Gaan my nie verby nie!

Lees Lukas 18:35-43

“Hulle vertel hom toe: ‘Jesus van Nasaret gaan hier verby’”(37).

Fanny Crosby, wat baie liedere geskryf het en wat selfs nou nog gesing word, was blind. Sy het ’n brandende liefde vir die Here gehad. Sy sou na enige plek toe gaan om ander van Jesus te vertel. Eendag het ’n evangeniskape-laan haar op sy besoek aan ’n tronk saamgeneem. Sy het met die gevangenes oor Christus gepraat: “Hy sal in jou hart kom en jou lewe nuut maak as jy hom om genade en vergifnis sal vra.” Terwyl sy praat het ’n ou gevangene, wat al baie jare in die tronk was begin uitroep: “O, Here, gaan my nie verby nie. Wees my, ’n sondaar, genadig. Ag, gaan nie by my verby nie.” Sy ernstige smeking het Fanny diep in haar hart getref. Toe sy by haar huis kom, gaan sy dadelik na haar kamer toe, sluit die deur en sy skryf die lied wat nou nog ons harte raak:

Gaan my nie verby, o Heiland, Gaan my nie verby!

Wyl U ander seën, Heiland, seën nou ook my!

Op u soenbloed pleit ek, Heiland,

Wees my hulp en steun!

Wees my Voorspraak en my Midd’laar,

 Hoor my, o Gods Seun!

Jesus, Heiland, wees my nou naby,

Wyl U ander seën, Heiland, seën nou ook my!

“Here, vandag pleit ek ook: ‘Gaan my nie verby nie.`”