Wo 18 Feb: Onkunde

Lees Handeling 8: 26 – 40

“’…verstaan u wat u lees?’ Die Etiopiër antwoord: ‘Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?’ Filippus het …die evangelie oor Jesus aan hom verkondig” (31,35).

Aan die einde van die burgeroorlog tussen die state van Amerika, ry ‘n afdeling van die Federale mag se sol­date langs ‘n eensame pad na Richmond toe, vertel Roy B. Zuck. ‘n Uitgeteerde man in toiïngs kom tussen die bosse uit. Met ‘n hees stem smeek hy hulle om vir hom kos en water te gee. Hy vertel hy leef al weke lank net van bessies en plantwortels wat hy in die veld kry. Hulle vra hoekom hy nie Richmond toe gaan en daar vir hom kos kry nie. Aarselend vertel hy hy is ‘n droster uit die Konfederale leër. Hy kan nie waag om gesien te word en aan die rebelerende Konfederale mag oorge­gee te word nie. Hy kan opgesluit of selfs tereggestel word omdat hy uit die leër gedros het. Hulle staar hom verwonderd aan. “Het jy dan nie die nuus gehoor nie?” vra hulle. “Watse nuus?” vra hy. Hulle vertel hom die Kon­federasie het ontbind. Meer as ‘n week tevore het genl. Lee, bevelvoerder van die Konfederale leër van die Suidelike state, wat nie gehoor wou gee aan die Federale owerheid se eis om al die slawe vry te laat nie, oorge­gee aan genl. Grant, bevelvoerder van die Federale leër. Die man roep uit: “Dan is daar nou vrede! En ek vergaan van honger tussen die bosse om­dat ek dit nie gehoor het nie.”

Dit is ‘n groot persoonlike verlies om onkundig te wees oor die vrede wat die Here Jesus Christus vir ons aan die kruis bewerk het. Hy het vrede gemaak tussen ons en God. “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke ge­na­de­ van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het” (Ef.1:7).

“Here, vandag hoor en glo ek u vergifnis van my sonde.”