Eie Verantwoordelikheid

LEES: Johannes 5: 24 – 29; 39 – 40

“Wie luister na wat Ek sê, en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe…hy word nie veroordeel nie…tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” (24,40).

Tom M. Olson stap ’n haarkappersalon bin­ne. Hy hoor ’n man sê: “Ek is ’n sondaar gebore. Ek kon dit nie verhelp nie en daarom is dit nie my skuld nie. As ek nou sonde doen, is dit nie my skuld nie en God kan my nie daarvoor veroordeel nie, al sê die predikers ook wat!” Olsen gereageer dadelik daar­op. “Vriend, die Bybel sê nêrens, Hy sal jou ver­oordeel omdat jy ’n sondaar gebore is nie, maar omdat jy ’n sondaar bly, omdat jy die Ver­losser wat Hy gestuur het, verwerp.” Hy kom ag­ter al die manne in die winkel luister na hom. Hy ge­bruik ’n illustrasie: “Ver­on­der­stel, iemand loop in die middel van die nag, by jou huis verby en sien jou huis is aan die brand. Hy maak jou wakker en waarsku jou. Maar jy jaag hom weg en sê jy het nie die brand veroorsaak nie en daarom is jy nie ver­antwoordelik daarvoor as jy doodbrand nie. Die brandweer daag op met klokkegelui en skreeu­ende sirenes, maar jy hou daarby, jy het nie die brand veroorsaak nie en hulle moet jou uitlos. As jy doodbrand: wie se skuld gaan dit wees?” “Die een wat die gebou aan die brand gesteek het,” volhard die man. “Nee, ou maat,” sê ’n man uit die stoel langs hom. “Dit gaan jóú skuld wees. Jy het kans gehad om gered te word en jy het geweier.” Daar was algemene in­stem­ming. Die oor­spronk­like prater gee halfhartig toe, betaal vir die haar­sny, neem sy kleingeld en gee pad.        Dit is ’n ge­vaarlike koers om God se dui­delike boodskap oor ons redding en die ewig­heid te weier: “Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie… hoeveel minder sal ons ont­kom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie…” (Heb.12:25).

“Here, vandag luister ek as U met my praat.”