Iemand om by te huil

Lees Johannes 11: 25 – 30

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (28,29 30)

In Baptist Standard word vertel van die dogter­tjie in die weeshuis, wat almal se aandag getrek het omdat sy nooit huil nie. Een van die huismoe­ders het op ’n dag met haar gepraat. “Hoekom huil jy dan nooit nie? Ek het jou nog nooit sien huil nie.” Die dogtertjie het geantwoord: “Vandat my mammie dood is, het ek nog nooit iemand gehad by wie ek kon huil nie.” Hartseer het nie net ’n oor nodig nie, maar ook ’n hart wat omgee en saam met jou voel en jou droefheid verstaan. Baie van ons loop ’n eensame pad en ons het niemand om by te huil nie. Wie gee genoeg om vir my hart­seer? Die skrywer van hierdie mooi storietjie in Baptist Standard sluit dit af met hierdie woor­de: “It was a glorious thing for every Christian that Christ said, ‘Lo, I am with you alway,”(Mat.28:20) meaning every day, under all circumstances. The Christian can cry to Him, call upon Him, trust in Him, and share with Him whatever come into life.”

Aan Christus kan ons ons hartseer, ons frustra­sies, ons behoeftes vertel. Hy nooi ons om dit te doen. Daar is ’n ou liedjie met die woorde: In die skadu van beproewing vind ek Jesus. Dit is die taal in die Psalms. In een asem kla Dawid sy lot by God en in die ander asem loof Hy God weer. Ons Vader in die hemel neem die pyn van ons leed weg en bedek die seer plek met die sagte salf van sy liefde en nabyheid. In die Ou Vertaling van ons Bybel, word die Heilige Gees genoem, die Trooster. Dit is die Heilige Gees wat ons inner­lik heelmaak as ons by die Here Jesus ons hart­seer na God ons Vader toe bring.

`n Onderwyseres het vir haar klas die teks ge­lees, waar Jesus sê: “My juk is sag, my las is lig.” “Wat is `n juk?” was haar eerste vraag. Dadelik het `n seuntjie geantwoord: “Dit is `n hout paal wat hulle op die nekke van diere sit.”  Toe vra die onderwyseres: “Wat is dan die juk waarvan Jesus gepraat het?” `n Rukkie was daar stilte. `n Dogtertjie steek die handjie op. “Juffrou, dis wanneer ons swaarkry en God sit sy arm om ons nekke.”

  “Here, vandag vertel ek vir U my leed.”