“Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerstok bly nie; en so ook julle as julle in My nie bly nie” (4)
‘n Bejaarde man het naby die Here probeer lewe. Hy was bekend vir sy toegewyde lewe. Op ‘n wintersdag het ‘n uitgesproke ongelowige, wat in dieselfde dorp gewoon het, hom besoek. Na ‘n rukkie se gesels, begin hulle oor godsdiens gesels. Die Christen haal Galate 2:20 aan: “…ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.” “Sien,” sê die ongelowige man, “ek verstaan jou nie. Net-nou het jy een van jou tekse aangehaal dat jy in Christus lewe. Nou sê jy weer dat Christus kastig in jou lewe. Hoe werk dit?” Die Christen staan sonder ‘n woord op en gaan na die kaggel toe waar ‘n lekker vuur brand. Hy neem sy vuuryster. Woel dit in die kole en laat dit daar in die gloeiende kole lê. “Ek gaan die yster in die kole los totdat dit rooiwarm is.” Na ‘n rukkie begin die yster se punt gloei. Die Christen wys na die gloeiende vuuryster. “Jy sien,” sê hy, “die vuur is nou in die yster. Vat daaraan.” Hy hou die gloeiende punt met ‘n glimlag na die ander man toe uit. Dié trek sy hande terug en gee dadelik pad. “En, die yster was in die vuur, en nou is die vuur in die yster. So is ek in Christus en Hy is in my en gee in my die geestelike krag wat ek nodig het om vir Hom te lewe.” Nadat die Heilige Gees die apostels vervul het, het, lees ons in die Woord, het die Joodse raadslede “… hulle ook herken as volgelinge van Jesus” (Hand.4:13). Deur ons toewyding en geloof is ons in Christus en deur sy Gees is Hy in ons. Dit is ‘n geseënde en vrugbare lewe om uit Christus se krag, deur die Heilige Gees in ons, vir God te lewe en te werk.
“Here, vandag soek ek u inwoning in my.