“Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster…die ander een…sê: “’Jesus dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord…: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (39-43).
Toe George Nixon Biggs goewerneur van Massachusetts was, het drie van sy vriende die Heilige Land besoek, vertel Roy B. Zuck in The Speaker’s Quote Book. Hulle het Golgota uitgeklim. Bo gekom het hulle vir hulle elkeen ’n ligte wandelstok van ’n boom afgesny. Tuisgekom, gee hulle dit vir die goewerneur, met die woorde: “Ons wil hê jy moet weet ons het aan jou gedink toe ons so op Golgota staan.” Hy het hulle geskenk met die volgende woorde ontvang: “Baie dankie, Menere, ek waardeer dat julle dáár aan my gedink het.” Toe vervolg hy gevoelvol, met ’n glimlag, “Maar ek is steeds meer dankbaar vir ’n Ander Een wat op dáárdie heuwel óók aan my gedink het.”
U was dáár, óók in Jesus se hart en gedagte. Ek ook. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16 Ou. Vert.). Die een moordenaar sê: “Dink aan my, Jesus..” Jesus bevestig dit vir hom dat Hy hom in sy gedagte het: “Ek verseker jou jy sal vandag saam met My in die paradys wees.” Die poort staan vir die ander moordenaar ook oop wyd oop, maar hy gaan verby. Het ú al by daardie poort van liefde en genade ingegaan? Of stap ú nog verby?
“Here, vandag wéét ek U dink ook aan my en ek het by die poort van u redding ingegaan.”