Geen Skuiling

Lees 1 Korintiërs 6: 9 – 11. (Nuwe Lewende Vertaling)

Julle is vry­ge­spreek­te men­se op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het” (11).

Sommige van die Isle of Wright se kuste is vol grotte. ’n Man se geraamte is in een van hierdie grot­te gevind. Hy was ’n prisonier wat ontsnap het. Hy het in die grot geskuil met die hoop hy sou saam met een van die skepe wegkom. Die goeie geleentheid het nooit gekom nie. Hy kon nie waag om uit te kom nie. Sy krag het al minder geword. Sy lot was aaklig. So het hy eensaam gesterf. Hy het wel skuiling gevind, maar dit was ‘n bedrieglike en noodlottige skuiling.

Mense verlaat hulle soms ook op ’n be­drieg­like en ty­delike skuiling, bv. leuens of be­drog. ’n Kos­ba­re lewe word geslyt in die ge­­vaarlike skuiling van oneerlikheid. ’n Be­droewende skuiling is ook die on­eerlike voorgee van Christenskap, om in kerklike kringe aanvaarbaar te wees, maar daar was nooit ware bekering en ont­moeting met Christus nie. Nog ’n gevaarlike weg­kruipplek is nuwe gods­diens­beskouinge, omdat dit ’n mens se lewenstyl beter pas. Dit laat ruimte vir sondi­ge prak­tyke. Die be­drieg­likste skuilplek is on­kunde, wat jou met jouself tevrede laat voel, maar jou ewige sieleheil is in ge­vaar. Die Nu­we Lewende Vertaling van die Bybel gebruik in 1 Korintiërs 6:9 ’n bekende woord aan men­­se, wat tevrede voel om steeds met sondige prak­­tyke voort te ­gaan: Moenie julleself bluf nie. Die sin word voorafgegaan met hierdie waarsku­wing: Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie?

Ons het net één betroubare, blywende, wa­re skui­ling: Die kruisdood van Jesus vir ons, en, ás ’n mens by daardie skuiling ingegaan het.

Jesus, Rots, vir my geslaan, laat my nie verlore gaan!

U was self van God verlaat, laat u lyding, sonder maat,

My tot heil wees en tot krag teen die sondeskuld en mag.

Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas.

Ek kom vergewing vra; U het ook my skuld gedra!

U, geslaan tot heilsfontein, was my, Heiland, maak my rein!

“Here, vandag kom ek in U skuil.”

Die ou ruwe kruis

Lees 1 Petrus 2: 18 – 25

“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees” (24).

George Bennard het sy werk as evan­gelieprediker by die Heilsleër begin. Agt jaar later is hy in die Metodiste­kerk as leraar georden. Sy toegewyde bedie­ning as evan­gelis in die kerk was vir baie jare hoog aan­ge­skryf. Een keer het Bennard met ’n bedrukte hart, weens persoon­li­ke beproewing, na sy huis in Albion, Michi­gan terugge­keer. Hy het die beteke­nis van die kruis van Christus ernstig oordink en wat Pau­lus in Filippense 3:10 bedoel het, waar hy praat van ge­meenskap met die lyding van Christus: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy ly­ding deur aan Hom gelyk te word…”. Hy het lang ure be­gin deurbring met Bybelstudie, gebed en oordenking. Op ’n dag het die lig vir hom deurgebreek. Hy skryf daarvan: “I saw the Christ of the cross as if I were seeing John 3:16 leave the printed page, take form and act out the mea­ning of redemption. The more I contemplated these truths the more convinced I became that the cross was far more than just a religious symbol but rather the very heart of the gospel.” Tydens hierdie geestelike stryd in sy hart het die tema van “The Old Rugged Cross” in sy ge­dagte begin vorm. Op ’n dag begin die woorde en die me­lodie van die lied in sy gemoed oopgaan. Die Heilige Gees maak die kruis vir ’n mens ’n groter en gro­ter werk­likheid, as ons deur gebed en Bybelstudie ons har­­te vir Hom open: “Die Gees staan ons ook in ons swak­heid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woor­de gesê word nie. En God, wat die harte deur­grond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God vir die gelowiges” (Rom.8:26). Binne ’n kort tyd het hy die woorde en die melodie geskryf en dit vir Charles Gabriel, ’n leidende liedskrywer, ge­stuur. Gabriel het vir hom, in eie woorde, terug laat weet: “You will centainly hear from this song, Mr. Bennard.” Dit was profetiese woorde. Hierdie lied het een van die be­kendste geestelike liedere geword.

Daar’s ’n dierbare kruis, waar my Heiland bewys

Die liefde wat Hy vir my het;

Dáár is alles voldaan en die vyand verslaan,

Dáár word ek van sonde gered

O, die dierbare kruis, waar die uiterste prys,

Deur kosbare bloed is betaal;

Dáár is smarte gely en versoening verkry

Waar Jesus oorwinning behaal.

By die dierbare kruis sal ons loflied verrys,

Tot eenmaal daarbo om die troon.

Want eens is ons tuis in die Vader se huis,

Dan verwissel ons kruis met ’n kroon.

“Here, vandag aanskou ek U aan die ruwe kruis.”

Die Geheim van Krag

Lees Handelinge 1: 1 – 8

“… julle sal krag onvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem…tot in die uithoeke van die wêreld” (8).

