Vry 30 Okt: Verlengde Preektema

Lees Jesaja 40: 9 – 11

“Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms… Hy sorg vir die lammerooie” (11).

Eerw. R. I. Williams het sy plaaslike koerant, die Norfolk Ledger Dispatch, gebel om die tema van sy preek, vir die komende Sondag, te verstrek. “Die tema is ‘Die Here is my Herder’,” sê hy vir operateur in die koerantkantoor. Die man vra: “Is dit al?” Eerw. Williams antwoord: “Dit is genoeg.” Die Saterdagoggend kondig die koerant eerw. Williams se preektema toe ook so aan: “Die Here is my Herder – dit is genoeg.” Die leraar was so in sy skik met die verlengde tema van sy preek, dat hy dit in die Sondagoggenddiens in die Fairmount Park Methodist Church net so gebruik het. Die kern van sy preek was: As die Here ons Herder is, is dit genoeg. Ons het nie ander hulp nodig nie!

Jesus het Homself, in Johannes 10, die Goeie Herder genoem. “Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit…(hulle) sal in en uit gaan en weiding kry…Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape…Ek ken my skape, en my skape ken My.” Ons het nie méér beskerming en versorging as dít nodig nie! Dit is vir ons waarlik genoeg!

“Here, vandag soek ek by U my versorging.”

Do 29 Okt: Daardie Uitroep

Lees Jakobus 3: 5 – 12 – Lewende Bybel

“Uit dieselfde mond stroom … lofliedere en vloeke” (10)

’n Jongman was ’n groot vloeker, maar dit het hom nie gehinder nie, skryf Keith L. Brooks. Hy trou toe met ’n pragtige Christenmeisie. Daarna begin hy sy vloekgewoonte in ’n ander lig sien en probeer hy om dit af te leer. Een Sondagoggend, voor hulle sou kerk toe gaan, staan hy en skeer. Hy sny hom raak. Voor hy homself kon keer roep hy ergerlik uit: ”God!” Toe eers sien hy hoe sy vierjarige dogtertjie, pop in die arms, vir hom staan en kyk. Sy sit haar pop neer en kyk met vonkelende ogies rond in die badkamer. “Is God hier?” vra sy opgewonde. Die man word rooi in die gesig en skaam vra hy: “Hoe­kom vra jy so?” “Ek het gedink God is hier want ek het gehoor Pappa praat met Hom.” Sy sien die ont­nugterde uitdrukking op sy gesig. “Roep Hom weer, Pappa. Ek weet Hy sal kom as Pappa Hom roep.” Die kindjie se woorde sny diep in sy hart in. Hy tel haar op in sy arms en met ’n snik druk hy haar teen hom vas en vir die eerste keer roep hy regtig tot God, om hom te vergewe en hom sy kind te maak en hom te help om soos ’n Chris­ten te lewe. In daar­die oomblik het hy vry geword van sy vloek­ge­woonte. Saam met sy vrou het hy ’n toegewyde Christen geword.

As ’n vloekwoord in ’n gesprek uitglip, is dit soos wanneer ’n mens ’n brief skryf en elke nou en dan is daar ’n klad. Die ergste vloekwoorde is seker wanneer ons die ewige en almagtige God se Naam vir ’n vloekwoord gebruik; of die Naam van die Here Jesus Christus, wat vir ons gely en gesterf het om ons te red, vir ’n vloekwoord gebruik.Die Here se woord praat met ons oor die vloekgewoonte. Dit lyk of dit onder die vroeë Christene ook ’n probleem was. In meer as een sendbrief praat die apostels oor die probleem van kwaadword en vloek: “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie…” (Ef.4:31). “Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie…” (Kol.3:8). Gelukkig gebruik Jakobus bemoedigende woorde, (vir ons) as hy oor die tong se onbedwingbaarheid skryf: “Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak…” (Jak.3:2). Ons verdere bemoediging in ons struikelinge kom uit 1 Johannes 1:9: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

“Here, vandag wil ek versigtig wees met wat ek sê en uitroep.”

Wo 28 Okt: Koning of Eerste Minister

Lees Markus 12: 35 – 37

“Die Here het vir my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand…’ Dawid self noem Hom Here…” (36)

Eerw. G. W. Moore vertel in een van sy boeke van ’n man, wat aan die einde van een van die jaar­likse, geestelike Keswick-konferensies in Engeland, getuig het van die groot geestelike seën wat hy ont­vang het. Die leier van die getuienis­diens wou hê die man moet meer spesifiek wees en sê hoe­danige seën hy ontvang het. Hierop het die man dit soos volg verduidelik: “Ek was reeds ’n Christen voor ek na Keswick toe gekom het. Christus was my koning. Maar hy was net ’n konstitusionele koning en ek was steeds die eerste minister in my lewe. Ek het besluit wat ek doen en hoe ek lewe. Christus was die koning op die agtergrond en moes net sy stempel van seën op my doen en late plaas. Hier het ek na die predikers geluister wat, soos die Nuwe Testament dit leer, oor volkome oorgawe aan Christus gepreek het. Ek het ’n nuwe ontmoeting met die Here gehad. Deur die krag van die Heilige Gees het ek Hom nou absolute koning in my lewe gemaak. Hy regeer nou oor my en ek dien Hom. Dít is die seën wat in my lewe ingekom het.”

In Markus 12 (bo) wys Jesus die skrif­geleerdes daarop dat koning Dawid die Messias, Christus, Here noem. Dawid het Christus se gesag bo sy eie koningskap verhef. As gelowiges behoort ons aan die Here en ons glo in Hom en dien Hom. Daar is egter ’n Christenskap wat dieper loop as net geloof. Dit is oorgawe aan die Here. So ’n Christenskap word dissipelskap genoem. In Calvary Church News word ’n onderskeiding tussen gelowig wees en dissipel wees, gemaak:

Om ’n gelowige te wees, kos niks. Om ’n dis­si­pel te wees is duur. “’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle:… ’Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie’”(Luk.14:25-27). Christenskap beteken ge­loof in Christus, maar dis­si­pelskap is die uit­leef van hierdie geloof. Ek glo in Christus se verlossingswerk aan die kruis vir my, maar dis­sipelskap is die resultaat van sy verlossing in my lewe.

