

C.H.Spurgeon het gepreek oor 1 Joh. 4:19: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerte liefgehad het.” Spurgeon se eie woorde: “The love of God is before our seeking. He draws us before we run after him. We do not seek that love; that love seeks us. Today we have faith in Jesus Christ, but our faith did not come before his love; on the contrary, our faith rests in what that love has done for us of old – He died for us!”

Dit is goed om besorg te wees oor ons gevoel vir God en ons verhouding met Hom. Be­sorgd­heid in die hart oor ons gevoel teenoor God is ook ’n goeie teken. Die onbekeerde hart het geen gevoel vir God nie en is ook nie besorg oor hoe God oor hom voel nie. Die hart, we­der­ge­bore deur die Heilige Gees, uit geloof in Chris­tus as Verlosser, gee om oor hoe hy oor God voel en hoe God oor hom voel. Hy wil God behaag. Ons moenie ons gevóél ons fokuspunt maak nie. Wat ons oor God gló, soos sy woord ons leer en soos die Heilige Gees dit in ons hart oordra, maak saak. Sy woord sê Hy het ons lief; sy woord sê Hy sorg vir ons; sy woord sê Hy maak ons ryk met ’n ewige ryk­dom. Christus het vir ons die weg na God toe oopgemaak. Wat Hy aan ons belowe, kan ons glo, en daaruit die blyd­skap en die vrede put waar­na ons in ons har­te soek. “Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het” (Rom.5:11). “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom.15:13)”.

“Here, vandag verheug ek my oor U liefde vír my.”

Di 9 Sept: Plek in die Optog

SKRIFDEEL: Openbaring 7: 9 – 17

“…’n groot menigte…wat niemand kon tel nie…van elke nasie…hulle het hulle klere gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam…” (9,14).

Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, ver­tel van ’n man wat ge­droom het hy staan by die poort van die hemelstad. Hy aanskou ’n fees­vierende skare wat by die hemelpoort in­gaan en singende deur die hemelskare verwel­kom word. ’n Engel lig hom in: “Dit is die profete.” Die man skud sy kop. “Ek tel nie on­der hulle nie.” Kort daarna kom nog ’n jubel­ende optog verby, wat dieselfde verwelkoming ontvang. ”Dit is die apostels”, sê die engel. “Ek is nie een van hulle nie,” sug die man. Nie lank nie of nog `n skare kom singende verby. “Dit is martelare wat vir hulle geloof gely het.” “Ag, ek is nie werd om tussen hulle te wees nie!,” roep die man hartseer uit. Die volgende optog be­staan uit manne en vroue wat met vrug die evan­gelie op sendingvelde, in vreemde lande en in wêreldstede verkondig het. Die man be­dek sy gesig met sy hande en kreun: “Ek hoort nié onder hulle nie!”

Nog ’n skare kom verby, groter as enige van die voriges, met groter blydskap en hel­der­der sang. Die vaandeldraer heel voor is die moordenaar vir wie Jesus aan die kruis gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die para­dys wees.” Agter hom loop die sondares vir wie die Here Jesus gesê het: “Jou sondes is ver­gewe” Dan loop Saggeus, vir wie die Hei­land gesê het: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom…want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is.” En langs hom is die Samaritaanse vrou, vir wie Jesus gesê het: “…wie van die water ge­drink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.” Sy word gevolg deur die sipier van Filippi met sy hele gesin, vir wie Paulus gesê het: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” ’n On­tel­bare skare manne, vroue en kinders, volg vreug­de­vol op hulle hakke. Die man wonder wat­ter ontvangs húlle in die hemel gaan kry. Van agter die hemelmure gaan nou ’n gejuig op wat alles oortref en meng met die optog se eie ju­belende lied: “Ons redding kom van ons God wat op die troon sit en van die Lam”. Die engel sê met ‘n blye glimlag: “Dit is die groot sondaars, wat deur groot genade gered is!” “Dank, aan God!” roep die man uit. “Ek kan saam met húlle ingaan!” Op daardie oomblik word hy wakker.

“Here, vandag loof ek U, want ek kan ook só u hemel binnegaan.”

Ma 8 Sept: En Dan?

Skrifdeel: Hebreërs 9: 23 – 28

“`n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem” (27,28).

Een Sondagoggend preek `n gemeente se nu­we jong predikant oor bostaande teks, vertel The Pilot die storie. En voeg dan by: “As the congregation expected he was confronted at the close of the first service by an able young skep­tic, Burt Olney, who said: ‘You did well, but you know, I don’t believe in the infallibility of the Bible.’ ‘It is appointed unto men once to die, but after this the judgment,’ was the young pastor’s calm assertion. ‘I can prove to you there is no such thing as a judgment after death,’ declared the skeptic. ‘But men do die,’ the young pastor declared, ‘for it is appointed unto men once to die, but after this the judgment.’” Hierna volg `n he­le redenasie tussen die twyfelaar en die jong le­raar. “Laat ons die saak behoorlik argumen­­teer,” dring die ongelowige jong man aan. Die leraar antwoord: “Ek is hier om die Woord van God te verkondig en nie om daar oor te argu­men­teer nie.” Gebelgd draai Olney weg, met die woorde: “Ek dink nie jy weet genoeg van die Bybel om daaroor te argumenteer nie.” “’Per­haps you are right,’ was the calm rejoinder, ‘but please re­mem­ber this – It is appointed unto men once to die, but after this the judgement.’” Hierna het Burt Olney verergd weggestap. Maar terwyl hy wegstap, skryf The Pilot: “The very tree toads Olney heard on the way home sang the verse, and the stream he crossed, and the frogs seem­ed to croak, “Judg-ment, judg-ment, judg-ment.”

