Lees Lukas 14:3-9
“’Laat staan haar,’ het Jesus gesê. ‘Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het `n goeie daad aan My gedoen? …Wat sy kon het sy gedoen.’” (6-8).
Die beroemde Buchner-Weeshuis is in die staat Texas geleë. Duisende weeskinders het in daardie weeshuis `n heenkome gevind. In die beginjare van die weeshuis se bestaan, was die stigter, dr. Buchner, soms vir weke lank weg van die huis af om fondse vir die weeshuis in te samel. Die kinders was almal baie lief vir hom. Hy was vir hulle `n pa en vriend. As dit aangekondig word, “Vader” Buchner kom op `n bepaalde dag terug, breek groot opwinding tussen die kinders los. Hulle trek dan hulle beste klere aan en maak geskenkies van blomme en mooi klippies op, om vir hom te gee.
Een van die inwonertjies was `n klein, swaksinnige dogtertjie. Sy is gehelp om haar mooiste klere aan te trek, maar sy moes self haar geskenkie opmaak. Sy het nie die verskil tussen `n bossie blomme, `n bossie onkruid of `n bondel takkies geken nie. Wanneer dr. Buchner aankom, het die kinders om hom saamgedrom, elkeen angstig om eerste te wees om hom te groet en te soen, raakgesien te word en die geskenkie te oorhandig. As hierdie groot, goedhartige man dan so tussen die woelende kleingoed staan, het dit gelyk of hy na iemand soek. Dan sien hy haar: die ou dommetjie, op die buiterand van die opgewonde, stoeiende kinders, met haar bondeltjie takkies in haar hand. Hy beur tussen almal deur en gaan na haar toe. Hy neem haar geskenkie en bewonder dit. Dan tel hy haar op in sy arms, druk haar teen hom vas, soen haar. Baie teer vra hy hoe dit met haar gaan en hy praat vertroostend met haar. W. B. Knight, wat hierdie insident beskryf in sy boek, God’s Presence With His People, sê hieroor: “I tell you, my friends, that Dr. Buchner was never more like Christ than when he thus acted!”
Die Here Jesus se hart gaan immer na die swakstes toe uit, die verdruktes, die armes, die siekes, die kindertjies. “Hy sien toe ook `n arm weduwee, twee klein muntstukkies ingooi, en Hy sê: ‘Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander’”(Luk.21;3). Nie die formaat van ons gawes of dade of diens nie, maar die gesindheid van toewyding en liefde, dikwels uit swakheid gedaan, is vir die Here kosbaar.
“Here, vandag dien ek U uit die geringheid van my vermoë.”