Vry 27 Feb: Die Beste Plek

Lees Lukas 10: 38 – 42

“Marta het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het… Die Here antwoord Marta: ‘Marta, Marta, jy is be­sorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie’” (39,41,42).

Volgens ‘n Persiese legende het ‘n groot voël soms in die Oosterse hemelruim gevlieg. Die ska­du­wee van die voël het vir die per­soon op wie dit val ‘n fortuin besorg. Op ‘n dag, gaan die storie voort, ry die koning, en ‘n aantal van sy ho­we­linge, met ko­nink­like swier in sy groot, oop koets. Skielik verskyn die voël oor ‘n naby geleë heuwel. Die howelinge spring dadelik uit en hardloop die heuwel op om in die voël se skaduwee te kom. Net een van hul­le bly sit. Verbaas kyk die koning na hom. “Hoekom het jy nie ook gehardloop nie?” vra hy die man. Hy ant­woord: “Hoekom sal ek agter ‘n voël se ska­duwee aan hardloop as ek die direkte teenwoor­dig­heid van my koning kan geniet?” Die koning was so be­ïndruk met die man se antwoord, dat hy hom dadelik hoog bevorder het.

Die beloftes van die Here se woord leer ons van die voor­deel van hemelse en ewige verhef­fing, wat dit vir ‘n mens inhou, om die ko­ningskap van die Here Jesus Chris­tus te verkies, bo die beloftes van aardse eer en ryk­­dom. Die slagyster van aardse eer en rykdom het die ryk jongman, van wie Lukas ons vertel, gevang. Op sy vraag oor die ewige lewe het Jesus hom ‘n keuse ge­­gee: “’…gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.’ Toe hy dit hoor was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk” (Luk.18:22).

Paulus het anders gekies: “…om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee…sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom te wees…al wat ek wens is om Christus te ken…” (Fil.3:8-10). So ‘n oorwel­di­gende getuienis moet ons nie ontmoedig as ons na ons eie powere toewyding kyk nie, want Paulus bemoedig die Kolosense met ‘n belydenis: “Nie dat ek alles al be­reik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds syne gemaak het en ek strek my uit na wat voor is…om by die wenstreep te kom…(verse 12-14). Gelukkig is elkeen in wie die Hei­lige Gees hierdie gretigheid vir die hemelse ko­nink­ryk en die gemeenskap met God verwek het. Koes­ter dit. Laat die Heilige Gees dit deur die woord van God aanblaas.

Ons siel is te kosbaar om dit goedkoop uit te ver­­koop. Jesus het dit self vir ons gesê: “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” (Mat.16:26 – Ou Vert.). Judas het sy siel goedkoop uitverkoop – dertig silwerstukke. Ons weet ons koop nie ons saligheid nie, ons ontvang dit as ‘n geskenk van God omdat die Here Jesus vir ons die verlossingsprys betaal het. Jesus het die ewige lewe net so geredelik aan die moordenaar aan die kruis gegee, as wat Hy dit aan die ryk jongman sou gee as hy sy rykdom met die armes gedeel het en gekom het om Jesus te volg. Kom na Jesus toe vir redding: die geheim van die ewige lewe. Die probleem is net, soos met die ryk jongman, aardse dinge kan ons soos ‘n magneet terughou.

“Here, vandag soek ek my lewe in U.”

Do 26 Feb: Die Helende Middel

Lees 1 Petrus 5:5-7.

“Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (7).

Eerw.F.H.Pickering vertel van ’n man wat so deur angs en bekommernis oorweldig is, dat hy verlam is. Snags kon hy nie slaap nie. Op ’n dag vra ’n Christen-vriend of hy ooit oor sy probleme bid. Hy het in jare nie gebid nie, antwoord hy. Het hy ’n Bybel? Ja, iewers in sy huis moet daar ’n By­bel wees. Die vriend skryf ’n teks op ’n strokie papier. “Gaan lees dit en doen dan so,” sê hy vir die man. Moeg na siel en liggaam was hy gereed vir enige raad. Hy het sy Bybel gesoek en gekry, die stof afgeskud en die teksvers, Hebreërs 4:14-16, opgespoor: “Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpries­ter het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nié ge­sondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartig­heid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” Hy het by sy bed gaan kniel en eers sukkelend, maar later met vrymoedigheid, sy pro­bleme vir die Here vertel. Terwyl hy bid het hy aan die slaap geraak. Ure later het hy wakker ge­word. Verkwik in sy gees het hy geweet hy het siels­genesing gevind. Sy vriend het hom gehelp om Christus as sy verlosser te leer ken. Sy dokter was verstom oor die verandering wat in hom gekom het. “Ek vertel nou al my bekommernisse vir Jesus en laat dit in sy hande,” verduidelik hy aan die dokter. Die dokter antwoord met `n warm klank in sy stem: “As meer van my pasiënte dit wou doen, sal ek gou sonder werk sit.”

