Die Groot Vrug

Lees Kolossense 1 1 – 8

“Die evangelie het julle bereik…soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei (6).”

Op ’n dag staan die ryk, geleerde, jong Duitse edel­­­man, Graaf Nicholaus Ludwig von Zinzendorf, wat in 1700 in ‘n vooraanstaande Europese fami­lie ge­bo­re is, in die kuns­museum van Dussel­dorf na die skildery Ecce Ho­mo en kyk. Die woor­de onderaan die gehawende fi­guur van Je­­sus op die skildery, soos Hy ge­lyk het nà Pi­latus se sol­date met Hom klaar was, gryp hom aan: “Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir my?” Hy was reeds ’n Chris­ten, maar hy was ’n besadigde vol­geling van die Here Jesus. Aan­ge­gryp deur die woorde sê hy vir homself: “Ek het Je­sus al vir ’n lang tyd lief, maar wat het ek al vír Hom gedoen? Van nou af gaan ek alles doen wat Hy van my mag vra.” Daardie dag het hy terug­ge­gaan huis toe en op sy grond, Hernhut, die Morawiese Sending begin.

John Wesley, die trotse jong priester van The Church of Eng­land, wat in Ame­rika sendingwerk gaan doen het, het dáár met Mora­wie­se sen­de­linge in aanraking gekom. Uit húlle toegewyde ge­loofs­lewe het hy agtergekom, hy self is nie regtig ’n be­keerde man nie. Hy het teruggegaan Enge­land toe om sy eie lewe eers te gaan regkry. Die groot oes het begin inkom. John Wesley en sy broer, Char­les, het die Metodiste Kerk gestig en saam met George Whitefield die leiers geword in die groot herle­wing wat van die middel van die 18de tot diep in die 19de eeu geduur het, en selfs na Suid-Afrika toe uitge­brei het, waarvan die jaarlikse pinksterbidure nog ’n navrug is.

’n Geseënde vrug het voortgevloei uit die ne­de­rige, ernstige vraag van die arm sigeunermeisie, wie se hart deur die Heilige Gees ont­waak is, toe sy na die Here Je­sus se lyding gekyk het. Ek wens ek kon weet wat van Papita geword het, maar ek wil glo sy het die Here Jesus, aan wie sy haar hart eintlik reeds gegee het, beter en beter leer ken.

 “Here, vandag bid ek vir die uitbreiding van u koninkryk.”