Gelowiges stel hulleself eerste, dissipels stel Christus eerste. Gelowiges word aan hulle woorde geken, dis­sipels word aan hulle vrugte geken. Geloof red my siel, maar dis­si­pelskap verheerlik Christus. Gelowiges word soms weens hulle gedrag en taal nie as Christene geken nie, maar dissippels is as Christene bekend. Gelowiges gaan hemel toe; dissipels ontvang daar beloning. “Julle moet baie versigtig wees sodat julle die hele beloning kan ontvang wat God beloof het. (2 Joh. vrs 8 Lew.Byb).

“Here, vandag wil ek u dissipel wees.”

Di 27 Okt: Maak Ruimte vir Ander

Lees Filippense 4: 2 – 9

“Wees inskiklik teenoor alle mense” (5).

Die skilderkunstenaar, Turner, se werke het die kenmerk van buitengewone helder kleure gehad. Werke met stiller kleure, het afgesteek langs Turner se werke, met hul intense, helder kleure. In 1826, vertel Moody Monthly, is sy groot werk van Co­logne by ’n uitstalling vertoon. Sy skildery, met die oor­wel­digende helder kleure, is tussen twee werke, deur Sir Thomas Lawrence, gehang. Lawrence het dadelik die effek, wat Turner se helder kleure, op sy stiller kleure, gehad het, bemerk. Dit het sy werke dof gemaak. Hy het ongelukkig en verneder gevoel. Hy het beswaar gemaak teen die plasing van sy werke langs Turner s’n, maar sonder suk­ses. Tur­­ner het besluit om iets aan die saak te doen. Hy het sy helder kleure dowwer gemaak en sy skildery was nie langer ’n bedreiging, om die waarde van Lawrence se werke, te skaad nie.

’n Vriend van Turner, wat die treffende skilder­stuk, met die oorweldigende kleure, voor­heen gesien het, bring die oggend van die uitstalling, ’n klompie vriende saam, om met sy vriend se werk te spog. Toe hulle voor die skildery kom, steier hy ver­bysterd terug. Die vlammende blou lug, was nou ’n dowwe, bruin kleur – die prent is be­derf. Toe hy Turner sien, hardloop hy letterlik na hom toe, om te vra, wat met sy voortreflike skildery gebeur het. “Dis nie so erg nie,” maak Turner hom stil en knipoog vir hom. “Ek het roet gebruik wat na die uitstalling met water van die olieverf afgewas kan word. Ek kon dit net nie verdra om arme ou Lawrence so ongelukkig te sien en te weet dit is deur my toedoen nie. Ek het toe minder geword, sodat hy meer kon word.”

Ek kon nie vasstel of Turner ’n uitgesproke Christen was nie, maar sy gedrag, moontlik gebore uit die kunstenaar se aanvoeling, van wat mooi en goed en reg is, het iets verraai van die soort lewe wat Christus by sy volgelinge soek: bevoordeel ’n an­der, maak ’n ander gelukkig, moenie vir ’n ander ’n struikelblok en hindernis wees nie. Die geheim van die aantreklike Christenlewe, is om deur die Heilige Gees, uit Christus se eie lewe, te leef en nie aangespoor te word, deur ons eie natuurlike en gebrekkige motiewe nie. “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe” (Ef.4:15). Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig …want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry” (1 Pet.3:8,9).

“Here, vandag wil ek my lewensmotivering uit Jesus put.”

Ma 26 Okt: Self is in die Pad

Lees Johannes 3: 22 – 36

“Hy moet meer word en ek minder” (30).

‘n Dogtertjie het saam met haar pa en ma in ‘n Christen-vriend se huis oorgeslaap. Bokant die bed se koppenent, het ‘n duidelike prent van die Here Jesus, teen die muur gehang. Die eerste oggend toe die dog­tertjie wakker word, kyk sy in die groot spieël, teen die muur aan die voetenent van die bed. Sy sien die prent bokant haar kop in die spieël gereflekteer. “Mamma!” roep sy verras uit. “Ek sien liewe Jesus in die spieël.” Sy sit dadelik regop om beter te sien, maar toe kom sy tussen die prent en die spieël. In plaas van die prent van Jesus, sien sy toe haarself in die spieël. Sy gaan dadelik weer lê en toe sien sy natuurlik weer Jesus se prent in die spieël. Haar pa, wat die storie in die Ca­na­dian Baptist vertel, sê dit het ‘n hele aantal op en af po­sisies van sy dogtertjie ten gevolg gehad, waarna sy, in die lêposisie, vir haar ma sê: “Mamma, elke keer as ek myself sien, sien ek nie vir liewe Jesus nie, en elke keer as ek nie myself sien nie, sien ek liewe Jesus.”

Die kern van ‘n groot geestelike waarheid word deur hierdie kinderlike verhaal blootgelê. Selfbewust­heid en die verheffing van ‘n mens self, vertroebel die bewustheid van die Here Jesus se teenwoordigheid in die hart. Hoe kleiner ‘n mens in eie oë en ander se oë probeer wees, hoe meer word die Persoon van Christus verheerlik. “…ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal.2:19,20).

“Here, vandag wil ek minder wees, sodat U meer kan word.”

Vry 23 Okt: Geestelike Rykdom se Prys

Lees 1 Tessalonisense 1: 1 – 10

“Onder baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met … blydskap … van die Heilige Gees” (6)

In The Pilgrim skryf Dr. Harry Ironside, hoe hy as jong prediker, die bejaarde Alexander Fraser be­soek. Met geboeide aandag luister hy hoe die ou dienskneg van die Here die een Bybelwaarheid na die ander ophaal en oopbreek en van verskillende kante belig. Hy kon homself later nie meer bedwing nie en roep uit: “Waar het u aan dit álles gekom?” Die ou man antwoord: “Op my knieë op die grondvloer van ’n hutjie in die noorde van Ierland. Met die Bybel oop voor my het ek vir ure knielend gelees en gebid, dat die Gees van God Christus aan my siel sou openbaar en sy Woord vir my hart sou open. Hy het my meer van sy Woord en sy koninkryk geleer, as wat ek in enige universiteit, kollege of kweekskool sou kon leer.

Ons kennis en hantering en begrip van die Bybel hangaf, soos alle ander dinge wat ons beoefen, van die plek wat dit in ons daaglikse lewe inneem. Iemand wat op sportgebied net aan wedstryde wil deelneem, maar nooit wil oefen nie, kry nie die vaardigheid in die spel van die spelers wat getrou en baie oefen nie. Dit is die Christen wat tyd maak vir stiltetyd, Bybelstudie en gebed, wat in sy geestelike lewe kragtig ontwikkel.

