“Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (3)
John Ross vertel van die vrou wat van ’n vliegtuig afstap nadat dit geland het. Met haar drasak oor haar arm gehaak, koop sy by die toonbank van die lughawekafeteria, ’n pakkie lekker koekies en ’n koerant. Sy gaan by ’n eenkant tafel sit. Moeg na die lang vlug, wil sy bietjie ontspan voor sy die stadsgewoel aandurf. Dadelik boei die hoofberig in die koerant haar en sy steur haar nie aan die man wat oorkant haar by haar tafel kom sit nie. ’n Geritsel van papier oorkant haar trek haar aandag. Sy loer oor die koerant, en sowaar, dit is die man wat haar pakkie koekies oopmaak en doodluiters vir hom een neem en dit begin eet. Sy vererg haar onmiddellik. Sonder om na die man te kyk strek sy haar hand uit en neem vir haar ook ’n koekie. Na so omtrent twee minute ritsel die papier weer en dit is hy wat vir hom nog ’n koekie neem. Dadelik neem sy vir haar ook weer ’n koekie. Sy kyk nog stip in die koerant, maar sy lees nie meer nie. Sy is te kwaad. So sit sy en die man die pakkie koekies en opeet. Sy sien oor die koerant dat hy die laaste koekie neem, dit in die helfte breek, ’n helfte in sy mond steek en die ander helfte met ’n effense glimlag na haar toe oorstoot. Sy gryp behoorlik die halwe koekie en stop dit in haar mond. Hy frommel die pakkie se omhulsel op, staan op, knik vir haar, stap by ’n rommelhouer verby, gooi die papier daar in en verdwyn tussen die mense. Sy is magteloos kwaad. Sy tuur hom net agterna. Sy staan op, stamp haar stoel agteruit, rits haar drasak met ’n pluk oop om haar koerant weg te sit – en haar oë peul behoorlik uit. Háár pakkie koekies lê nog onoopgemaak in haar drasak! Sy storm tussen die mense in om die man te soek, om verkoning te vra vir háár onbeskofdheid, maar hy het tussen die mense verdwyn.
Sy het haar misgis. Baie van ons het al beproef hoe ’n rusie ontketen word, deur toevallige insidente, wat verkeerd vertolk word. Die geheim is die atmosfeer in ’n mens se eie hart: is daar vrede in my hart? Wíl ek graag ’n goeie verhouding met ander hê? Is ek gewillig om maar bietjie te na gekom te word? ’n Ongeduldige, selfsugtige, suspisieuse gesindheid in die hart skep ’n teelaarde vir ’n misgissing. En, dalk is ék, soos die vrou, die eintlike oorsaak van ’n geskil!
As ons met God vrede het; as Jesus koning in die hart is; as die Heilige Gees beheer het oor ons gesindhede, kan ons met geduld ander se dade en woorde ten goede en reg beoordeel. “Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit (en) moeilikheid veroorsaak nie…(Heb.12:15). Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het …die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee” (Kol.3:12-15).
“Here, vandag wil ek versigtig in my beoordelinge wees.”