Die beroemde Bostonse leraar, dr. A. J. Gor­don, het die wêreldskou in Chicago besoek, skryf Robert L. Sumner in sy boek Biblical Evangelism. Gordon is getref deur die krag en energie van ’n man, in helder Oosterse drag, wat sonder om te rus of sy gemaklike aksie te verminder, ure lank ’n pomp se slin­ger draai en daardeur ’n dik stroom wa­ter laat uit­spuit. Gordon gaan nader om die man van na­­der­­by te beskou. Verbaas sien hy die man is van hout gemaak. Dit is nie hy wat die pomp draai en die water laat spuit nie. Dit is die wa­terstroom wat die pomp draai en dít hou die man aan die gang. Sumner maak sy gevolg­trek­king: “Thus it is with those in the Lord’s work. It isn’t our efforts for Him that achieve the results. The flowing river of the Holy Spirit, channeled through our lives and lips, keeps us going and yields infinite results through our ministries.”

Ons voel swak, word moeg, gee moed op, maar ’n groter krag as ons eie krag, hou ons aan die gang, om die Here se werk te doen. Die Here sê vir Paulus, toe hy onder groot beproewing verkeer  “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor.12:9). Aan die Efesiërs skryf Paulus: “Ek bid dat Hy deur sy Gees … aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word… (Ef.3:16). En vir die Ko­los­sense bid hy: “Mag God…jul­le versterk en …die krag gee om in alle omstandighede met geduld te volhard” (Kol.1:11). By sy hemelvaart sê Jesus vir sy dissipels: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom…julle sal my getuies wees…(Hand.1:8).

“Here, vandag maak ek staat op u krag in my.”

Die Belangrikste Moment

Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou… die dag van redding” (2).

Die gevangeniskapelaan moes ’n sterwende, maar be­rug­te sak­keroller, in sy tronk­sel, in sy laas­te le­wens­oomblik­ke by­staan. Hy het ernstig en dring­end met hom gepraat en die weg van sa­lig­heid probeer ver­duidelik. Hy beklemtoon God se groot liefde vir son­daars en Jesus se lyding en sterwe aan die kruis: “So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, so­dat elkéén wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16). Hy pleit met die man, om soos die moordenaar aan die kruis, in hierdie laaste oomblikke van sy le­we, by Jesus redding te vra: “Dink aan my, Here, wan­neer U in u koninkryk kom” (Luk.23:42). Die hele tyd hou die man sy oë stip op die kape­laan geves­tig. Hy kniel by die man en bid vir hom. Toe hy weer reg­op kom, was die man dood. Tus­sen die vingers van sy reg­terhand, hang die goue ketting van die leraar se sakhorlosie. In hier­die be­lang­rikste mo­ment van sy lewe, was sy ver­har­de hart nie by wat die do­minee vir hom oor die ewigheid probeer sê nie, maar by die lok­kende goue ketting aan die dominee se sy.

’n Stukkie statistiek uit Richardsbaai se 1981 ge­meen­te­blad: Meer as 2¼-biljoen men­se leef op aarde. Elke jaar sterf 50 mil­. Elke maand sterf 4 166 466. Elke dag sterf 136 986. Elke uur sterf 5 707. Elke mi­nuut sterf 95. Elke sekonde sterf 2. Dit het u dalk 10 sekondes geneem om die paragrafie tot hier te lees: 20 mense het in die 10 se­kon­des gesterf. Oor ’n uur kan daar meer as 5 000 mense, wat op hierdie oomblik nog leef, dood wees.

Ons mag ­nie in die laaste sekonde, wat ons nog leef, ongered wees nie, want dan wag ’n ewig­heid van smart vir ons. Weet ú al Jesus is u Verlosser? As u twy­fel of nee antwoord, gebruik hierdie se­kon­­de om uit u hart te roep: “Here Jesus, red my!”  En ’n ewigheid in die hemel word u deel.

“Here, vandag gryp ek u redding vas.”

Die Belangrikheid van Gebed

Lees Eksodus 17:8-17

“Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, wanneer sy hand sak…, die Amalekiete” (11)

Dr. Torrey vertel van ’n dorpie waar die kerke nie gevorder het met die uitbreiding van die Here se koninkryk nie. Toe kom daar ’n wending. Binne een jaar het nagenoeg 200 mense tot bekering gekom. Het daar ’n nuwe dominee gekom? Nee. Is daar ‘n evangeliese veldtog gehou? Nee. ’n Paar toegewyde lidmate het bekommerd geraak oor die geestelike toestand in hulle dorp en het  op gereelde tye begin saamkom om te bid vir hulle eie en vir hulle dorp se geestelike vernuwing. Soms word baie vir die Here gedoen, maar daar word nie so baie gebid nie. Sonder gebed ly ons neerlaag en die vrug op ons werk ontbreek.

