….toe die verlore Seun nog ver aankom, het sy pa hom… gesien en …innig jammer gekry. (11 en 20).
George W. Truett vertel hierdie ware verhaal oor dr. Buckner, die stigter en bestuurder van die Buckner Orphans Home in Dallas, Amerika.
Die huis van ’n behoeftige gesin in Suid-Texas het afgebrand. Net ‘n dogtertjie, nege of tien jaar oud, het dit oorleef. Maar sy het lelik verbrand, veral haar gesig. Die bure wat die vuur help blus het, het haar na dr. Buckner se weeshuis toe te stuur. Dr. Buckner het Mary self op die stasie gaan ontmoet. Met rooi gehuilde oë het sy na dr. Buckner gekyk, vorentoe gekom en haar koppie teen hom gedruk en hartlik aan die huil gegaan. Na ’n rukkie kyk sy met haar verminkte gesiggie op en sê snikkend: “Jy sal nou my pa en my ma moet wees.” Hy het sy hande op haar kop gesit en diep bewoë geantwoord: “Ek sal my bes doen, Mary.” In die weeshuis het sy deel van honderde ander kinders geword.
George Truett skryf dat hy dikwels in die weeshuis ’n diens gaan hou het en dan gesien het met watter liefde en blydskap die kinders vir dr. Buckner terug verwelkom as hy ’n rukkie lank weg was. Truett skryf: “The little tots come down the avenue and vie with one another as they swing around him, each wishing to kiss him first.” Eendag sien hy hoe Mary met haar vuurgeskonde gesiggie saam met hulle kom, maar sy staan eenkant toe, terwyl die ander aandring om hom te soen. Hy kyk na Mary en vra: “Mary, hoekom kom groet jy my nie ook nie?” Dit was vir haar te veel. Sy begin hardop snik. Hy vra weer: ”Hoekom kom groet jy my nie?” Sy snik dit uit: “Pappa Buckner, ek kan nie vra jy moet my soen nie. Ek is so lelik. Na ek gebrand het, is ek so lelik, ek kan nie jou kom soen nie. As jy my net lief het soos vir die ander en vir my sê jy is lief vir my, dan is dit nie nodig om my te soen nie.” Dr. Buckner het al die ander kinders weggedruk om by Mary te kom. Hy het haar opgetel, teen hom vasgedruk en die verminkte wangetjie oor en oor gesoen, terwyl hy herhaaldelik vir haar sê: “Mary, jy is mos vir my net so pragtig soos enigeen van die ander.”
Dit is wat God se Woord ook vir ons oor God se jammerte vir ’n sondeverminkte mens sê: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu” (Jes.1:8). “Toe het ek uitgeroep: ‘Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein…’ ‘Nou…is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen’” (Jes.6:5,6). “Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Jesus gelaster….Maar die ander een sê: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk. 23:39-43). “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself…maar as ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes…” (1 Joh.1: 9).
“Here, vandag vlug ek na U toe met my lelike sondes