“Here, vandag wil ek met brandende hart meer van U leer.”

Do 22 Okt: 'n Brugbouer

Lees Romeine 5: 1 – 6

“Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is… (2)

Die dorpsraad van ’n plattelandse dorp, het ’n dik waterpyp oor ’n diep en lang sloot gelê, om vir ’n woon­buurt meer water te voorsien. Nie lank nie of die inwoners, en veral die kinders, het, tot ergernis van die raadslede, oor die waterpyp kortpad dorp toe en skool toe begin loop. Die lopery oor die pyp het nie alleen skade vir pyp nie, maar ook gevaar vir die gebruikers ingehou. Iemand kon afval en die sloot was regtig diep. ’n Raadsvergadering is belê, om vir dié nuwe probleem ’n oplossing te kry. Een raadslid stel voor: “Draai doringdraad om die pyp.” “Lemmetjiesdraad,” verbeter ’n ander raadslid die eerste voorstel. “Lang, skerp pen­ne moet onder in die sloot ingeplant word. Dit sal die mense afskrik,” was ’n ander voorstel. Toe daar stilte kom na al die afskrikplanne oorweeg is, vra ’n raadslid, wat heeltyd in stilte na alles geluister het, ook ’n spreek­beurt. “Ons is verantwoordelik vir ons dorpsmense se vei­ligheid én ook hulle gerief. Die misbruik van ons wa­ter­pyp toon, ’n behoefte aan so ’n kortpad, bestaan. Ek stel voor ons versterk die pyp en bou ’n brug oor die pyp, met reëlings aan die kante vir veiligheid.” Sonder verdere bespreking is sy voorstel eenparig aanvaar.

Ons is dikwels in die posisie om vir iemand anders ’n hek op te rig, óf om vir hom ’n brug te bou. Psalm 15 beskryf ’n man in ’n geëerde posisie: “Wie mag op u heilge berg vertoef? Hy wat …doen wat reg is…nie kwaadpraat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie.” God het ’n groot behae in ’n mens wat aan ’n ander goed doen. Die hekoprigter is gewoonlik iemand, wat in eie hart ongelukkig en onbevredig is en dan die eie on­gelukkigheid, ten kwade laat oorvloei na ’n ander toe en dan nog ongelukkiger word. Die brugbouer is iemand wat in eie hart gelukkig en tevrede is en die eie ruimhar­tig­heid, ten goede laat oorvloei, na ’n ander toe en dan self nog gelukkiger word. “Moenie ’n weldaad weer­hou ter­wyl dit in jou mag is om dit te bewys nie” (pr.3:27). “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen…”(Gal.6:10).

“Here, vandag wil ek vir my medemens ‘n brug bou.

Wo 21 Okt: Dieper Water

Lees 2 Korintiërs 12: 1 – 10

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis in volle werking wanneer jy swak is” (9)

Die Sjinese Christenleier, Ni To-sheng, beter bekend as, Watchman Nee, het vir net meer as 20 jaar in die kommunistiese tronk in Sjina deurge­bring. Self het hy net een boek geskryf en laat pu­bliseer. Sy preke, lesings en korrespondensie het egter bewaar gebly. Daaruit het A. I. Kinnear, self ’n sendeling in Indië en persoonlike vriend van Nee, verskillende boeke, sommige ook aan ons bekend, saamgestel: The Normal Christian Life, Changed into His Likeness, Love not the World, Table in the Wilderness en nog ander. Table in the Wilderness is ’n dagboek. In 4 Junie se dagstukkie skryf Watch­man Nee, hoe hy die Here gevra het om ’n moeilike beproewing weg te neem. Soos Paulus het hy in sy hart ook God se antwoord: “Nee” ontvang. Saam met die wete, die Here gaan nie sy probleem wegneem nie, kom in sy hart die beeld van ’n rivier­boot, wat nie in ’n nou stroom, tussen twee hoë walle, kan deurvaar nie. In die middel van die nou stroom, rys ’n meter hoë rots op van die bodem af. As die rots nie verwyder word nie, watter ander op­lossing bly oor? “Dieper water”, kom die antwoord in sy hart. Dan kan die boot oor die rots vaar. Chris­­tenskap, skryf hy, is nie ’n saak van rotse wat verwyder moet word nie, maar van dieper vaar­water.

Van so ’n man kan ons so ’n boodskap aan­neem, want ten spyte van al sy swaar beproewinge, het hy oorwinnend gesterf. Oor `n brief, wat hy so kort voor sy dood, aan sy suster geskryf het, skryf Kinnear: “He concludes on a note of joy, and those who knew him will feel this is wholly in cha­racter. There is no self-pity, for his concern, is for the letter’s recipient, that the inward joy he is experien­cing may be her experience also.”

Hoe kry ons dieper vaarwater, sodat ons ook oorwinnend bo-oor die versperrende rotse kan vaar? Die Here Jesus het self so ’n weg gevolg: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied” (Lukas.22:42). Die Here Jesus moes bo-oor sy versperring vaar. Hy het dit oorwinnend gedoen: “Dit is volbring!…Vader, in u hande gee Ek my gees oor”(Joh.19:30 & Luk.23:46). Uit die Skrif leer ons God se beloftes en die openbaring van sy hart ken, soos Christus ons dit kom leer het en soos die Heilige Gees dit in ons hart vertolk, As ons tyd neem om deur gebed die Here se aangesig te soek, met Hom om te gaan en in die hart na Hom te luister, neem die Heilige Gees van ons hart besit en gee ons Christus se opstandings­oor­winning.

“Here, vandag soek ek biddend uit u Woord dieper vaarwater.

Di 20 Okt: Te Kosbaar

Lees Jesaja 49: 14 – 18

“Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor haar kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie” (15).

