Lees Lukas 19:1-10
”…waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug”(8).
Lars Olson Smith van Swede, was in die middel van die jare 1800 bekend as die brandewynkoning van daardie land. Vir baie jare het hy sowat driekwart van die totale hoeveelheid brandewyn in Swede geproduseer en verkoop en miljoene ingesamel. Toe kom hy tot bekering. Sy lewe het geheel en al omgekeer. Hy het ’n afskaffer en ’n geesdriftige maatskaplike hervormer geword. Hy het die skuld van driekwart van sy landgenote se ellende, armoede en sonde, op hom en sy vorige bedryf geneem. Van die oomblik van sy bekering af het hy alles in sy vermoë gedoen, om te probeer vergoed vir wat hy as die vrug van sy verkeerde bedryf beskou het. Sy groot fortuin het hy aangewend om spaarbanke te open, bougenootskappe te stig, koöperatiewe besighede te organiseer wat vir hoeftige mense maklik toeganklik was. Hy het openbare kombuise geopen waar behoeftiges, teen lae koste, voedsame kos kon koop. Hy het verklaar: “Ek reken dis reg, om die geld wat ek bymekaar gemaak het op ’n manier, waardeur ek duisende van my medemense te gronde laat gaan het, te gebruik, om so ver moontlik, die kwaad wat ek gedoen het ongedaan te maak.”
Ware berou word geken uit die verlange, om wat verkeerd gedoen is, ongedaan te maak. ’n Mens maak reg, met woorde of met geld, wat mens in ’n sondige gesindheid, aan ’n ander verkeerd gedoen het. Dit was die grondtoon van Saggeus se voorneme om mense wat hy bedrieg het te vergoed. Nadat Jesus saam met Saggeus aan tafel was, het Saggeus begeer om wat in sy lewe verkeerd was reg te maak. Dit is ook soos die Bybel dit vir ons leer. “…hy (moet) teruggee wat hy geroof het of waarmee hy iemand te kort gedoen het…”(Lev.6:4). As ek regmaak met ’n medemens wat ek aan hom verkeerd gedoen het, bring dit vrede in my art. In die poging om sake so reg te maak, kry ons die ondersteuning en genade van die Here in ons hart. Die finale troos in die sondebewuste hart, is dat Jesus die sonde aan die kruis tenvolle betaal het en Hy ons volle vergifnis gee. Ons ken sy belofte in 1 Johannes 1:9: “As ons ons sonde bely, Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe, en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
“Here, vandag bring ek die kwaad wat ek aan ’n ander gedoen het in herinnering.”