Om te bid, is ’n taak wat meer toewyding van ons eis, as om vir die Here te werk. Israel het ge­wen solank Moses sy hande opgehou het, want Amalek was sterker as Israel. Die ophou van Moses se hande, sy intree vir Israel by God, het die verskil gemaak. Ons lees nie dat Josua en sy krygsmanne moeg geword het nie. “Maar Moses se arms het begin moeg word …”(12) Ons vyand, die Satan, en die wêreld, is sterker as ons. Hy is nie bang vir wat ons vir die Here doen nie. Hy vrees ons gebede. Hy sal alles in sy vermoë doen om die kinders van die Here van hulle knieë, van gebed, af weg te hou. In die sendbriewe word die gelowiges gedurig aangemoedig om te bid, omdat dit so belangrik is en omdat dit so veeleisend is om te bid.  Gebed, voorbidding, is geseënde en vrug­bare werk vir die Here. “Ek versoek julle dan dringend …Stry saam met my deur vir my te bid (Rom.15:30); … bid gedurig vir al die gelowiges. Bid ook vir my …(Ef.6:20); Bid gedurig … bid ook vir ons …(1Tes.5:17,25); …bid vir ons …(2Tes.3:1); …hou aan vir ons te bid…(Heb.13:18).”

Gereelde, volhardende gebed verg geestelike dissi­pline. Dr. W. E. Sangster sê: “As ons bid as ons daarna voel, behaag ons onsself …maar as ons bid ook as ons nie daarna voel nie, dan bring ons na God toe nie net die in­houd van ons gebed nie, maar ’n gedis­si­plineerde gees: ons het teen ons neiging (of ons gerief) in ons af­spraak met Hom gehou.”

“Here, ek bid vandag, brei U koninkryk in hierdie wêreld uit.”

Vra Genade

SKRIFDEEL: Psalm 51

“Wees my genadig, o God, in u troue liefde…”

Good Company vertel die storie van `n ma, wat by Napoleon I, om genade vir haar seun gaan pleit het. Dit was die jongman se tweede oor­treding en die keiser het besluit hy is die doodstraf skuldig. Die ma se pleidooi: “Ek vra nie geregtigheid nie. Ek vra genade vir my seun.” Die keiser het geantwoord: “Hy verdien nie genade nie.” “Maar, my heer,” roep die moe­der huilend uit, “as hy dit verdien het, is dit nie genade nie. En wat ek vra is nie wat hy verdien nie, maar ek vra genade.” Die keiser het haar `n oomblik aangekyk en toe geant­woord: “Dan sal ek hom genadig wees. Hy hoef nie te sterf nie.”

Dit is ons posisie voor God. Ons is afhanklik van sy genade, dit wat ons nie verdien nie. Die mis­dadiger wat saam met Jesus gekruisig is, het geen geleentheid vir verdienste gehad nie. Aan die einde van `n skuldige lewe hang hy veroor­deeld aan die kruis. Hy wend hom tot Jesus: “’Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:42,43). Die ander misdadiger het dieselfde geleentheid gehad, maar hy het dit, weggevoer deur die omstan­ders se boosheid, by hom verby laat gaan.

 “Here, vandag pleit ek nie my verdienste nie. Ek vra genade om gered te word.”

Skoon

Lees 2 Korintiërs 6: 14 – 7: 1

“Laat ons ons dan reinig  van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsamheid aan God volkome aan Hom toewy” (7:1)

Sanyo Electric Co. verkoop ‘n drom­tipe was­mas­­jien, die Aqua, om klere mee te was, stuur Neil Verwey, sendeling in Japan, vir ons die berig. Dit was die klere nie met water nie. Dit het ‘n lug­was­funksie wat die krag van oksidasie ge­bruik om bakterieë dood te maak en reuke te ver­wy­der. Hierdie lug­was­funk­sie gebruik osoon, ‘n che­­miese stof, wat effektief is om die vuil­heid te ontbind.  Na omtrent 30 mi­nute is al die die klere is skoon..

Min huise is sonder ‘n klerewasmasjien. Twee faktore dra hiertoe by: ons leef in ‘n wêreld waar ‘n mens se kle­re daagliks vuil en vuiler word, en twee­­dens, die meeste van ons dra graag skoon kle­re.

Hierdie twee faktore gaan dieper as ons klere en ons liggaam. Dit is ook geestelik waar. In die wêreld waarin ons leef raak ons siel, ons hart, vuil. Ons sien, hoor, be­leef dinge wat ons innerlik vuil laat voel. As God se Heil­ige Gees deur sy woord ons van God bewus maak, word ons al dieper bewus van vuilheid in ons har­te. Dit is ‘n geseënde toestand as ons van sondevuilheid, on­­rein­heid, sondeskuld, bewus raak. Die Heilige Gees wek in ons die behoefte om geestelik skoon te wees. Oorvloedig skyn God se heilige lig uit sy woord op ons lewe: “Was julle, reinig julle…hou op met kwaad doen…,” en dan kom die wonderlike belofte van vergifnis en rein­iging: “Al was julle skarlakenrooi van son­de, julle sal wit word soos sneeu..” Ons Here, Jesus Chris­tus, het ‘n hoë en duur prys be­taal om vir ons hier­die harts­reiniging en siels­vergifnis te bewerk: “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons ge­meen­skap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7 Ou Ver.).

“Here, vandag soek ek reiniging van my sondes.”

Vra hiervoor

Lees Handelinge 16: 22 – 34

“’Menere, wat moet ek doen om gered te word?’ Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin’” (30,31)

In Christian Digest skryf iemand oor die lug­spoor­weg wat deur sy dorp loop. Een van die spoor­weg­sta­sies is naby `n begraafplaas, wat Cal­vary Ce­metery genoem word. Vir baie jare het die trein nie self by daardie stasie gestop nie. Iemand wat daar wou afklim, moes daarvoor vra. Sodra die trein die stasie, voor die begraafplaas­stasie, verlaat, maak die kaartjiesondersoeker die trein­wa se deur oop en roep: “Next station Cal­va­ry. Train stops on signal only. Anybody for Calvary?”

