Wat mense wil hê

Lees Matteus 11:16-19

“Ons het vir julle op die fluit gespeel en julle het nie gedans nie! Ons het ’n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!”(17)

 Die bekende sendelingpionier, C. T. Studd, vertel die storie van die meulenaar se donkie, om te verduidelik (seker uit eie ervaring!) hoe onmootlik dit is om álle mense áltyd tevrede te stel.

Die meulenaar, sy seun en die donkie het mark toe gegaan. Die meulenaar het op die donkie gery. Toe sê die mense: “Wat ’n wrede man! Hy ry op die donkie en sy seun moet loop.” Hy klim af en laat sy seun ry. Daarop het die mense gereageer: “Wat ’n bedorwe kind! Hy ry op die donkie en sy arme pa moet loop.” Die pa en seun besluit om saam op die donkie te ry. Hierop was die mense se reaksie: “Dis wreedheid teenoor diere! Kyk net die arme donkie. Hy moet altwee dra.” Die twee klim toe maar van die donkie af, sê die storie, maak hom aan `n paal vas en so dra hulle hom. Die mense het gelag en gesê: “Kyk twee donkies dra ‘n ander donkie!” Hulle het die donkie toe losgemaak en aldrie het saam mark toe gestap. Hierop was die mense se reaksie: “Hoe dom kan ’n mens tog wees! Hulle het ’n donkie, maar ry hom nie.” `n Ongelooflike en lawwe storie, maar `n groot waarheid word oorgedra! `n Oorvloed oral van kritiek,.

Hieruit leer ons: Ons moet geduldig voortgaan met ons roeping en ons nie deur mense se opmerkings en reaksies van stryk laat bring nie. Sekerlik is daar mense na wie se raad en kritiek ons moet luister. Hulle kén ons en ons omstandighede, en na húlle moet ons ook luister

“Here, vandag kyk ek na Ú en ek wil hoor wat Ú van my verlang.”