Hande wat leisels vashou

Lees Romeine 6: 16 – 18

“Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen” (18).

Prof. Henry Drummond, een van die vorige eeu se gevierde predikers, was een dag per koets tus­sen twee dorpe op reis. Die koetsier was `n vaar­dige koetsier, maar meesal was hy dronk. Dié be­paal­de dag was egter een van sy nugter dae. Dr. Drummond gaan langs die koetsier sit.

Hulle het lekker gesels. Meesal oor perde. Die man het dr. Drummond se belangstelling in sy ken­­nis en vaardigheid met perde geniet. Onder­weg swenk die pad langs `n gevaarlike afgrond ver­­by. Die koetsier hanteer die vurige perde met kon­sentrasie en behendigheid. Dr. Drummond prys hom opreg. Toe vra hy: “Wat sal gebeur as ék die leisels hou en die perde gaan hier op loop?” Die man lag. “Menéér! Dán is verongeluk ons voorland.” “Watter raad sou jy my gee. Wat sal jy my voorsê om te doen.” Die ou antwoord self­versekerd: “Ek sal net skreeu: ‘Gee vir my die lei­sels.’ Ek sou hulle góú bymekaar vat.” Dr. Drummond sit sy hand op die man se knie. “My vriend, is daar nie in jóú `n span wilde perde wat keer op keer met jou op loop gaan nie?” Die man laat sy kop hang. Hy weet presies waarvan dr. Drum­mond praat. Na `n paar oomblikke van stilte tussen die twee, sê dr. Drummond: “Daar is Ie­mand wat jou span wilde perde bymekaar kan vat en beheer. Géé vir Hom die leisels.”

Die geselskap het tussen hulle opgedroog. In stil­te het hulle hulle bestemming bereik. Dr. Drum­mond groet die koetsier en bedank hom weer vir sy goeie werk. Hy hou sy hand `n oomblik vas,  sê dringend: “Géé vir Hóm die leisels.”

Meer as `n jaar later moes dr. Drummond weer langs dieselfde roete reis. Dit kom so dat dieselfde koetsier by die koets is. Toe hulle by mekaar kom, lig die koetsier sy pet op en sê met `n blye glimlag vir dr. Drummond: “Meneer, ek het toe vir Hom die leisels gegee.”

Die roete van `n lewe wat in die Here Jesus se hande gegee is, loop dikwels ook langs gevaarlike steiltes verby. Omstandighede is nie altyd maklik nie. “Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm” (Ps.121:7). In die hart is ook wilde perde wat kan handuitruk. Sondige drifte wel ook in die kind van God se hart op. “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor be­geertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil … “ (Gal.5:16,17). Met die leisels van ons lewe in die Here Jesus se onfeilbare hande is ons altyd veilig. Dit verg `n daaglikse oorgawe van ons wil aan die Here, om ons lewe se leisels in sy hande te laat bly.

“Here, vandag gee ek die leisels van my lewe in u hande.”