Dit is `n gelykenis van die lewenstrein, sê die skry­wer in Christian Digest. By al die lewen­stasies hou die trein self stil, skryf hy. “At Market Street, at School Street, at University Avenue, at Main street, at Vanity Fair, at Broadway, at Church Street, at Home Avenue. No special notice is needed, but to get off at Calvary, yes – that means a choice and an expressed desire.”

Ons verstaan wat die skrywer daarmee bedoel. Om by Jesus se kruis uit te kom, om gered te word, om Christen te word, moet `n definitiewe keuse uitgeoefen word. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12”).

 “Here, vandag kies ek U en neem ek U aan.”

Vrede in die hart

Lees Romeine 12: 9 – 218

“As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (18)

Rondom die werk van die skilder, Leonardo da Vinci, toe hy met sy beroemde skildery, Die Laaste Avondmaal, besig was, word verskillende insi­dente, wat geestelike waarhede vertolk, vertel. In die afgelope twee jaar het ek ‘n paar daarvan ge­bruik (en dit is ‘n versoeking om dit weer te herhaal, want vir myself is dit so mooi), maar hierdie volgende een dink ek is dalk nog onbekend.

Da Vinci was besig om in sy groot werk, Die Laaste Avondmaal, die Persoon van Jesus, en juis sy gelaats­trekke, te skilder toe hy en ‘n vriend van hom ‘n on­der­on­sie gehad het. In sy ergerlikheid het die skilder vir sy vriend ‘n paar baie onvriendelike en lelike dinge gesê. Hy het selfs sy vriend met wraak gedreig. Hy het na sy werk, die skil­dery,  toe teruggegaan en wou voortgaan om Je­sus se gesig te skilder. Hy kon egter nie vorder nie. Sy innerlike ontstemdheid het dit vir hom net onmoont­lik gemaak, om die trekke van teerheid en liefde op Jesus se gesig na vore te bring. Hy het opgestaan en sy vriend gaan soek en hom nederig om vergif­nis gevra. In sy hart het kalmte gekom. Hy het teruggegaan na sy taak toe en nou kon hy die teer en sagte uitdrukking op Jesus se gesig aanbring.

Ons as Christene in hierdie wêreld moet Jesus se Per­soon, by wyse van ons daag­likse lewe en woor­de van ons getuienis, na vore laat kom. Deur ons lewe moet ander Hom leer ken, en hiervoor is nodig ‘n binneste, ‘n hart, wat self vrede het. Jesus se laaste woorde aan sy dis­sipels was: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor jule kom, en julle sal my getuies wees…” (Hand.1:8). Die Heilige Gees bring die Persoon van Jesus, as ons inwo­nende Here in ons hart, in ons gedrag en gesindhede na vore.. As ons hart eg­ter ontstig is deur allerlei dinge – rusies, geskille met ander, nydig­heid, kwaai woorde, kwaadpraat – kan Jesus nie deur óns lewe aan ander oorgedra word nie.

“Here, vandag wil ek met vrede in my eie hart vir U ‘n getuie by ander wees.”

Rykdom in die Bybel

Lees Kolossense 1: 24 – 29

“Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heer­likheid. Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring’ (27,28).

In 1874 het die tante van Steven Marsh vir hom haar huis en haar familiebybel nagelaat, vertel Faithful Words. Nadat die begrafniskoste en ander agterstallige skuld be­taal is, het hy net ’n paar honderd dollar uitgekry. Hy het vir 35 jaar in re­latiewe armoede uit ’n klein staats­pen­sioen geleef. Uiteindelik het die armoede vir hom teveel geword en hy besluit om vir sy laaste jare by `n seun van hom te gaan woon. Die dag toe hy inpak neem hy die vergete Familiebybel in sy hande om dit in sy trommel te sit. Uit nuuskierigheid knip hy die koperknippe oop en slaan die Bybel oop. Ver­stom rus sy oë op ’n groot dol­lar­noot wat tussen die eerste twee blaaie ingevou is. Hy blaai verder. Oral, dwarsdeur die dik Bybel, kry hy dol­lar­note tussen die blaaie – altesaam $5 000. In daardie jare `n ontsaglike som geld. Ek haal Faithful Words aan: “He lived in poverty, and all the time within his reach there was the precious Bible containing thousands of dollars, sufficient for all his wants. He passed the Bible by. His eyes rested on it, perhaps his hands handled the old leather-bound Bible, with its brass clasps, but he did not open it once”. Watter spyt moes daar nie in sy hart gewees het nie. Hoe anders sou sy lewe gewees het as hy die Bybel net een keer oop­gemaak het!

Dit is `n lewensarmoede om die Bybel te ver­waar­loos. In hierdie bekende Boek, wat omtrent deur elk­een van ons besit word, het God vir ons ’n kosbare skat gegee. God praat self met ons in die Bybel, vertel ons van sy genade, sy liefde, sy ewige rykdom wat Hy vir ons wil gee. “…laat God julle verander deur julle denke te vernuwe…” (Rom.12:2). Hy doen dit deur sy Woord. “…saam strewe na diep en volledige insig sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en ken­nis te vind” (Kol.2:2). Aan die gemeente Laodisea sê Jesus: “Daarom raai ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere sodat julle julle kan aantrek en julle.. naaktheid nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer sodat julle kan sien” (Opb.3:18). Deur ons omgang met die Here deur sy Woord kom ons in besit van hierdie rykdomme.

