SKRIFDEEL: Psalm 22
“My God, ek roep bedags en U antwoord nie…(3)
Die volgende gebeurtenis word vertel deur Dr. H. Clay Trumbull wat vir jare die redakteur van The Sunday School Times was. `n Vriend van hom moes eenkeer vir `n nag van die huis af wees. Hy het sy vrou en kinders en `n invalide vriendin van sy vrou, vir die nag alleen tuis gelaat. In die middel van die nag word sy vrou wakker van `n geluid wat sy herken as die venstergrendel wat beweeg word. Sy besef dit is `n inbreker. Wat moet sy doen? Ek haal Arnold’s Commentary aan: “It was about the time that Professor Huxley had been lecturing and writing on the folly of expecting direct answers to prayer. She thought of this, but it was immediately followed with the thought, ‘God can help me now, and I will pray to Him.’ She fervently prayed: ‘Lord, send me a policeman to our rescue.’” Skielik knal pistoolskote buitekant. Sy hardloop venster toe en sien `n man in die skaduwees verdwyn. Oomblikke later klop `n polisieman aan die deur en vra toegang. Hy vertel haar hy het net kort te vore by die huis verbygestap, maar alles het vir hom pluis gelyk. Maar net toe hy verder om die hoek wil stap, is dit of iemand vir hom sê hy moet teruggaan en weer kyk. En so kom hy af op die misdadiger wat by die venster probeer inkom.
God kan ons dadelik antwoord as ons in `n noodsituasie tot Hom roep. Hy het die krag om te antwoord, en die liefde om te wil antwoord. “Die Here – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is…” (2 Kron.16:9). Jesus het ons in sy gelykenisse geleer, tyd kan ook omgaan voor God ons verhoor: “En Hy het ook aan hulle `n gelykenis vertel met die oog daarop dat `n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie….” ‘Sal God dan nie regdoen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?’ (Luk.18:1,7 Ou Vert.).”
“Here, vandag wil ek aanhou bid vir my behoefte.”