SKRIFDEEL: Matteus 5: 13 – 16
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik” (16).
Tydens `n hewige storm een aand, word die dokter in`n klein plattelandse dorpie, uitgeroep na `n siek kindjie toe, op `n plaas, meer as 15 km. buite die dorp, skryf Christian Age die storie. Die kapok val vinnig en maak die sig so swak, die dokter is in gevaar om met sy kapkar en perde die pad byster te raak. Hy bereik `n plaashuis langs die pad. Per telefoon vra hy die volgende plaashuis se mense om `n brandende lantern uit te hang om hom koers te gee. Húlle vra weer die volgende bure om dieselfde te doen, en so gaan die boodskap van plaas tot plaas, totdat `n ry ligte die dokter in staat stel om, in die donker, die huis te bereik waar die kindjie hom so dringend nodig het. Nie een van die mense van daardie omgewing kon vir kindjie iets doen nie, maar elkeen kon wel `n lamp opsteek, om die man wat die kindjie kón help, in staat te stel om hom te bereik. Elke lampopsteker het deel gehad aan die redding van die kindjie se lewe.
“Is not that a picture of the Christian life?” vra Christian Age. “We can each throw a light upon that part of the road that runs by our own door to make sure that no one shall miss the way because our light is not burning.” Die lig van Christus wat iemand kan red, lê nie in die groot dinge wat ons doen nie, maar in klein, daaglikse insidente, wat met die lig van Christus se lewe gevul is: `n vriendelike woord, `n nodige guns, `n noodsaaklike bystand, `n opwekkende bemoediging. Uit eie krag en eie wysheid het ons nie hierdie ligpunte, hierdie brandende lampe, in ons lewe nie. In ons goeie verhouding met Christus bring die Heilige Gees dit in ons lewe in. “Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het…julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword … met `n blydskap wat van die Heilige Gees kom… het julle `n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië…Van julle af is die woord van die Here in Masedonië verkondig… Die mense vertel self hoe julle … die lewende en ware God dien… en sy Seun uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom” (1 Tes.1:6-10).
“Here, vandag vra ek om my lamp helder te laat brand.”