Faithful Words sluit sy vertelling só af: “Oc­casionally we receive letters from aged Chris­tians to tell us how they deplore the fact that they did not know certain truths thirty or forty years ago. And all this time these riches were in their Bible, they might have enjoyed them. Oh, the neglected Bible! May we arise and possess our possession.

“Here, vandag lees ek u Woord.”

Prys van 'n bottel water

Lees Lukas 16: 1 – 12 (Nuwe Lewende Vertaling).

“As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. (10).

’n Man se voertuig het hom in ’n afgeleë om­ge­wing, baie kilometers van sy bestemming af, in die steek gelaat. Hy kon nie ‘n sein         op sy selfoon kry nie. Hy sou moes stap om iewers hulp te kry. Hy volg die pad en hoop hy is op die regte koers. In die versengende hitte begin ’n dors hom pak. Na ‘n lang ruk sien hy die pad lei na ’n verwaarloosde werf toe. Die gehawende huis staan leeg. Tot sy blydskap sien hy ’n handpomp in die hoek van die ruie agterplaas. Vol verwagting loop hy op die hand­­pomp af en begin pomp. Daar is geen druk in die boorgat se pyp nie. Geen water kom te voor­skyn nie. Hy sien langs die pomp lê ’n bottel vol wa­ter. Hy gryp dit om te drink, maar sy oë val op die woorde wat op die bottel geskryf staan: “Gooi die water af in die pyp. Pomp dan.” Nou is hy in ’n ge­moedstryd gewikkel. Sê nou hy gooi die kosba­re water in die boorgatpyp af en daar kom tog nie wa­ter uit nie? Daar is nog iets op die bottel ge­skryf: “Maak die bottel weer vol water en laat dit daar vir ’n volgende verdwaalde persoon.” Nou is sy stryd groter. Hy kan dalk nog waag om die wa­ter in die pyp af te gooi, maar dan sou hy baie graag die bot­tel vol water wou saam neem. Hy weet nie hoe ver hy nog van die dorp af is nie. Met ’n laaste kyk na die water in die bottel gooi hy dit in die boor­gatpyp af. Hy begin weer pomp. Met die eer­ste paar hale is daar nie druk in die suier nie. Wan­hoop wil net die oorhand kry, toe voel hy die pomp word stywer en na ’n paar oomblikke se pomp, stroom skoon, koel boorgaterwater uit die kraan uit. Hy vul die bottel en drink. Vul dit weer en drink dit weer uit. Hy drink nog ’n bietjie. Ver­kwik en versadig staan hy na die bottel water en kyk. Hy sou dit darem graag wou saamneem. Maar wat van ’n volgende persoon wat in die­selfde omstandig­hede daar aankom? Hy maak seker die bottel is tot bo vol en sit dit by die voet van die pomp neer. In sy hart kom ’n vrede van weet, hy het reggedoen, aan ’n ander mens gedink en nie net sy eie beswil gesoek nie. Na nog ’n lang stap, kom hy by ’n dorpie uit. Sy lewe gered deur iemand wat voor hom ook by daardie boorgat getrou was om die regte ding te doen: ’n bottel water agter te laat.

By die bodem van ’n ontroue daad, lê selfsug: die doen dit vir jou eie ontwil, ongeag wat dit ander sal kos. Of dit in die verkeer op die pad is, of dit in ’n sake tran­sak­sie is, of dit in die huwelik is – waar ookal: ontrou­heid het selfsug – die doen dit eerstens vir jouself – as basis. Getrouheid, die nakom van verantwoordelikheid, ook tot beswil van ander, is ‘n teken van karaktervast­heid, wat ’n mens selfs by ’n ongelowige kan kry. Veral is dit die vrug van die Heilige Gees se werking en in­vloed in die gelowi­ge se hart: “Die vrug van die Gees …is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goed­hartigheid, getrou­heid, nederigheid en self­be­heersing (Gal.5:22). En die werklike toets van getrouheid is nie in groot dinge waar mens in die kalk­lig is nie, maar in klein dingetjies waar ander dit nie sien nie.

 “Here, vandag wil ek ander se verwagting van  my na­kom, tot hulle beswil en tot u eer.”

Ook

SKRIFDEEL: Jesaja 1: 12 – 18

“’Kom nou en laat ons die saak uitmaak,’ sê die Here: ‘al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu…’” (18).

In die Reader’s Digest van Januarie 2006, ver­skyn ’n ar­tikel onder die opskrif: One French­wo­man Who Out­lived Six Billion People. Hierdie vrou, Jean­ne Calment, is die wêreld se oudste mens van wie daar bevestigde ge­boorte- en sterf­ge­gewens be­staan. Sy is in 1997 op die ou­der­dom van 122 jaar oorlede. Oor haar skryf die Rea­der’s Digest: “A smo­ker, Calment, liked noth­ing more than a re­gu­lar glass of port wine. She rode bicycle at 100, made her film debut at 114 and re­mained lucid (duidelik – die rimpels ont­breek!) virtually untill the day she died.” Sy het ’n goeie, vol, lang lewe gehad.

