Kosbaar Bo Woorde

Lees Lukas 15:1-7

“Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer…” (7)

Bruce Crozier, ’n sewejarige seuntjie, het weggedwaal van sy pa se jagkamp in Arizona af. Na ’n week is hy byna 50km. van die kamp af opgespoor. Toe sy ma hom omhels, na hy gevind is, het sy uitgeroep: “Dis amper onmoontlik om te glo ek het my seun­tjie teruggekry!” Oorweldig deur blydskap het sy haar bewussyn verloor. Sy pa was in die veld, waar hy nagenoeg ’n duisend spoor­snyers en ander soekers na die seun, gelei het. Hy is telefonies in kennis gestel die seun is gevind. By die aanhoor van die nuus het hy ook sy bewussyn verloor. Hy het verwag hy is dood, of sy verskeurde liggaam­pie sal gekry word. Toe vind hulle hom lewend en gesond terug! Die oorweldigende blydskap van so ‘n pa en ma kan nie gepeil word nie.

Die Here Jesus het gesê:“Daar is blydskap in die hemel oor een sondaar wat hom be­keer.” Hy probeer vir ons daardie blydskap be­skryf uit ’n liefde wat ons ook ken: die liefde van ’n pa vir sy seun! Jesus het uit die gely­kenis van die verlore seun die pa se gedrag beskryf: “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom….Hy sê vir sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan …ons kan tog nie anders as om bly te wees nie…hy was verlore en ons het hom te­ruggekry!’”(Luk.15:20-30).

Nadat Jesus met die Sa­maritaanse vrou gepraat en Homself as Messias openbaar het, en haar uit haar sondige le­we tot redding gelei het, wil sy dissipels vir hom sy ete gee. Die vrou se redding het Hom egter tenvolle bevredig. Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie…My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi… Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes” (Joh.4:32-35). En Hy het hulle met sy bloed gekoop!



“Here, vandag wil ek my hart instel om in U blydskap te deel oor ’n verlore mens wat vir U gewen word.”