Vry 13 Feb: Die Hoë Eis

Lees 2 Korintiërs 8:1-9

“Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (9)

In die vroeë dae van die ontdekking van goud, was aan­­boord van ‘n skip ‘n man, wat met har­de werk en deur ontberinge heen, ‘n groot voorraad goud versa­mel het. Hy was op pad huis toe met sy fortuin. ‘n Brand het op die skip uitgebreek en spoedig was dit duidelik dat die skip deur die vlamme verteer sou word voor hulle land be­reik. Die skip was nie ver van die land af nie en elkeen aan boord het eie maatreëls getref om hulself te red. Die man was jonk en sterk. Hy het sy krag geken. Hy het sy goud in bondels in ‘n doek geknoop en vol­gens die gewig, wat hy geweet het hy veilig land toe kon neem, eweredig om sy gespierde lyf gebind. Net voor­dat hy met sy kosbare las in die see kon spring, hardloop ‘n verskrikte klein dogtertjie na hom toe en gryp sy bene vas. “Kan oom swem?” gil sy vol angs. Hy het geweet hy moes kies tussen sy goud en hierdie on­be­kende kindjie. Hy sou nie die krag hê om haar én sy goud land toe te neem nie. “Ja, my kindjie,” roep hy feitlik dadelik uit. Hy knoop die bondels goud om sy lyf vinnig los en laat dit op die dek val. “Ek kan swem. Kom!” Hy gryp die kind en spring in die branders in. Sy klou styf om sy nek vas en hy swem met haar land toe.

Ek wens ek het die einde van hierdie storie geken. Al het sy en haar ouers hom ook hoe bedank en vereer, hulle sou nooit die prys kon verstaan wat hy moes betaal om haar te red nie.

So ‘n menslike verhaal bring die betekenis van Jesus se koms aarde toe en sy sterwe aan die kruis na ons hart toe. Jesus het sy hemelse rykdom en heerlikheid prysgegee. Só prys gegee, dat Hy vir die skrifgeleerde wat Hom wou volg gesê het: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie” (Mat.8:20). Om ons uit die sinkende wrak van die verlore mensdom te red, het Jesus ‘n duur prys gekos. Sy eie lewe.

“Here, vandag oordink ek die prys wat U vir my betaal het.”