’n Vrou, met ’n klein kindjie, het ’n tyd van be­proe­wende omstandighede beleef. Haar dominee het haar besoek en haar in ’n diep neerslagtige toe­stand aangetref. Haar kindjie was aanhoudend knie­serig en lastig. Haar man was siek, maar moes gaan werk om nie sy werk te verloor nie. Haar gro­ter dogtertjie, Marí, was in die hospitaal. Die ma self, het aanhoudend hoofpyn gehad. “Alles loop met my verkeerd, Dominee. God het van ons ver­geet en Hy het my verlaat.” Die verstandige do­mi­nee, wat die vrou goed geken het, het met groot simpatie gevra: “Eintlik is dit die baba, wat nou tandjies kry, wat jou met sy aanhoudende gekerm gedaan maak, nie waar nie?” “Ja, dis reg, Dominee. Ek kan dit nie uithou nie.” “Hoekom raak jy nie van hom ontslae nie? Ek sal die deur oophou en dan smyt jy hom uit.” Geskok roep die ma uit: “Nooit!” en sy druk die kindjie styf teen haar vas. “Vir niks in die wêreld sal ek só iets doen nie!” “Sal jy regtig dit nie doen?” “Dominee, u ken my. U weet ek sal dit nóóit doen nie!” Sy vee met die rug van die hand oor haar nat oë. “Hoekom dan,” vra die dominee baie teer, “dink jy dan dat God jou minder liefhet as wat jy jou baba het? Dink jy nie jy kan op God staatmaak om julle deur julle probleme te dra nie?” Stadig breek ’n glimlag deur die trane. “Natuurlik, Dominee. Ek weet Hy sal! Dankie, Dominee.”

So ’n oorweldigende donker tyd is nie vir gelowiges ’n seldsame ervaring nie. ’n Herinnering aan God se liefde vir ons bring vir ons lig. “En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin” (1 Joh.4:16). Dawid het dit so beleef: “My hart krimp inmekaar in my, doods­angs oorval my, vrees en skrik oorweldig my, my hele liggaam bewe” (Ps.55:5,6). Dan vestig hy sy vertroue in God en skep weer moed: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan’n blote mens my doen” (Ps.56:54). Paulus het ook so ’n bedruktheid van gemoed geken en toe deur sy vertroue in God moed gekry: “Van alle kan­te af het probleme op my toegesak. Daar was argu­­- men­te met ander mense, en in my eie gemoed was daar dinge wat my bang gemaak het. Maar hoe kan God nie ’n mens wat terneergedruk is weer moed gee nie!” (2 Kor.7:5,6 Lew.Bybel). Selfs die Here Jesus het dit geken en daarom kan hy saam met ons voel, wanneer ons in so ’n bedrukte en vertwyfelde stemming is: “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader red my uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!” (Joh.12:27). Keer met verwagtende geloof na God toe. Vertel Hom u nood en behoefte en bedruktheid. Vertrou Hom! “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle”(1 Pet.5:7). Psalm 103 benadruk God se hou­ding teenoor ons: “Soos `n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Ps.103:13.14 Ou Vertaling.)

“Here, vandag gee ek my bedrukte hart se las aan U oor.

Ma 19 Okt: U Stok en U Staf

Lees Psalm 23 OU VERTALING

“…ek sal geen onheil vrees nie…u stok en u staf dié vertroos my” (4).

In 1849 het dr. Duff naby Simla aan die voet van die reuse Himalajagebergte gereis. Eendag lei sy roete teen die berg op. al langs ’n nou voetpad, wat teen ’n steil rant uitgekap is. Hy sien hoe ’n herder met sy kudde met die voetpad langs die berg afkom. Die voetpad loop een kant, naby ’n diep afgrond langs, verby. Die herder loop voor en sy skape volg. Elke nou en dan gaan die herder staan en kyk terug hoe sy skape hom volg. In sy hand hou hy ’n stok, langer as hyself, vas. Om die een punt van die stok was ’n metaalband met ’n ronde haak aan, gedraai. Om die ander punt was daar ook ’n metaalband gedraai, maar ’n plat, swaar yster, steek daar uit. Dr. Duff staan aan­gedaan na die herder se manier van doen en kyk. As een van die skape teen die berghang probeer uitklouter, haak hy die haak om die skaap se agter-been en trek die skaap versigtig terug op die voetpad. Dieselfde as ’n skaap dit te naby die afgrond waag. Dr. Duff vra hom oor die plat, ysterdeel, van sy stok. “Hiermee slaan ek enige ongedierte of iets wat die skape bedreig,” verduidelik die herder selftevrede. “Voel,” nooi hy en gee sy stok in dr. Duff se hande. Die slaandeel van die stok was swaar. Hy kon ’n wolf of jakkals daarmee selg seermaak, dalk selfs doodslaan. Hy gebruik dit veral snags dikwels, vertel die herder. Dit is die tyd wanneer ongediertes kom om die skape kwaad aan te doen.

Dr. Duff dink aan Psalm 23 en verstaan wat die herder se stok en staf regtig beteken. Dit is hoe ons groot en goeie Herder ons bewaar. Met die stafdeel trek Hy ons terug op die regte koers, met die stokdeel verdedig en beskerm Hy ons teen gevaar. “Die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape. ’n Huurling…as hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar…Ek is die goeie herder. Ek ken my ska-pe…en Ek lê my lewe af vir die skape” (Joh.10:11-15).

“Here, ek voel vandag veilig onder u troue sorg.”

Vry 16 Okt: Die Koning by ons

Lees Lukas 19: 28 – 44

“Toe bring hulle die donkie na Jesus toe…en help Jesus opklim…Hulle het gesing: Loof die Koning… wat in die Naam van die Here kom!”(35).

Henry Pollock vertel van ’n man wat tydens die Tweede Wêreldoorlog, ‘n werkswinkel van ’n wapenfabriek in Londen besoek het. ’n Man agter sy draaibank het vir hom baie na die koning van Engeland getrek. Tot sy verbasing ontdek hy, dit ís regtig die koning wat daar staan en werk. Hy hoor toe die koning kom elke dag, nadat hy sy dag se verpligtinge nagekom het, in die werkswinkel werk om saam met sy mense wapens te maak.

Vir die vakmanne en arbeiders in daardie werks­winkel moes dit ’n groot voorreg gewees het om die koning so by hulle te hê. Sou hy hulle wel toegelaat het om vrymoedig met hom te praat, hulle be­hoeftes vir hom te vertel, sy hulp en sy raad oor sake te vra? Ons wil graag glo dit was wel die geval. Die Koning van die hemel het ook by sy mense kom woon. “En die Woord het mens geword en onder ons kom woon …vol genade en waarheid” (Joh.1:14). Dit is steeds ons groot voorreg. Die Here Jesus het na sy hemelvaart deur die Heilige Gees na ons toe teruggekom: “Ek sal julle nie as wees­kinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe…dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly, en wan-neer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees stuur, sal hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:18,25). Deur gebed het ons gedurig, deur die Heilige Gees se inwoning in ons hart, toegang tot die Koning! Ons sien in geloof sy aangesig; ons bewonder Hom en aanbid Hom en bring ons behoeftes vrymoedig na Hom toe: “…waar die Gees van die Here is, is daar vryheid… met onbedekte gesig, soos in ’n spieël (aanskou) ons die heerlikheid van die Here …” (2 Kor.3:17,18 Ou Vertaling).