So interessant en lank as wat haar lewe ook was, op ’n dag, in 1997, het ook sy gesterf. Die dag wan­neer ’n mens gebore word, is belangrik, die dae wat ’n mens lewe, is belangrik, maar die dag wan­neer ’n mens sterf is uiters belangrik. Dan begin die ewig­heid vir `n mens sélf. In Jesus se gelykenis oor die arm man, Lasarus, en die ryk man, beklemtoon Hy hulle sterfdae: “Toe die arm man te ster­we kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham…Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien Abraham in die verte…en hy roep… ek ly verskriklik in hierdie vuur” (Luk.16:22-24).

Elkéén van ons het ook `n sterfdag. Die Here Je­sus het ’n aaklige, bitter sterfdag gehad. Sy aard­se lewe van 33 jaar was ingestel op sy sterf­dag. Hy het met sy dissipels meer as een keer oor sy ko­mende sterfdag gepraat. Hy het die genoem My uur. Deur die evangelie weet ons dit was ook ons uur van afrekening met ons sonde­skuld. My uur – jou uur. Aan die einde van sy drie en ’n half jaar diens aan sy volk, toe Hy baie men­se genees en gered het, sê Hy vir Filippus en Andreas: “Die tyd het ge­kom…As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in…Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê?… Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hier­die uur…” (Joh.12:24-27). “Teen twaalfuur die middag het daar duis­ternis oor die hele land gekom…om drie-uur het Je­sus hardop uitgeroep: ‘Eloï, Eloï, lemá, sabag­tani?’…Dit betek­en: ‘My God, My God, waarom het U My ver­laat?’…Daarna het Jesus hard uitgeroep… (Mark.15:33,34).”’Dit is volbring!’ Toe het Hy sy kop vooroor laat sak… en die laaste asem uitgeblaas… (Joh.19:29,30)” “Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur” (Mark.16:37,38). Die toegang na God toe het vir ons almal gekom.

Jesus het die weg na God vir óns, die skuldiges oop­gemaak, sodat ons by God vergifnis kan kry en deel kan kry aan die ewige lewe en die hemel. Hiermee het Jesus die skrik van ons sterfuur, myne, joune, weg­ge­neem. As ons dan ook die dag sterf, gaan ons hemel toe. Laat ons verseker sorg om tyd te maak om hierdie groot geskenk van God aan te neem, vóór ons die doodsdal betree!

“Here, vandag dink ek aan my verlede en ek dink aan die ewigheid. Ek bely U my sonde en vertrou in u kruisdood ook vir my.”

Omgeruilde Plekke

Lees 2 Korinthiërs 5:18-21 Ou Vertaling

“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (21).

‘n Man, ‘n toegewyde Christen, wou ‘n dokter in `n buitepasiënte afdeling besoek. In die wagka­mer sit ‘n lang ry mense en wag. Elke keer as iemand ingeroep word, skuif die ry een sit­plek op. Hy gaan ewe getroos op die laaste oop stoel sit en wag sy beurt af. Later is hy heelvoor in die ry en dit is sy beurt om volgende by die dokter in te gaan. Net toe gaan  die deur oop en ‘n vrou,  sig­baar siek, kom binne. Sy kreun. “Ag! Laat ek tog asse­blief eerste ingaan. Ek voel ellendig,” sê sy vir hierdie man wie se beurt dit nou is om in te gaan. “Seker­lik,” sê hy hartlik en staan op. Sy gaan sit op sy stoel. Juis op daardie oomblik roep die verleegster, “Volgende, asseblief!” Dankbaar gaan die vrou by die dokter se spreekkamer in. Die man wil weer op daardie voorste stoel van hom gaan sit. Maar iemand sit reeds daar. Die hele ry het reeds een stoel opgeskuif. Hy wou protesteer, maar ie­mand van die wagtendes roep: “Jy het jou eerste plek vir haar gegee en nou moet jy haar laaste plek vat.” ‘n Goedige “Hoor! Hoor!” klink op. Die man glimlag gedwee en gaan ewe getroos weer op die laaste oop stoel sit.

“Julle is reg, vriende,“ sê hy. “Ek het my goeie plek vir haar gegee en dis net reg, as ek haar sleg­te plek inneem. Weet julle, dit is presies wat die Here Jesus vir ons gedoen het. Hy het sy goeie plek as Kind van God en Erfgenaam van die hemel vir ons gegee. Toe het Hy ons slegte plek as verlore en skuldige sondaars kom inneem. In ons plek het Hy onder die toorn van God aan die kruis gesterf, sodat ons, onder die genade en goedheid van God, nie gestraf hoef te word nie en sy plek in die hemel kan inneem.”

“Ook julle was voorheen ver van God af en vyandig­ge­sind teenoor Hom … Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel” (Kol.1:21-23).

 “Here, dankie  U het my slegte plek ingeneem en my in u goeie en geseënde plek geplaas.”

O, daardie een woord

Lees Romeine 6: 19-23                                              

“… die dinge waaroor julle nou skaam kry  … die uiteinde van dié dinge is die dood. Maar nou  -  julle is vrygemaak van die sonde … en die uiteinde is die ewige lewe” (21,22).”

