Lees Romeine 10: 1 – 21 (Ou Vertaling).
“En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie?…Die geloof is dus uit die gehoor en die gehoor is deur die woord van God” (13,14,17).
Bybels is volop en betreklik goedkoop. Maar eintlik is die Bybel onbetaalbaar duur. Dit is God se Woord, dit het langs ’n pad wat milleniums lank is, gekom, en om vir ons ’n eie Bybel in óns taal te kon gee, het bloed gekos.
Vyf honderd jaar gelede was dit in Engeland ’n misdaad om ’n Bybel te besit. Tog het ’n paar manne in Engeland gewaag, om ten spyte van die verbanning van die Bybel, die Bybel in gewone mense se hande te probeer plaas. Een van hulle was William Tyndale. Hy het homself aan God met ‘n eed verbind, om in elke gewone mens se hande, ’n Bybel te plaas. Sy bekende woorde was: “Every ploughboy should know the Scriptures.” Hy is uit Engeland verban om nooit weer terug te keer nie. Op die Europese vasteland het hy jare gewerk om die Bybel in Engels te vertaal. Sy eerste Engelse Nuwe Testament is in 1525 gedruk. Met die hulp van vriende het hy duisende Bybels in Engeland ingesmokkel. Hy is in hegtenis geneem en in ’n koue sel in Vilvorde, België opgesluit. Daarna is hy op ’n brandstapel verbrand. William Tyndale het, in navolging van sy Meester, sy lewe gegee om te help om vir ons ‘n leesbare Bybel te gee. Sy laaste woorde was: “O Lord, open Thou the King of Engeland’s eyes.” Sy gebed is beantwoord. Die tradisionele Engelse Bybel word die “King James Version” genoem.
Satan het alles in sy vermoë gedoen om die Bybel te vernietig. Die Heilige Gees het God se Woord in manne en vroue se harte lewend gehou en hulle het, soos Tyndale, ’n hoë prys betaal, om die Bybel vir God se kinders in vrye omloop te hou. Die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap het in 1953 reeds meer as 800 Bybelvertalings uitgegee. Die Afrikaanse Bybel het in 1933 verskyn. Die duiwel se planne word egter nie maklik gefnuik nie. Sy geslaagde streek is nou, om te sorg dat mense te besig is, om hulle Bybel nadenkend te lees. “As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ’n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie” (2 Kor.4:3,4).
“Here, vandag dank ek U vir u Woord en ek wil dit lees”