Die volgende oggend besoek Olney die pas­to­rie. Hy sê vir die leraar wat die deur oop­maak: “Ek het jou kom sien oor die teks in die Skrif wat jy gisteraand vir my gegee het. Dit brand in my siel in. Ek het `n aaklige nag deur­ge­bring. Ek kan nie van die woorde ontslae raak nie! Wat moet ek doen om gered te word?” The Pilot sluit die storie af met: “When he left, he was a child of God through faith in the finished work of Christ.”

Dit is groot genade van God as die Heilige Gees `n teks `n brandende werklikheid in `n mens se hart maak en geloof in die hart opwek, om in Christus Jesus as Verlosser te vertrou.

“Here, vandag glo ek U is my Verlosser.”

Vry 5 Sept: 'n Nul

Skrifdeel: 2 Korintiërs 12: 1 – 10

“…want as ek swak is, is ek sterk” (10).

Want wat is `n nul nou werd? Die boek se regte naam is En­cyclopedia of 7700 Illustrations. Toe sit ek net `n nul by, en dit maak dit, 77000 Illustra­tions! Dit het my aan die waarde van `n nul laat dink.
Ons spreekwoorde sê: Hy is `n nul op `n kon­trak; hy is `n ronde nul; van nul en gener waarde. Dit beteken `n nul het geen waarde nie. Ek dink aan die fout wat ek met die boek­naam gemaak het, en ek besef: dit hang af waar die nul staan! Agter die syfer een, maak die nul dit sommer tien. Agter honderd, maak die nul dit duisend. Só het my ekstra nul, die 7700 sommer 77000, gemaak!
In Paulus se oë was hy `n nul, maar agter Jesus was Paulus `n man met onskatbare waar­de. In die gewone lewe is dit so. In die geestelike lewe is dit so. Ek is `n nul, maar by iemand van waarde gevoeg, maak ek dit som­mer sterker. By Jesus gevoeg is ons, die nulle, baie werd. Ons kan die evangelie uitdra. Ons kan vir iemand die verstil tussen verlore gaan en gered word, beteken. Maar as die nul trots word en eerste wil staan, verval sy waarde en hy word maar net weer `n nul.

“Here, vandag wil ek wat swak is my by U voeg om deur U gebruik te word.”

Do 4 Sept: Nou of Nooit

Skrifdeel: Hebreërs 4: 1 – 13 Ou Vertaling

“Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle har­­te nie” (7).

Een aand, na die aanddiens in `n myn­dis­trik in Engeland, gaan praat `n fris myner, bekom­merd oor sy saligheid, met die prediker, vertel Gospel Herald die storie vir ons. Die prediker pro­beer hom dadelik help en verduidelik die weg van saligheid aan hom. Hy wys hom in die Bybel, Christus het “gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk.19:10). Almal wat in sy kruis­dood vertrou, word gered: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld weg­neem” (Joh.1:29). Die myner kan dit nie be­gryp nie; sy hart bly donker. Teen 11-uur die aand gee die prediker op en stel voor hulle moet die volgende dag weer bymekaar kom. “No, I won’t leave; it must be settled tonight or never!” haal Gospel Herald hom aan, en ver­volg dan: “Hours passed…but as the clock struck three, the light of the glorious Gospel suddenly burst upon him. He saw and believed the glorious fact that the work of Christ on the Cross had satisfied the justice of God on ac­count of his sin, and joy and peace filled his heart.” In die loop van die volgende dag word die dorp geskok deur `n harde slag. `n Deel van die dak van `n myn het ingestort. Gewillige hande werk hard om die puin op te ruim en by die manne wat toegeval het te kom. `n Harde kreun laat hulle vinniger werk en hulle bereik die bekeerde myner. “Life was not quite gone, for he was speaking. Eagerly they listened, and the words they caught were these: ‘Thank God it was settled last night.’”

Die ewigheid is `n te ernstige, te onver­my­de­li­­ke, te onverwagte saak, dat mens kan waag om die sekerheid van die redding van `n mens se siel uit te stel. “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2 Kor.6:2).

“Here, vandag wil ek oor my ewige heil sekerheid soek.”

Wo 3 Sept: Die Kanaal

SKRIF: Kolossense 2: 6 – 15

“Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit …  weggeneem” (14).

