Lees Lukas 12: 4 – 7
“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie” (6)
In die King’s Business word vertel van `n Spaanse seuntjie in Vigo, wat `n toegewyde volgeling van die Here Jesus geword het. `n Christen Engelsman vra hom, wat het tot sy bekering gelei? Op die man se vraag antwoord hy: “Dis die ekstra mossie wat dit bewerk het.” “Die ekstra mossie?” vra die man verwonderd. “Sien, Senór, dit het so gewerk. `n Man het eendag vir my `n Bybel gegee. Ek lees toe op een plek dat Nuestro Senór Jesus (ons Here Jesus) gesê het, twee mossies word vir een chico verkoop. Op `n ander plek lees ek Hy sê, vyf mossies word vir twee chicos verkoop. Toe dink ek, Nuestro Senór Jesus ken darem ons gewoonte om voëls te verkoop baie goed. Senór weet mos, ons vang voëls en verkoop dit: twee vir een chico en vier vir twee chicos, maar dan gooi ons sommer `n ekstra voëltjie, die vyfde een, by. Hy tel nie eintlik nie. Hy word sommer net gegee. Toe dink ek by myself: ek is so arm en nikswerd en klein, niemand tel my ooit by nie. Ek is sommer net niks. Ek is soos daardie ekstra mossie. En tog, is dit nie wonderlik nie, Nuestro Senór Jesus sê: ‘nie een van hulle word deur God vergeet nie.’ Ook nie die ekstra, verniet, een nie. Ek het nog nooit so iets gehoor nie, Senór. Niemand as net Nuestro Senór Jesus sou aan so iets kon dink nie! Toe weet ek ek tel ook by Hom en toe bid ek en ek sê: ‘Nuestro Senór Jesus, vat my ook asseblief.’ Toe weet ek hy het my gevat. En nou lewe ek vir Hom.”
“Here, vandag weet ek ek tel ook vir U. Ek wil aan U behoort.”