Dit was Hanna se geheim toe sy (1 Sam.1) met haar hartseer tempel toe gegaan het. “Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.” Haar verduideliking aan pries­ter Eli was: “’Nee, Meneer, ek is maar net ’n vrou wat diep terneergedruk is…Ek het my hart uitgestort voor die Here…dit is oor my groot leed dat ek so lank bly praat het…’ en sy was nie meer bedruk nie.” Die Here Jesus het vir ons die weg oopgemaak na ons hemelse Vader toe. God self het ons lief en ken ons sake. Ons kan met groot vrymoedigheid en verwag­ting al ons proble­me vir Hom vertel. Die Heilige Gees help ons om te bid: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met ver­sugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is…”(Rom.8:26).

“Here, vandag kom ek met al my probleme na U toe.”

Wo 25 Feb: Vir Sy Behoud

Lees Hebreërs 12: 4 – 12

“Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat julle gehoorsaam is aan die wil van God” (11).

In sy boek, A View from the Zoo, vertel Gary Richmond hoe ’n kameelperdvulletjie hierdie wê­reld binnekom. Eers verskyn die voorpote en dan die kop. Dan kom die nek redelik vinnig en die res van die lyf val af grond toe. Die ka­meel­perdkoei se agterstewe is hoog van die grond af! Die kalfie beland op sy rug. Feitlik dadelik rol hy om en lê met die bene onder hom ingetrek. In hier­die posi­sie kyk hy na die wêreld om hom en skud die laaste geboortevog uit sy oë en ore. Die kameel­perdkoei laat haar kop sak tot sy hoogte en bekyk hom met groot oë. Sy gaan staan oor hom. Dan voer sy as kameelperdma ’n verstommende han­de­­ling uit. Gary Richmond beskryf dit so: “She swings her long, pendulous leg outward and kicks her baby, so that it is sent sprawling head over heels. When he does’nt get up, the violent process is repeated over and over again….untill finally, the calf stands for the first time on its wobbly legs.” Dan doen die ma weer ’n eien­aar­di­ge ding. Sy skop hom weer van sy voete af. Hoe­kom. Hy moet ont­hou hoe hy op gekom het. In sy nuwe wêreld moet die kameelperdbaba leer om vin­nig op die been te kom, sodat hy by die trop kan bly as hulle vir ’n roofdief moet vlug en die agterblykalfie dus nie sommer gou-gou deur ’n leeu, luiperd of wildehond gevang kan word nie. Dit is die kalfie se behoud om altyd tus­sen die trop te bly en saam met die trop te beweeg.

Gary Richmond maak ’n belangrike geestelike toe­passing: There have been many times when it seem­ed that I had just stood up after a trial, only to be knocked down again by the next. It was God helping me to remember how it was that I got up last time, urging me always to walk with Him, in his shadow, under his care – the only safe place.”

“Here, vandag laat ek my deur U leer om by U te bly.”

Di 24 Feb: 'n Geldige Lewensposisie

Lees Johannes 15: 1 – 8

“Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerstok bly nie; en so ook julle as julle in My nie bly nie” (4)

