Lees Psalm 91
“Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie” (9,10)
In Update Magazine word vertel hoe Delisa Boydston, ‘n 24-jarige musiekstudent, na ’n les na haar motor, in die parkeerarea, toe loop. Sy sluit die deur oop en toe merk sy ’n man op wat direk agter haar staan. Dit lyk of hy vir haar ’n blaadjie wil gee. Sy dank dit af. Hy neem haar arm stewig in sy een hand en met die ander hand bring hy ’n mes te voorskyn. “Klim in,” beveel hy kortaf. Verward roep sy uit haar hart: “Here, beskerm my!” Sy probeer losruk, maar die vreemdeling dwing haar in die motor in en druk haar tot op die passasiersitplek. Sy probeer die deur oopmaak, maar die deur is gesluit. Met die sleutel wat hy uit haar hand gegryp het, skakel die man die motor aan en trek vinnig weg. “Ek sal jou nie seermaak nie. By die volgende hoek laai ek jou af,” beloof hy. Hy ry egter by straathoek na straathoek verby. Sy besef hulle is op pad na die snelweg toe. Teen die deur gedruk, met die mes teen haar, kom ’n magtelose wanhoop in Delisa op. Geen mens kan haar help nie – net God! Delisa was omtrent twee jaar ’n Christen. Haar Bybel lê op die agterste sitplek. Die Bybel het haar al deur talle krisisse gedra. Dit gaan weer haar toevlugsoord wees. Sy word kalm. “Neem die mes weg, asseblief,” sê sy beleefd vir die man. “Teen hierdie spoed kan ek nie uitspring nie.” Vreemd genoeg bemerk sy in die man se oë ook verskrikte paniek. Hy is bang, besef sy. Hy trek die mes terug, en dit lyk of hy ook kalmer word. “Mag ek my Bybel hardop sit en lees?” vra sy. “Dit help my altyd as ek bang is.” Hy knik. Sy neem haar Bybel op die agterste sitplek en maak dit by Psalm 23 oop. Sy begin hardop lees – vir haar eie ontwil, eerder as syne. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps.23:4). Toe sy die hele Psalm gelees het, kyk die man na haar kant toe en sê. “Jy weet, ek het nog nooit die Bybel en sulke dinge verstaan nie. Iemand moet dit vir my verduidelik.” Delisa is nou kalm. In haar hart het hoop opgekom. Sy verduidelik vir die man dit soos sy die Psalm verstaan. En sy gaan voort en vertel vir haar kaper dat God hom liefhet en wat nou gebeur, kan God se manier wees om hom te bereik. Hy gee ’n diep sug, bring die motor tot stilstand, maak ’n u-draai. “Ek neem jou terug,” sê hy kortaf. Sy vra hom om na haar kerk toe te ry. Daar gekom, klim hy ook gewillig uit. Saam met haar gaan hy na die kerk se dominee toe, wat die evangelie verder vir hom verduidelik. Deur trane sien Delisa hoe die man kniel en die Here vir genade en redding bid. Sy dink nie eers daaraan om die man nou by die polisie aan te kla nie. As God hom vergewe het, wie is sy om hom te vervolg? Die volgende Sondag sit die kaper en sy gyselaar saam in dieselfde kerk om die Here te dien. (Die Bode Aug.1999)
In ’n noodsituasie kan ons die Here aanroep om ons uit te red. “Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woonplek…” (Ps.27:5). “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle” (Ps.34:8). “In julle nood het julle geroep en Ek het julle gered” (Ps.81:8)
“Here, vandag soek ek veiligheid by U.”