Ek wou die Saterdagmiddag geniet. Die opge­won­­den­heid van die perdewedren wat aan die gang was, het deur my gejaag. Rondom my was skreeuende en gil­lende mense, besig om hul perd aan te moedig. Skielik het ek `n plukkie aan my baadjie gevoel. Ek het om­ge­draai en in `n jong­man se gesig vasgekyk. Hy het nader getree en een woord in my oor gefluister: “Ewigheid.” Ter­selfdertyd het hy `n blaadjie in my hand gedruk. Wat `n vreemde opmerking, het ek gesteurd ge­dink Ek het besluit om dit eenvoudig te ignoreer. Ek kon nie `n asblik sien nie en het die blaadjie in my sak geprop. Die wedren was nog aan die gang en ek het my aandag daarop probeer vestig. “Ewigheid!”  Ek het die perde vir die vol­gen­de wedren bestudeer en op een gewed. “Ewigheid!”

Slegs `n maand te vore het `n vriend van my skielik ge­sterf. Ek het nou aan hom gedink. Hy is nou in die ewig­heid. Ek weet dat as hy nog geleef het sou hy vanmiddag saam met my by die ren­baan gewees het. Maar hy was vanmiddag in die ewigheid. Die ewigheid is net `n haar­breedte ver. Dit kos nie veel om die skeidslyn tussen tyd en ewigheid oor te steek nie. Ek het benoud begin voel. Die wedren se uitslag het skielik vir my onbelangrik geword. “Ewigheid!”

Ek het my huistoe gehaas en die blaadjie wat die man gegee het, begin lees. God het my lief, het ek so onder die lees deur ontdek. Hy wil nie hê dat ek ewig verlore moet wees nie, maar dat ek ewig salig sal wees. Hy het sy eie Seun, Jesus Christus, my sondestraf laat dra aan die kruis. Hierdie inligting het ek geken, want ek is ook `n soort van kerkmens. Dit het nou egter vir my skie­lik `n nuwe waarde gekry. Jesus het aan die kruis gesterf, so­dat ek in die ewigheid gered kan wees. `n Bekende teks word aangehaal: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun ge­gee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16).

Ek het dit verstaan en ek het dit geglo. Ek het by my bed gekniel en met `n eenvoudige gebed Jesus Christus as my Verlosser aangeneem en sy ver­soenings­dood vir my toegeëin. Ek het `n rustige man gaan slaap. Ek het uit die dood in die lewe oorgegaan.



“Here vandag ken ek U as my Verlosser en ek lê met nuwe toewyding my aan u voete neer.”

Of: ?

“Here, vandag is ek onseker oor die ewigheid, want ek het dit nog nie `n uitgemaakte saak in my lewe gemaak nie. Maar ek wil nie ewig verlore gaan nie. Ek maak nou my hart oop. Ek glo u kruisdood was vir my, in my plek. Ek neem U aan as my Verlosser.”

Nou of Nooit

Skrifdeel:         Hebreërs 4: 1 – 13 Ou Vertaling

“Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle har­­te nie” (7).

Een aand, na die aanddiens in `n myn­dis­trik in Engeland, gaan praat `n fris myner, bekom­merd oor sy saligheid, met die prediker, vertel Gospel Herald die storie vir ons. Die prediker pro­beer hom dadelik help en verduidelik die weg van saligheid aan hom. Hy wys hom in die Bybel, Christus het “gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk.19:10). Almal wat in sy kruis­dood vertrou, word gered: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld weg­neem” (Joh.1:29). Die myner kan dit nie be­gryp nie; sy hart bly donker.  Teen 11-uur die aand gee die prediker op en stel voor hulle moet die volgende dag weer bymekaar kom. “No, I won’t leave; it must be settled tonight or never!” haal Gospel Herald hom aan, en ver­volg dan: “Hours passed…but as the clock struck three, the light of the glorious Gospel suddenly burst upon him. He saw and be­lieved the glorious fact that the work of Christ on the Cross had satisfied the justice of God on ac­count of his sin, and joy and peace filled his heart.” In die loop van die volgende dag word die dorp geskok deur `n harde slag. `n Deel van die dak van `n myn het ingestort. Gewillige hande werk hard om die puin op te ruim en by die manne wat toegeval het te kom. `n Harde kreun laat hulle vinniger werk en hulle bereik die bekeerde myner. “Life was not quite gone, for he was speaking. Eagerly they listened, and the words they caught were these :‘Thank God…it was settled…last  night.’”

Die ewigheid is `n te ernstige, onver­my­de­li­­ke, onverwagte saak, dat mens kan waag om die sekerheid van die redding van `n mens se siel uit te stel. “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2 Kor.6:2).

 “Here, vandag wil ek oor my ewige heil sekerheid soek.”

Nooit alleen nie

SKRIFDEEL: Psalm 121

“Die Here beskerm jou” (5)

