Skifdeel: Openbaring 22 : 12 – 21
“Hy wat dit alles getuig, sê: ‘Ja, Ek kom gou!’ Amen! Kom Here Jesus” (20)
Een aand preek Dr. H. A. Ironside in Stockton, Californië oor Christus se wederkoms. Hy vertel, in sy slotgebed dank hy die Here oor die vooruitsig van die Here Jesus se wederkoms. Hy bid: “Kom, ja, kom gou Here Jesus!” Hy word bewus van ‘n vrou wat opstaan en haastig uit die kerk uitstap. Dit was die dae toe vroue wye rompe gedra het. Hy sê daaroor: “In those days the skirts would swish whenever a lady walked. It seemed to me that this lady must have gone out in a hurry!” Na hy die diens afgesluit het en na die deur toe gegaan het om mense by die deur te groet, soos die gewoonte in daardie kerk was, kom hy af op ’n vrou wat opgewonde heen en weer in die voorportaal op en af stap. Die oomblik toe sy hom sien kom sy op hom afgestap. “Hoe durf jy so ’n gebed bid – Kom Here Jesus? Ek wil nie hê Hy moet kom nie! Dit sal al my planne verongeluk! Hoe durf jy so bid?” Hy antwoord haar: “My liewe jong dame, Jesus kom weer of jy daarvan hou of nie.” Hy sluit sy storie af met die opmerking: “Oh, if you know Him and love Him, surely your heart says, ’Come, Lord Jesus!’”
Is Jesus se wederkoms vir óns ’n welkome vooruitsig? Baie Christelike kerkmense verlang nie na sy wederkoms nie. Een rede kan wees, ons het die huidige wêreld nog lief en ons lewenswyse maak ons bang maak vir sy wederkoms. Ons kan nie goeie rekenskap gee van die taak wat Hy ons opgelê het om die verlore mensdom vir Hom te wen nie. As ons Christus as ons Verlosser ken en in ’n goeie verhouding met Hom lewe, hoef ons nie vir sy koms bang te wees nie. “En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie. Aangesien julle weet dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat regverdig lewe, ’n kind van God is. Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh.2:28 – 3:1). Die Here Jesus het altyd oor sy wederkoms gepraat as iets baie goeds wat met ons gaan gebeur. Al die ellende en geweld en swaarkry wat hierdie lewe so moeilik maak, sal verby wees. Jesus kom ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde instel waaroor Hy die Koning sal wees. Ons sal in heerlikheid by Hom en sy Vader woon. Kom ons hou ons verhouding met hom daagliks reg deur die krag en werking van die Heilige Gees in ons, en ons sien hartlik uit na sy wederkoms! Ons hartstaal is dan: “Kom, ja, kom gou Here Jesus!”
“Here, vandag wil ek uitsien na U wederkoms.”