“Here, vandag vereer en aanbid ek U, my Koning en Here.”

Do 15 Okt: Uit Genade Alleen

Lees Romeine 3: 21 – 28.

“ … deur sy genade, sonder verdienste geregverdig …” (24)

Martin Luther, die bekende kerkhervormer, was ‘n briljante wetstudent. Op 2 Julie 1505 oorval `n skrik­wekkende don­der­storm hom. In sy angs lê hy ‘n gelofte af om mon­nik te word as die Here sy lewe spaar. Hy het da­delik aangesluit by die Au­gus­tynse Swart­kloos­ter. In 1507 is hy tot priester ge­wy. In 1512 begin hy in Wittenberg dogma­tiek doseer. In die proses van sy Bybellesings, wek Romeine 3:23, “… want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God …”, ‘n swaar skuld­besef in hom op. Sy middeleeuse begrip van God as on­genaakbare Wêreldregter dompel hom in fol­terende angs en ver­twyfeling. Die Roomse Kerk het wel sondevergifnis verkondig, maar dit ge­knoop aan die voorwaarde van volkome be­rou en boe­te­doening en werkheiligheid. Luther pro­beer vrede met God vind deur boete­doening, goeie werke, kastyding en vas. Party dae was hy te swak om uit sy bed uit op te staan as gevolg van sy lang sessies van vas en gebed. Maar dit bly stik­donker in sy siel. Op ‘n dag lees hy Ps. 71:1,2: “By U, o Here, skuil ek … red my deur u geregtig­heid en bevry my; neig u oor tot my en verlos my.” ‘n Straaltjie lig breek deur. Miskien verdoem God nie net nie, redeneer hy met hom­self, miskien ver­leen Hy aan mense gereg­tigheid. Op ‘n dag lees hy, as­of vir die eerste keer, Romeine 1:7: “… die reg­ver­dige sal uit die geloof lewe.” Ook Romeine 3:28: “Ons neem dus aan dat die mens geregver­dig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” Hiermee breek die lig van God in sy siel deur. Hy verstaan dit: Christus het die geregtig­heid (om in God se oë goed te wees) vir ons aan die kruis ver­werf en God gee dit as ‘n ge­skenk aan die son­daar wat vir homself niks kan doen nie. Hierdie geskenk van God moet in geloof aangeneem word.

Die pad wat Luther by die redding in Christus uitgebring het, lê in die Bybel uitgestippel. Die Heilige Gees gebruik ons Bybellees om die He­re Jesus se evangelie aan ons harte tuis te bring.

“Here, vandag dank ek U vir u groot geskenk van vergifnis.”

Wo 14 Okt: Geslypte Spoelklippe

Lees Romeine 5: 1 – 5

“Ons verheug ons ook in die swaarky…” (3)

Aan die kus van Pascadero, California, is die be­roemde Pebble Beach. Onophoudelik donder en breek die branders tussen die klippe van daardie kus. Genadelose branders breek en gooi die klippe rond. Skuur dit. Slyp dit. Onophoudelik, dag en nag, gaan dit so voort. Van oral af kom toeriste om hier­die kus se gladde, rond en blink geslypte spoelklip­pe op te tel, om op hulle eie uitstalornamente vas te plak. Nie ver van Pebble Beach af nie, is nog ’n strand met ’n rykdom van klippe. ’n Krans beskerm die baai en anders as by Pebble Beach, is dit daar stil en kalm. Niemand gaan ooit op daardie strand spoelklippe soek nie. Daardie kalm strand se klip­pe is grof, hoekig en natuurlik dof.

’n Mens se geestelike karakter het vorming no­dig. Teleurstelling, teëspoed, droefheid is die bran­ders wat ons geestelike gehalte vorm. Job was ’n blink geskuurde juweel en pryk in God se ver­toon­kas, die Bybel. Abraham, Moses, Dawid en baie ander van God se juwele kan in die Bybel aan­skou word. Hulle het almal onder groot branders deur­ge­loop. As ons in ons natuurlike, menslike krag deur die groot lewensbranders getref word, sal dit ons fyn maal en nie blink skuur nie. Die inwoning van die Heilige Gees, ons Voorspraak, die Here Jesus se voorbidding en die lering en onderrig van God se woord, is nodig om ons in die hande van God vormbaar te maak. Geen beproewing is te groot as ons in God se teenwoordigheid verkeer nie. “Moe­nie bang wees nie…jy is Myne. As jy deur die water moet gaan is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; …die vuur sal dit jou nie skroei nie… want Ek is die Here, jou God…” (Jes.43:1,2).

George Müller skryf so hieroor: “In cases of deep affliction nothing, nothing, nothing will do, but to be assured, in our inmost souls, of the infinite wisdom of God, of the power of God.” George Müller wys ons terug na God se woord toe: “Dit is my troos in my ellende: dat u beloftes my in die lewe hou…Ek onderhou u bepalings van altyd af, Here, dit gee my vertroue” (Ps.119:50,52).

“Here, vandag wil ek vertrou in u Hand wat my vashou.”

Di 13 Okt: 'n Traktaatjie se Krag

Lees Lukas 14: 15 – 24

“Gaan uit na die lanings…en dwing hulle om in te kom” (15)

In “Light and Liberty” vertel ’n ou dame hoe sy as sestien jarige dogter in ’n naby geleë kerk tot be-kering gekom het. Wat kon sy tog vir die Here doen? Sy koop ’n voorraad traktaatjies. Die eerste Saterdagaand gaan staan sy op ‘n straathoek en deel die traktaatjies aan verbygangers uit. ’n Man kom met die straat afgehardloop. Hy kyk nie eers na die traktaatjie wat sy na hom toe uithou nie. Vir net ’n oomblik weifel sy en toe sit sy hom agterna en haal hom in. So in die hardloop gee sy vir hom ’n traktaatjie. Hy neem dit, maar hou aan hardloop. Na `n end by die eerste lig steek hy vas en lees dit.

