“Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? …maar julle…wie, sê julle, is Ek?” (14)
’n Bekende geneesheer en mediese navorser, dr. Howard Kelly, het teen sy baadjiekraag ’n knoop gedra wat almal kon raaksien. Op die knoop was ’n vraagteken. Hy het honderde van hierdie vraagtekenknope versprei. Dit was ’n wegspringlek vir ’n geselsie. Byna sonder uitsondering het vreemdelinge, met wie hy in aanraking gekom het, gevra wat die vraagteken beteken. Dan, vertel Christian Herald, het dr. Kelly gevra: “Wat is die heel belangrikste saak in die wêreld?” Meeste mense het geweet hulle praat met ’n dokter en geantwoord: “Gesondheid.” ’n Ander gereelde antwoord was: “Vordering van die mediese wetenskap.” Party het met ’n veelseggende glimlaggie, aangesien dit tot ’n dokter gerig was, gesê: “Geld.” Dr. Kelly het dan sy saak, wat naaste aan sy hart lê, gestel: “Ek dink die belangrikste vraag vir die mense van ons wêreld is: Wat dink julle van Christus?” Hy het dan voortgegaan om ’n paar woorde vir sy Here, Jesus Christus, die wêreld se grootste geneesheer, te praat.” Te midde van sy bedrywigheid as praktiserende geneesheer en wetenskaplike navorser, was hy nooit te besig om vir Christus te getuig nie.
’n Saak naby aan ’n mens se hart vind ’n manier om uit te kom. Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. ’n Jongman, Leonard Messenger, het sy van, Messenger, gebruik om ’n geselsie oor Christus aan te knoop. As hy homself bekendgestel het aan iemand het hy bygevoeg: “And a messenger for the King of heaven.” Vroeg in sy twintigerjare is hy in die groot treinongeluk, jare gelede, by Soutrivierstasie dood. In sy kort leeftyd het hy by baie mense se harte uitgekom met die evangelieboodkap. Hou die evangelie naby en warm in die hart, dan kom die lippe gou agterna om van Hom te getuig. “Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe…met beskeidenheid en met eerbied vir God”(1 Pet.3:14-16).
Here, vandag wil ek met u krag iemand help om by U uit te kom