“Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe…(7).
Tsaar Nicolas II van Rusland het die gewoonte gehad om eenvoudig geklee, die militêre buiteposte van sy ryk te besoek, om self, as gewone man, te sien hoe dit daar gaan, so vertel Roy B. Zuck in sy boek The Speakers Quote Book. By een van hierdie buiteposte was ’n jongman, wie se pa hom in die leër laat opneem het om ’n bietjie dissipline in hom ingedril te kry. “However, army life served as fuel that fed the fires of the wild life he lived”, skryf Roy Zuck. Sy grootste swakheid was dobbel. Ongelukkig was hy ook die boekhouer van sy buitepos se geldsake. Namate sy dobbelskuld gegroei het, was dit vir hom nodig om van die buitepos se geld te neem om sy groeiende dobbelskuld te betaal. Die verwagte groot wengeluk het nooit gekom nie en hy het voortgegaan om sy skuld uit die buitepos se geldtrommel te betaal. Een aand het hy besluit om te kyk hoeveel hy noual aan die buiteposrekening skuld. Toe hy die geweldige bedrag sien, besluit hy om sy eie lewe te neem. Hy het sy pistool langs hom op die tafel neergelê. Oor die lêerbladsy, met sy berekening op, het hy geskryf: “So ’n groot skuld. Wie kan dit betaal?” Hy het sy kop, langs sy pistool, op die tafel laat rus en homself gereedgemaak om die skoot in sy kop te skiet. Die uitputting van die situasie het hom egter ingehaal en terwyl hy so met sy kop op die tafel gestut sit, raak hy aan die slaap. Tsaar Nicolas, geklee soos ’n sersant, het juis daardie nag daardie buitepos besoek. Hy sien die lig brand in die boekhouer se kamer en gaan in om te sien wat aangaan. Hy sien die jong soldaat sit en slaap met sy kop op die tafel gestut, sy hand op die pistool langs hom. Hy lees wat op die bladsy geskryf staan. Hy begryp dadelik die situasie. ’n Rukkie later word die jongman wakker, sit regop, onthou waarmee hy besig is en lig die pistool op om homself die doodskoot te gee. Sy oë val op sy woorde wat op die blad op die lêer geskryf staan: “So ’n groot skuld. Wie kan dit betaal?” Toe lees hy die ander woorde, onderaan sy eie woorde: “Ten volle betaal, Tsaar Nicolas II”.
Dit is wat die evangelie van die Here Jesus Christus onderaan ons sondeskuld skryf: Ten volle betaal! Maar hoe weet ’n mens dit hét in jou lewe gebeur? ’n Man wat vrymoedig oor sy redding getuig het, is eendag deur iemand gevra: “Wat maak jou so seker dat jy gered is?” Hy antwoord: “Want ek was dáár.” “By Jesus se kruisiging? Dis tog onmoontlik.” “Nee, man, toe ek my hart vir die Here gegee het. Ek weet ek het, bewus van skuld en vrees vir die oordeel, eendag tot stilstand gekom en net daar waar ek was, terwyl ek aan Jesus se kruisdood dink, bely ek is ’n verlore sondaar, maar ek glo Jesus het vir my gesterf. Ek het dit so by myself in ’n gebed uitgespreek: ‘Here Jesus, réd my, asseblief.’ En ek het aan sy belofte gedink: ‘Ek sal hom wat na my toe kom nooit uitwerp nie.’ En ek het aan Johannes 3 vers 16 gedink: ‘Só lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’, ek het dit geglo en gesê: ‘Dankie, Here, U het my sonde vergewe en U het my gered.’ Van toe af glo ek dit en dit maak my bly en ek praat daaroor, en ek weet Christus is my Here en God is my Vader, en as ek doodgaan, gaan ek hemel toe.”
“Here, vandag neem ek U aan. Dankie dat U my gered het.”