Die volgende aand woon sy die Sondag­aand­diens by in die kerk waar sy tot bekering gekom het. Ge­leen­t­heid vir persoonlike getuienisse word gegee en ’n man staan op om te getuig. Met groeiende verbasing luister sy na hom. “Gisteraand,” vertel hy, “was ek desperaat met groot moeilikheid. My enigste uitweg was om ‘n einde aan my lewe te maak. Ek het met die straat, wat op Kleinkrans uit­loop, afgehardloop. Ek wou daar afspring. Om nie bang te word en om te draai nie, het ek net aangehou hardloop. Skielik hoor ek iemand hard­loop agter my aan. ’n Jong meisie kom by my ver­by en so in die hardloop gee sy vir my ’n trak­taatjie. Eers wou ek dit weggooi, maar toe ek on­der ’n lig deur hardloop, kry ek die gedagte om dit tog te lees. Ek het gevoel soos iemand wat na ’n strooihalm gryp om gered te word. Die opskrif tref my soos ‘n koeël. ‘I am not going to a Christless grave, are you?’ Dit was erg. Ek lees toe verder. Dit sê toe: God het my lief net soos ek is en dit vertel van hoe Jesus ook vir my gesterwe het. Net daar bid ek en vra die Here Jesus om in my lewe in te kom en my te red. Vrede het in my hart gekom en, wonderlik, ek sien da­delik ‘n manier om my probleem op te los.”

Om traktaatjies uit te deel, lê in enigeen se vermoë. En dit dra vrug. Die uitdeel van traktaatjies is soos die rondstrooi van lewende saad. Iewers val dit op die regte tyd, in ’n voorbereide en behoeftige hart. Jesus het die bekende gelykenis vertel: ”’n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ’n deel van die saad…op goeie grond geval en ’n oes gelewer…”(Mat.13:3-16)

“Here, vandag neem ek deel aan die saaiwerk vir U.”

Ma 12 Okt: Die Veranderde Uitkyk

Lees 2 Timoteus 4: 9 – 18

“…Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry…”(10)

Uit die Griekse annale vertel die prediker, C. H. Spurgeon, die storie van ’n soldaat onder Antigonus, wat aan ’n uiters pynlike kwaal gely het en wat hom vroeg graf toe sou neem. Hy was altyd heelvoor in ’n geveg, altyd gereed om die gevaarlikste take uit te voer. As hy geveg het, het hy sy pyn vergeet. Omdat hy vroeg sou sterf, het hy geen vrees vir die dood gehad nie. Antigonus het hierdie soldaat van hom raakgesien en bewonder. Hy het een van sy bekwaamste artse aangestel om hierdie jongman gesond te maak. Die soldaat het toe ook werklik gesond geword. Daar tree toe ’n groot verandering in sy gedrag in. Hy het nie meer lus gehad om te veg nie. Hy het net gerief en plesier gesoek. Hy het nou iets gehad om voor te leef: gesondheid, ’n huis en gesin, ’n gemaklike oudag. Hy wou nie meer sy lewe op die spel plaas soos vroeër nie.

Aardse weelde en voordele trek ons hart weg van God se dinge af. Min mense het die innerlike sterkte om voorspoed en seën verstandig te hanteer. Dit ly dikwels tot geestelike agteruitgang. Paulus het die Here gedank vir die hindernis in sy lewe, heel moontlik ‘n kwaal, waaroor hy die Here drie keer gebid het om dit weg te neem. “Die Here het geweet dat ek dalk hoogmoedig kan word oor die wonderlike dinge wat Hy my gewys het. Daarom het Hy my ’n probleem gegee en ek is nou soos iemand wat met ’n pynlike doring in sy liggaam leef…Ek het driemaal gebid oor hierdie saak en die Here gevra om dit weg te neem. Maar Hy het vir my gesê: : ‘Die genade wat Ek jou gee, is genoeg. Hoe swakker jy is, hoe meer kan my krag deur jou werk…”(2 Kor.12:7,8 Lewende Bybel).

“Here, vandag dank ek U vir my beproewinge.”

Vry 9 Okt: Te Maklik

Lees 2 Konings 5: 9 – 14

“…as die profeet iets moeiliks van u verwag het sou u dit nie gedoen het nie? (13).

’n Ywerige predikant hou vir die manne in ’n myn `n etensuurdiens. Na die kort diens, neem die skof­voorman hom na die skaghyser toe. Terwyl hulle stap, sê die voorman: “Dominee, jy het goed en duidelik ge­preek. Maar jy maak be­ke­ring darem net te maklik. Jy sê mens moet net die Here vrá: ‘Red my, asseblief.’ ’n Mens moet mos darem iets van jou kant af ook doen.” “Dankie, broertjie,” antwoord die dominee, maar hy reageer nie op die man se be­swaar nie. Hulle stap ’n rukkie in stilte aan. “Dis da­rem ’n diep myn hierdie van julle,” merk die do­mi­nee op. Die myner vertel geesdriftig hoe diep die myn is. “Hoe gaan ek weer hier uit­kom, jong?” vra die dominee met ’n senuweeagtige laggie. “Ag, nee, maklik, Dominee. Hier is ons nou juis by die hyser. Hy neem u sommer in ’n japtrap boontoe.” Hy druk die knoppie by die hyser se in­gang en die hyserdeur skuif oop. “Stap net in, Dominee. Ek sal die regte knoppie vir ons druk.” Die dominee skud sy kop. “Nee, jong, ek weet darem nie. Dit klink vir my darem net te maklik. Is hier nie ’n leer of trappe waar­mee ek liewer kan uitklim nie?” Die voorman kyk ver­stom na die dominee. “Genade, nee, Dominee! Dis mos onmoontlik om hier van onder af, uit te klim boontoe! Nee, u hoef nie onrustig te wees nie. Stap net in en ry boontoe!” Die dominee kyk die man in die oë. “Broertjie, ons verlore toe­stand is dieper as hierdie myn. Die Here Jesus het alles wat vir ons verlossing nodig was, gedoen met sy kruis­dood en opstanding. Nou sê jy dit is te maklik, om sonder om self iets by te dra, die Here se redding net aan te neem. Wil jy dan met ’n leer probeer opklim na God toe, in plaas van net te vra: ‘Here, red my?’”

