Hy weet hoe dit voel

Lees Jesaja 50: 4 – 9

“Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weg­ge­draai toe ek bespot en bespoeg is nie” (6)

Joni Eareckson Tada was na ’n mo­tor­ongeluk ’n kwa­­drupleeg, wat beteken alvier haar ledemate was verlam. In sy boek, Healing for Damaged Emotions, vertel David A. Seamands hoe sy in die beproewing van haar onge­luk Christus as haar Verlosser leer ken het. Die fi­siese en emosionele eise van die ongeluk en haar totale ver­lamming was egter vir haar te groot om dit gees­te­lik te hanteer. Haar vriende het gereeld die lang pyn­like nag­­te saam met haar deurgemaak. Een nag, in die greep van diepe depressie, vra sy vir Cindy, die vrien­din wat dié nag by haar is, om vir haar ’n handvol pil­le in te gee. Sy wil nie meer leef nie. Die vriendin wei­er verskrik. Joni roep uit: “Ek kan nie eers sélf pille vat om te sterf nie!” Woede, bitter­heid en emosionele pyn oor­wel­dig haar. Sy val snikkend terug op haar bed. Cin­dy soek benoud na iets om te sê om Joni te troos. Skie­lik stamel sy dit uit: “Joni, Jesus weet hoe jy voel. Jy is nie die enigste een wat verlam is nie. Hy was ook ver­lam.” Joni gluur haar aan: “Cindy, waarvan praat jy?” “Dit is waar! Dit is waar, Joni. Onthou hy was vas­ge­spy­ker aan die kruis. Sy rug was rou van die ge­sel­houe, soos jou rug ook partykeer seer en rou word. O, hoe het Hy nie verlang om net te kon roer nie, effens van po­si­sie te verander en om te draai nie. Maar Hy kon nie roer nie, Joni. Hy weet hoe jy voel.” Joni het nog nooit so daar­aan gedink nie. Later het sy gesê: “God het so na­by aan my ge­kom. My vriende se aandag en liefde het vir my so kosbaar geword. Jesus het vir my so ’n naby Vriend geword. Ek het besef God het my lief.”

Jesus het Hom nie net met ons sondes ver­eenselwig om vir ons ‘n verlosser te wees nie, maar ook met ons fi­siese lyding om vir ons ’n simpatieke Helper te wees. Ons moeilike om­stan­dighede ken Hyself. “Jesus sê vir hom: ‘Die jak­kal­se het gate en die voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie’” (Mat.8:20). Daar­om roep Jesus ons na Hom toe: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Mat.10:28-30).

“Here, vandag neem ek my toevlug tot U.”