Lees Filippense 2:5-11
“En toe Hy as mens verskyn het, het Hy homself verder verneder…tot in die dood…die dood aan die kruis”(7,8).
Oliver Cromwell, van die 16de-eeuse Engeland, het ‘n jong soldaat tot die dood veroordeel. Hy sou voor ’n vuurpeleton sterf, sodra die aandklokkespel begin. Die bestemde uur breek aan en alles is gereed vir die voltrekking van die vonnis, maar die klok weier om te lui. Wagte word in die toring opgestuur om te gaan kyk wat skort. Hulle kry die jong meisie met wie die soldaat sou trou, waar sy aan die groot klok se klepel vasklou om die klok te keer om te lui. Haar arms en skouers is gekneus en haar bloeiende hande stukkend geslaan, van die geweld waarmee die klok heen-en-weer geswaai het. Hartstogtelik roep ’n ontroerde Cromwell uit: “Jou geliefde leef. Jy het jouself geoffer! Jy het hom met jou eie lewe losgekoop. Hy sal nie sterf nie!”
Hierdie menslike drama vertolk iets van wat die Here Jesus vir óns gedoen het! Ons is almal sondaars en rebelle teen God en is die dood skuldig. Jesus het tussenby gekom. Hy het sy liggaam ingewerp en die klok van God se oordeel oor ons vasgegryp, dat dit nie sou lui en die ewige straf oor ons voltrek word nie. Op grond van Christus se offerdood aan die kruis is ons vrygespreek van die dood. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie… Hy het die sonde binne die sondige bestaan van die mens veroordeel deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur as ‘n offer vir die sonde” (Rom.8:1,3). Hierdie offer en vryspraak moet ons glo en aanneem. “…aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12).
“Here, vandag verwonder ek my opnuut vir u groot liefde vir my, om in my plek te sterf.”