Die boodskap van die Here se woord is, die Here Je­sus Christus het ‘n volkome verlossing be­werk. “Jesus…het gesê: ‘Dit is volbring! Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas”(Joh.19:30). “…Jesus Christus het één offer vir die sondes ge­bring…Deur die één offer het Hy dié wat vir God af­ge­sonder word, vir altyd volkome van sonde vry ge­maak” (Heb.10:12,14). Hierdie verlossing wat God aan die mens­dom gegee het, is ’n gawe, ’n geskenk, wat aange­neem moet word. Dit is ’n dubbele geskenk: die wegneem van ons sondeskuld en die gee van die nu­we lewe in ons hart.: “…God ons Redder (het) gewys hoe…lief Hy ons mense het. Hy het ons gered, maar dit was nie omdat ons vooraf iets gedoen het wat reg was nie; dit was omdat Hy vir ons jammer was. Hy het ons gered toe Hy ons sondes afgewas en ons ’n nuwe geboorte gegee het, toe die Heilige Gees ons nuut gemaak het.” Tit.3:4 (Lew.Byb.). Glo dit en neem dit aan: “En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet” (Opb.22:17).

“Here, vandag glo ek en ek vra: ‘Red U my, asseblief.’”

Do 8 Okt: Altyd Oop Boontoe

Lees Psalm 121.

“Hy wat jou beskerm slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie’(2,3).

Charles Garret het eenkeer gepreek oor die vraag: Hoekom is daar in die Christen se lewe steeds moei­lik­he­de? “Die Christen word nie van moeilikheid ge­vry­waar nie,” het hy in sy preek gesê. “Daar is mense wat na hulle bekering meer moeilikheid belewe as voor hul­le bekering. Ek ken Christene wat letterlik omring is met moeilikhede. Moeilikheid voor hulle, moeilikheid agter hulle, moeilikheid aan die linkerkant, moeilikheid aan die regterkant.” ’n Man van diep in die sewentig, wat ’n leeftyd van Christenskap agter hom het, luister met sig­bare genoë. Hy val die prediker hardop in die rede: “Aan God die eer! Bóóntoe is dit altyd oop.” Met ’n groot glimlag voeg Garret by “Jy is reg, my broer. Daar is een oog wat dag en nag kyk; een oor wat dag en nag luister; een hart wat dag en nag voel.”

Psalm 102 word genoem: “Gebed van ’n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uit­stort voor die Here.” Onder die baie bemoedigende tekse in die Psalm verseker vers 20 ons: “Hy het uit sy heilige woning na onder gekyk en uit die he­mel gesien wat op die aarde gebeur… Drie vermoëns van ons ewige God en Vader verseker vir ons, as ons kinders van God geword het, ’n veilige posisie. Die eerste is: Hy het ons lief soos ’n pa sy kind lief het… Tweedens: Hy is alwys. Ons kan met ons kinders soms onver­standig optree en vir hulle dinge gee, wat liewer weerhou moes word. Ons hemelse Vader weet wat­ter weerstande en ook uitdagings vir ons karakter­vorming en toename in geesteskrag beste is: “…moenie mismoedig word as die Here jou tereg­wys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet. Ver­dra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders” (Heb.12:5-7). En dan, ons hemelse Vader is almagtig: Hy kán dit wat ons nodig het vir ons doen en vir ons gee. “Vir mense is dit on­moontlik, maar vir God is alles moontlik..” (Mat.19:26). God skik die verloop van sake en omstan­dighede om ons gebede te verhoor of Hy doen ’n wonderwerk. ”Ek sal vir hulle uitkoms gee…hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie” (Jer.31:13).

“Here, vandag bring ek met geloof my nood na U toe.”

Wo 7 Okt: Uniek

Lees Lukas 8: 22 – 25

“Maar hulle was verskrik en verbaas en sê vir mekaar: ‘Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water en … hulle gehoorsaam” (25)

Napoleon het in sy uur van glorie vir dié rondom hom gesê: “Wat ek nou doen, sal in hierdie geslag duisende volumes vul. In die volgende geslag slegs een volume. In die derde geslag ’n paragraaf. En in die vierde geslag, een sin.”

Hoe anders is dit met die eniggebore Seun van God, Jesus Christus, ons Here. Twee duisend jaar na Hy op aarde geleef het, word steeds miljoene volumes oor Hom gevul. Die rede: Hy het nie gesterf, soos baie an­der merkwaardige persone nie. Hy lewe. Hy is die lewe. Hy is steeds by ons. Hy belowe sy dissipels: “Ek kom weer na julle toe…Ek lewe en julle sal lewe… wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:15,18,24). “Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het…as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie” (Joh.21:25)

’n Indiese Christen, P. V. George, het ’n boek ge­skryf met die titel: “The Unique Christ … In die boek be­klemtoon die skrywer die besondere en buitengewone plek wat Jesus in hierdie wêreld se geskiedenis in-neem. In die Franse Nuwe Testament, word die woord in Johannes 3:16, “sy enigste Seun” “eniggebore Seun” (Ou Vert.), only-begotten Son (Eng.Vert.), vertaal met “son fils unique”. Hy is uniek! Iemand het oor Hom so geskryf: “His Story is history, and history is His Story.” Horace Bushnell verklaar: “His character forbids possible classification with other men.” En die uitge­sproke Franse filosoof en historikus (en ongelowige) Ernest Renan, getuig oor Jesus se unieke plek in die wêreld: “He is the incomparable man to whom the universal con­science has decreed the title of the Son of God, and with justice.” Tog het die wêreld Hom verwerp. Jesaja se profesie is letterlik vervul: “Hy was verag en deur die mense verstoot…iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was ver­ag, ons het hom nie gereken nie.” “Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie” (Joh.1:10). Hy word steeds verwerp. Die hart wat deur die wêreld beheer word, verwerp Jesus. Bekering en redding beteken, iemand word deur die werk van die Heilige Gees, met die krag van die evan­ge­lie, bevry van die Satan se greep op sy lewe. Jesus word Here en Koning van sy lewe. In die hart waarin Jesus plek kry, verheerlik die Heilige Gees, toenemend, die Here Jesus as Koning en Here.

“Here, vandag kom vereer ek U in my hart as my Here.”