Charles Finney, die bekende herlewings­pre­di­ker van die 19de eeu, vertel van ’n dorp waar ’n gees­telike doods­heid geheers het. In dié dorp het ’n bejaarde grofsmid ge­woon. Hy het so gehakel, dit was pynlik om na hom te luister. Een Vry­dag, terwyl hy in sy werkswinkel wiel­ban­de kort, raak hy in sy gemoed beklem oor die vervalle toestand van die kerk en die baie on­bekeerde en onver­skillige mense in sy dorp. Hier­die onverklaarbare, inner­li­ke droefheid raak so hewig dat hy sy werk staak. Hy sluit sy winkel. Al­leen in sy winkel kniel hy op die vloer neer. Hy bring die hele middag deur met gebed tot God, om her­le­wing ook in hulle dorp te stuur. Die daar­op­vol­gende Son­­dagoggend, vra hy sy predikant hui­werig om vir daardie Sondagaand, ‘n biduur te be­lê. Die dominee is glad nie daarvoor lus nie, want aanddienste en bidure het lankal ophou bestaan. Toe die ou man egter aanhou pleit, stem hy in. Die biduur kan sommer in die pastorie gehou word, want hy verwag nie veel mense nie. Teen aand se kant begin mense aankom pastorie toe. Die sitkamer word vol, mense staan in die gang en in die eetkamer. ’n Bewoënd­heid heers. Ie­mand begin bid en bely met ont­roering sy sondes en vra die Here om hom te red. Ander innige ge­be­de volg. Meer as een bid later gelyk. Almal is on­der sondeoortuiging.  Herlewing het in die dorp be­gin. Later word dit duidelik, die algemene son­deoortuiging het daardie Vrydagmiddag, terwyl die ou man in sy smids­win­kel gebid het, in harte begin pos­vat. Dit was God se ge­nadige besoek aan daar­die dorp. Hy het daardie ou man se bid­dende hart as kanaal vir die herlewing gebruik.

Dwarsdeur die Bybel en ons kerkgeskiedenis vind ons, gebed is altyd God se kanaal waar­langs Hy sy seën stuur. Soms word saam gebid. Jesus se woorde: “Waar twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle”(Mat.18:19). Maar dikwels begin die Here sy seën stuur wanneer één persoon begin bid. Da­niël: “Daarom het ek my na die Here God gewend in ge­bed en smeking…(Dan. 9:2). ”Nehemia: “ek (het) dae lank getreur. Ek het gevas en gebid… (Nem.1:4).”  Die Heilige Gees leer ons en bekwaam ons om te bid: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom.26).

“Here, vandag wil ek vir u ’n kanaal wees om U seën langs te stuur.”

Di 2 Sept: Voordeligste

Lees Matteus 21:28-32

“Seun gaan werk vandag in die wingerd” (28)

Die uitvinder van reuse grondverskuiwing­masji­nerie, Robert G. LeTourneau, het eintlik bekend ge­raak, deur die reuse bedrae geld wat hy vir evan­­gelisasie- en sendingwerk geskenk het. In King’s Bussiness beskryf hy hoe sy kerk se jong­­mense gereeld een aand ’n week by ’n sen­ding­kerk dien­ste gaan hou het. As jongman het hy al­tyd met hulle saamgegaan. Een aand kon hy nie gaan nie. Daardie tyd was sy fabriek nog klein en hy moes die ontwerp van ’n nuwe masjien, waar­oor hyself nog nie seker was nie en wat die vol­gende dag deur kontrakwerkers vervaardig sou word, voltooi. Hy kon nie sy werk doen en ook nog die diens by die sendingkerk gaan hou nie. “The Lord and I had quite a struggle while I was trying to decide what to do,” skryf hy. Hy het nie geweet hoe hy die masjien nog die aand geteken gaan kry nie, maar hy het tog saam met die jongmense na die sendingdiens toe gegaan. Dit was ’n buiten­ge­wone geseënde aand. Ongeveer tienuur die aand kom hy weer tuis. Moeg, maar vol vreugde na die aand se bedrywigheid by die sendingkerk, gaan hy by sy tekenbord sit. Hy skryf: “I sat down at the drafting board. In about five minutes the outline and plan was as plain as it could be. And more, the little piece of machinery de­signed that night, has been the key machine in all that I have been building since. It pays to put God first.”

Nog nooit het dit iemand berou om God se be­lange eerste te stel nie, al lyk dit vir die oomblik of dit ’n nadelige gevolg gaan hê. Toe God Abraham gevra het om sy seun, Isak, te offer, het dit gelyk of hy sy seun gaan verloor. Hy het dadelik gehoor-saam, maar in plaas van sy seun te verloor, het hy ’n groot nageslag vir hom gewen. God het gesê: “Ek lê ’n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het…in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoor­saam (Gen.22:17,18).” Die slotsom van die Psalm­skrywer is: “Here, ek het besluit dit is vir my die belangrikste in die lewe om te maak soos U gesê het (Ps.119: 57 Lewende Bybel).” As ons God se be­lange ons eerste belang maak, sorg Hy vir ons.

“Here, vandag wil ek maak soos U vir my sê.”