Die Klok wou nie lui nie

Lees Filippense 2:5-11

“En toe Hy as mens verskyn het, het Hy homself verder verneder…tot in die dood…die dood aan die kruis”(7,8).

Oliver Cromwell, van die 16de-eeuse Enge­land, het ‘n jong soldaat tot die dood veroordeel. Hy sou voor ’n vuur­peleton sterf, sodra die aand­klok­kespel begin. Die be­stem­de uur breek aan en alles is ge­reed vir die vol­trek­king van die von­nis, maar die klok weier om te lui. Wagte word in die toring opge­stuur om te gaan kyk wat skort. Hul­le kry die jong meisie met wie die soldaat sou trou, waar sy aan die groot klok se klepel vasklou om die klok te keer om te lui. Haar arms en skouers is gekneus en haar bloei­ende hande stukkend ge­slaan, van die geweld waar­mee die klok heen-en-weer ge­swaai het. Harts­togtelik ­roep ’n ontroerde Cromwell uit: “Jou ge­­liefde leef. Jy het jouself geoffer! Jy het hom met jou eie lewe losgekoop. Hy sal nie sterf nie!”

Hierdie menslike drama vertolk iets van wat die Here Jesus vir óns gedoen het! Ons is almal son­daars en re­bel­le teen God en is die dood skuldig.  Jesus het tussenby gekom. Hy het sy liggaam in­ge­werp en die klok van God se oor­deel oor ons vas­gegryp, dat dit nie sou lui en die ewige straf oor ons voltrek word nie. Op grond van Chris­tus se of­fer­dood aan die kruis is ons vryge­spreek van die dood. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie… Hy het die sonde binne die sondige bestaan van die mens veroordeel deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur as ‘n offer vir die sonde” (Rom.8:1,3). Hierdie offer en vryspraak moet ons glo en aanneem. “…aan almal wat Hom aange­neem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12).

“Here, vandag verwonder ek my opnuut vir u groot liefde vir my, om in my plek te sterf.”