Di 6 Okt: Te Groot

Lees 1 Timoteus 3:14-16

“En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is…”(14)

Die kerkvader, Augustinus, het eendag langs die see geloop. Diep besorgd loop hy en peins oor die leerstelling van die Drie-eenheid van God. Hy kan dit nie verstaan nie en hy is ongelukkig daaroor. `n Endjie vorentoe skep ‘n seuntjie met ’n groot skulp water uit die see, hardloop dan na ’n gat toe wat hy in die sand gegrawe het en gooi die water in die gat. Augustinus hou hom ’n rukkie lank dop. “Wat is jy besig om te doen, Grootman?” vra hy die oudjie. “Oom ek is besig om die see in die gat wat ek gegrou te gooi,” roep hy uitasem en hol alweer see toe om nog ’n skep water te gaan haal. Met ’n verligte hart draai Augustinus om. “Dit is wat ek besig is om te doen,” sê hy vir homself. “Ek staan op die kus van die tyd en ek probeer in hierdie nietige verstand van my dinge van die ewigheid in kry.”

Ons verstaan nie eers God se natuurskepping heeltemaal nie, hoe wil ons sy ewigheidskepping verstaan? Sommige dinge, die meeste van God se dinge, verstaan ons nie. In die Skrif en in die Persoon van sy Seun wat mens geword het, het God Homself aan ons bekend gemaak en die Hei­lige Gees verklaar dit aan ons in ons hart in die mate wat Hy wil hê ons God moet verstaan. “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak…”(1 Kor.2”9,10). Hoe meer ons die Bybel lees en bepeins, hoe meer sien ons God se dinge raak. Die orde word in ’n paar mooi Engelse woorde vir ons gegee: “Eerste: information (kennis deur die lees van die Bybel); dan: meditation (oordenking van wat ons lees); dan: revelation (die openbaring wat die Heilige Gees in ons gee); dan: dedication (die toewyding wat in ons hart kom).

“Here, vandag lees en oordink ek u Woord.”

Ma 5 Okt: Verskyn en Verdwyn

Lees Daniël 6: 17 – 25

“My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit…” (23)

George Cutting het eens ’n klein bussie gehuur om hom en ‘n paar Christenvriende van Penzance in Cornwall na Land’s End, vir ’n kerkkonferensie te neem. Hy het voor by die bestuurder gesit. Dié wys na ’n ou, wit kerkie in die verte. “Ons gaan net­nou by daardie kerkie verby ry. Maar voor ons by hom kom, sal ons hom nege keer uit die oog ver­loor.” Die pad het kronkelend, bult op en bult af, geloop. Toe hulle die eerste bultjie opry, kon hulle die ker­kie nie sien nie. Na ’n rukkie het die kerkie weer in sig verkyn. So het dit die hele vier of vyf ki­lometer, wat hulle gery het, gegaan. Cutting het getel en dit was regtig soos die busbestuurder hom dit vertel het. Die kerkie het nege keer verskyn en ver­dwyn. Cutting het die ervaring in sy boodskap by die kon­ferensie by Land’s End gebruik. “Hoeveel keer het die kerkie op en af gegaan?” het hy vir sy gehoor gevra na hy die storie vertel het. “Nie één keer nie. Dit was óns wat op en af gegaan en na links en na regs geswenk het.”

In ons geloofslewe verloor ons ook soms ons ge­loofs­­oogkontak met die Here. Ons voel ver van die Here af. Hy is nie vir ons ’n werklikheid nie. Dit is nie Hy wat verskyn en verdwyn nie. Ons gemoeds­toestand veran­der. Soms ondervind ons verhewe tye van geloofs­be­le­wing en ons sien die Here en sy koninkryk helder en duidelik. Ander kere is daar weer laagtepunte en ons verloor die Here uit die oog. Die prediker, Spurgeon, het een oggend, voor die aanvang van sy preek, aan sy gemeente bely: “Ek vóél vanog­gend onbekeerd. Maar gelukkig is die evangelie nie afgehanklik van my gevoel nie.” Christus en sy ver­los­singswerk is onveranderlik en die boodskap van die evangelie bly waar. “Want ons wandel deur geloof en nie aanskouing nie” (2 Kor.5:7).” …ek weet op wie ek vertrou, en dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het…in stand te hou” (2 Tim.1:12).

“Here, vandag vertrou ek in u krag om my in stand te hou.”

Vry 2 Okt: Depressie - Menslik

Lees 1 Konings 19: 1 – 8

“…Elia het…’n dagreis ver die woesyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood”(4)

Die bekende Engelse prediker en skrywer, Martyn Lloyd-Jones skryf: “Ek twyfel altyd bietjie as ’n Christen voorgee, hy of sy ervaar nooit neerslagtigheid nie. Ek betwyfel die woorde van die koortjie: ‘And now I am hap­py all the day’. Daar is dae wanneer ook die Christen ongelukkig voel. (Sy eie woorde): There are these states and conditions of the soul, and the sooner you learn to deal with them and how to handle them, the better it will be for you and for those with whom you live and work.” A. Naismith, wat in sy boek hierdie woor­de van dr. Lloyd-Jones aanhaal, skryf so (ook sy eie woorde): “Experience confirms the words of dr. Lloyd-Jones, for there are very few people indeed who never feel out of sorts, who are always ‘on top of the world’ and never ‘under the weather’; who never have ‘a touch of the blues’ because they are always ‘in the pink’.” Dr. Lloyd-Jones het gemoedsgenesing gevind deur die lees van ’n boek deur Dr. Sibbes: The Bruised Reed, The Soul’s Conflict. Hy sê: “Die lees van die boek was balsem vir my siel, op ’n tydstip in my lewe, toe ek oorwerk en oormoeg was en onderworpe was aan die aanvalle van die duiwel op buitengewone wyse. “That book quietened, soothed, comforted, encouraged and healed me.”

Dawid het hierdie gemoedsdroefheid geken: “Waar­­om is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” (Ps.42:6). Paulus het dit geken: “…ons het geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge. Maar God wat die neerslagtiges opbeur, het ons ook opgebeur…”(2 Kor.7:5). Die Here Jesus self het dit geken: “Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: ‘Ek voel doodsbenoud…”(Mat.26:37,38). Daar­om is die Here Jesus vir ons so ’n troosvolle toevlug as ons bedruk en benoud voel: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie… (Heb.4:15). In Psalm 103:13 & 14. verduidelik Dawid hierdie mee­gevoel van God met ons as mense: “Soos `n vader hom ontferm oor oor sy kinders, so ontferm die Here oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou in gedagte dat ons stof is.”

“Here, vandag kom ek met ’n bedrukte en bedroefde hart na U toe. Help U my, asseblief.”