Die Nuwe Omgewing

SKRIFDEEL : Psalm 28

“Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil Hom loof, met my lied” (7).

Die volgende verhaal het Neil Verwey, sen­deling in Japan, vir ons gestuur.

’n Jong bruid uit die Ooste, vergesel haar man na ’n VSA-weermagkamp, geleë aan die rand van die woestyn in Kalifornië. `n Moeilike leefwyse, bedags warm en `n ge­du­ri­ge wind, wat al­les met sand bestrooi, breek vir haar aan. Die dae was lank en ver­velig. Geen bure met wie sy ge­meen­skaplike be­lange kon deel nie. En toe ver­trek haar man boonop gevegs­front toe! Uit moe­de­loosheid skryf sy vir haar ma sy kom huis­toe. Alles het vir haar net te veel geword.

Haar wyse moeder skryf terug: “Twee man­ne kyk deur die tralies van hul tronkselle; die een sien die modder, die ander een, sterre.” Die jong bruid lees die brief van haar ma oor en oor en sy bid die Here om ’n verandering in gesind­heid in haar te wek. Sy neem `n posi­tie­we houding teenoor haar omgewing in. Sy begin die woestyn bestudeer. Nie lank nie, of sy kom agter die voorheen onher­bergsame, af­ge­sonderde woonplek, verander na ’n won­der­wêreld. Sy bestudeer die kaktusplante en ver­sa­mel skulpe, wat daar was toe die sand nog deel van die seebodem was! Die kennis wat sy op­doen, maak haar ’n kenner op dié gebied en sy skryf ’n boek daaroor.

Wat het by haar verander? Die woestyn, hitte, sand, wind én die mense was steeds daar. Die verskil is, God het haar gesindheid ver­ander. Deur die tralies van haar self­ge­maak­te selvenster, het sy nou sterre begin waar­neem!

Met geloof in God, is daar ’n buitengewone verandering van krag, wat alle omstandighede kan hanteer. Die blydskap van dié wat geleer het om in Hom te vertrou, is groot!

“Here, vandag vra ek uit u krag nuutheid in my omgewing.”