Die Uithou

Skrifdeel:  Galasiërs 5: 13 – 26

“Laat julle lewe steeds deur die Heilige Gees beheers word, dan sal julle nooit swig… nie” (16)

Onder die naam Percy word in Paul Lee Tan se boek, Encyclopedia of 7 700 Illustra­tions, vertel van die 87-jarige ou man Firmin Abautiz. Ek haal Percy aan: “He was a person of such a serene disposition, that he was not known to have been out of temper during the whole of his long life.” Hierdie getuienis oor hom, deur die wat hom geken het, is deur an­der mense in twyfel getrek en hulle het besluit om dit te toets. Hulle het sy huishoudster van 30-jaar­lank oor­gehaal om, teen betaling, hom kwaad te maak. Wetende hy hou daarvan dat sy bed elke ogg­end netjies en gemaklik op­ge­maak word, slaan sy dit oor. Die volgende og­gend met ontbyt sê Abautiz dit vir haar. Sy maak die verskoning sy het vergeet. Die og­gend daar­na gebeur dit weer en weer bring Abautiz dit onder haar aandag. Sy maak weer `n flou ver­sko­ning. Die derde dag sê Abautiz vir haar. “Jy het weer nie my bed opgemaak nie. Dit lyk my jy het besluit om dit nie meer te doen nie. Ek dink dit is vir jou `n lastige taak. Dit maak nie reg­tig saak nie. Ek begin dit al­reeds gewoond raak.” Geraak deur haar mees­ter se geduld en vrien­delikheid, vertel sy hom die hele storie. Hulle lag albei daaroor en hy gee haar `n geld­geskenkie om op te maak vir die geld wat sy sou kry.

Ek wens Percy het vir ons meer beson­der­hede oor Firmin Abautiz se verhouding met die Here gegee, want sy gedrag was teen­stry­dig met die ingebore, sondige natuur van die mens wat maklik geïrriteer en ongeduldig raak. Deur ons verbintenis met Christus bring die Heilige Gees `n ander lewensbenadering in ons hart na vore: “Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het…” (Ef.5:2). “Wees…me­de­ly­dend, liefdevol, goedhartig, nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met bele­dig­ing nie…antwoord met `n seënwens… Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na… (1 Pet.3:8,9,11,15).

“Here, vandag verlang  ek na U manier van lewe.”