Dr. Tony Campolo skryf in sy boek A Dreamer for the Kingdom, hy het opgegroei in ’n dig­be­volk­te, besige stad. Sy ma het ’n tienderjarige dogter, wat naby hulle gewoon het en ook skool toe moes loop, gevra om teen ’n nickle a day haar oog oor hom te hou, as hy skool toe en terug loop. Die skool was agt blokke ver en hulle moes verskil­lende be­sige strate kruis om by die skool te kom. In sy twee­de skooljaar het Tony opstandig en onwilllig geraak om  elke dag saam met die buurdogter moet skool toe te stap. Hy wou alleen loop. “Ek kán alleen loop. Ek belowe, ek sal baie versig­tig wees,” het hy gesoe­bat. Uitein­de­lik het sy ma toegegee. Vir die vol­gen­de twee jaar het Tony self skool toe en terug ge­stap. Hy was baie ver­sigtig. Hy het nie met vreem­delinge ge­praat of nuuskierig agter ander dinge aange­gaan nie. Jare later, by ’n fa­mi­lie­sa­me­koms, het hy grootgepraat oor sy on­af­hank­lik­heid en sy familie her­inner aan sy self­stan­dig­heid, toe hy as klein seuntjie die moeilike pad skool toe al­leen geloop het. Sy ma het gelag. “Dink jy regtig jy was al­leen?” vra sy. “Elke oggend as jy skool toe loop, het ek jou gevolg tot jy veilig by die skool aange­kom het. Elke middag as die skool moet uit­kom, het ek vir jou buite gewag, maar so, dat jy my nie sou sien nie. Dan het ek weer agter jou aangeloop tot ons by die huis gekom het. Ek wou naby jou wees, as jy in daar­die besige strate my sou nodig kry.”

Glo ons die Here is elke dag naby ons, terwyl ons deur 2017 stap? Kom ons glo dit. Je­sus het sy dissipels belowe: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wê­reld” (Mt.28:20). In die Here se Woord is God se nabyheid by ons ’n voortdurende belofte: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (9).

 “Here, vandag glo ek U is naby my.”

'n Lied uit die hart

Lees Psalm  71: 12 – 24                

“Ek sal jubel as ek tot u eer sing, omdat U my gered het. Ek sal die hele dag praat van u verlossingswerk…” (22-23)

Dr. A. J Gordon was jare gelede leraar van ’n kerk in Boston. Voor die kerk loop hy op ’n dag ’n seuntjie raak wat ’n geroeste en verwaarloosde voël­kou dra. In die kou fladder `n paar klein voël­tjies rond asof hulle weet hulle gaan doodgemaak word. “Seun, waar kry jy daardie voëls?” vra Dr. Gordon vir die seun. “Ek het hulle in die veld ge­vang,” antwoord die seun. “Wat gaan jy met hulle doen?” vra die leraar. “Ek neem hulle huis toe om met hulle te speel.” “En as jy klaar met hulle ge­speel het?” “O,” antwoord die seun met ’n skou­erophaling, “dan voer ek hulle seker maar vir ons kat.” Dr. Gordon vra hom vir hoeveel hy die voël­tjies en die koutjie aan hom sal verkoop. Die seun antwoord: “Meneer, wil jy hulle regtig hê? Dis net gewone veld­voëtjies. Hulle kan nie eers sing nie.” Dr. Gordon bied ’n redelike prys aan. “Goed,” sê die seun dadelik, “maar Meneer maak ’n slegte koop.” Fluitend loop die seun weg en Dr. Gordon neem die koutjie met voëltjies na die kerk se ag­ter­tuin toe. Hy maak die koutjie oop en die voël­­tjies vlug dadelik uit en styg luid singende in die lug op.

Die volgende Sondag neem Dr. Gordon die leë koutjie preekstoel, toe as illustrasie vir sy preek. “Daardie seun het gesê hulle kan nie sing nie,” sê hy na hy vir die gemeente vertel het hoe hy aan die koutjie kom. “Maar ek wens hy kon hulle hoor sing toe hulle die lug in vlieg. Dit het vir my geklink hulle sing: ’Vry, vry, vry.’”

So is dit in die hart van die verloste sondaar. Soms is ons lied dof, want ons begryp nog nie watter prys vir ons betaal is nie en van watter aaklige dood ons vrygekoop is nie en watter heerlike ewigheid vir ons voorlê nie.

Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het, sing dankbaar my verlossingslied.

U weet hoe ek na U verlang het – U het u guns my aangebied.

Ek loof en prys U deurentyd, en roem u groot barmhartigheid.

“Here, vandag loof ek U uit my hart uit.”

'n Goeie Adres

Lees Psalm 43: 1 – 5

“Stuur u lig en u waarheid dat dié my kan lei en my bring na u heilige berg, na u woning!” (3).

In Londen, naby St. Paul’s, is `n straat met die naam Godliman Street, vertel dr. F. B. Meyer. Die ligging van die straat, naby so `n groot, bekende kerk, kon dalk die rede vir die naam gewees het. Of, daar het dalk `n besonder toegewyde man ge­woon, want die naam is van die Engelse woord, godly man, afgelei. Hoe voel die mense, veral die mans, wat in daar­die straat woon? Kan dit dalk `n verleëntheid wees as mens vir `n ander moet sê: “Ek woon in Godsmanstraat?” Pas die mense wat daar woon, se lewensgedrag by die straat se naam? Voel iemand dalk hy sal ontuis voel in so `n straat? Ons moet onthou, in die hemelstad, gaan al die name van die strate so `n naam hê. In die hemel sal net mense, wat aan die Here behoort, woon.

Voel u dalk onseker oor u plek in so `n he­mel­stad ­se straatnaam? “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe. Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam, geskrywe staan” (Op.21: 22,27).

Ons moet baie seker maak, dat ons ons toe­gangs­­reg tot die hemel verkry het, deurdat ons in Jesus Christus, as ons Verlosser, vertrou het. Van alle dinge op aarde is dit die belangrikste voorsorgsmaatreël vir ons. Dít maak ons God se mense. Dan kan ons in God se stad woon.

“Here, vandag ondersoek ek my hart om seker te maak, ek het U as Verlosser aangeneem.”