‘n Bejaarde man het naby die Here probeer lewe. Hy was bekend vir sy toegewyde lewe. Op ‘n wintersdag het ‘n uitgesproke ongelowige, wat in die­selfde dorp gewoon het, hom besoek. Na ‘n rukkie se gesels, begin hulle oor godsdiens ge­sels. Die Christen haal Galate 2:20 aan: “…ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.” “Sien,” sê die ongelowige man, “ek ver­staan jou nie. Net-nou het jy een van jou tekse aan­gehaal dat jy in Christus lewe. Nou sê jy weer dat Christus kastig in jou lewe. Hoe werk dit?” Die Christen staan sonder ‘n woord op en gaan na die kaggel toe waar ‘n lekker vuur brand. Hy neem sy vuuryster. Woel dit in die kole en laat dit daar in die gloeiende kole lê. “Ek gaan die yster in die kole los totdat dit rooiwarm is.” Na ‘n rukkie begin die yster se punt gloei. Die Christen wys na die gloeiende vuuryster. “Jy sien,” sê hy, “die vuur is nou in die yster. Vat daar­aan.” Hy hou die gloeiende punt met ‘n glimlag na die ander man toe uit. Dié trek sy hande terug en gee dadelik pad. “En, die yster was in die vuur, en nou is die vuur in die yster. So is ek in Christus en Hy is in my en gee in my die geestelike krag wat ek nodig het om vir Hom te lewe.” Nadat die Heilige Gees die apostels vervul het, het, lees ons in die Woord, het die Joodse raadslede “… hul­le ook herken as volgelinge van Jesus” (Hand.4:13). Deur ons toewyding en geloof is ons in Christus en deur sy Gees is Hy in ons. Dit is ‘n geseënde en vrugbare lewe om uit Christus se krag, deur die Heilige Gees in ons, vir God te lewe en te werk.

“Here, vandag soek ek u inwoning in my.

Ma 23 Feb: Aan my Gedink

Lees Lukas 23: 33 – 43

“Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster…die ander een…sê: “’Jesus dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord…: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (39-43).

Toe George Nixon Biggs goewerneur van Mas­sa­chusetts was, het drie van sy vriende die Hei­lige Land besoek, vertel Roy B. Zuck in The Spea­ker’s Quote Book. Hulle het Golgota uit­geklim. Bo ge­kom het hulle vir hulle elkeen ’n ligte wandel­stok van ’n boom afgesny. Tuisgekom, gee hulle dit vir die goewerneur, met die woor­de: “Ons wil hê jy moet weet ons het aan jou ge­dink toe ons so op Golgota staan.” Hy het hulle geskenk met die volgende woorde ontvang: “Baie dankie, Menere, ek waardeer dat julle dáár aan my gedink het.” Toe vervolg hy gevoelvol, met ’n glimlag, “Maar ek is steeds meer dankbaar vir ’n Ander Een wat op dáárdie heuwel óók aan my gedink het.”

U was dáár, óók in Jesus se hart en gedagte. Ek ook. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16 Ou. Vert.). Die een moordenaar sê: “Dink aan my, Jesus..” Jesus bevestig dit vir hom dat Hy hom in sy gedagte het: “Ek verseker jou jy sal vandag saam met My in die paradys wees.” Die poort staan vir die ander moor­denaar ook oop wyd oop, maar hy gaan verby. Het ú al by daardie poort van liefde en genade ingegaan? Of stap ú nog verby?

“Here, vandag wéét ek U dink ook aan my en ek het by die poort van u redding ingegaan.”

Sa 21 Feb: Sending Voltooi!!

Lees Joh 17:4

"Deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen."

As Satan jou nie kan koop met dit wat onwettig is nie, sal hy jou probeer begrawe met dit wat wel wettig is. In albei gevalle is sy oogmerk om 'n wig tussen jou en God in te dryf. Hoewel Christus maar 33 jaar oud was toe Hy aan sy einde gekom het van sy aardse bediening, kon Hy sê: "Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen." Jesus kon meer betrokke geraak het by die 12 dissipels of hy kon die aanbevelinge van 'n werksgroep aanvaar het en 24 dissipels aangestel het om sy bestek te verdubbel. Hy kon na Rome gereis het, die setel van mag in daardie tye. Of Hy kon na Atene toe gegaan het waar Hy groot denkers kon aanraak en so sy invloed en reputasie versprei het. Maar Hy het net 12 dissipels gekies. Hy het hulle stadig en innig onderrig, en het noor ver gereis van sy geboorteplek af nie. Sommige mense mag sê dat as jy 'n wêreld revolusie wil hê dan moet jy jou boodskap na soveel plekke as moontlik neem. Maar Jesus het doelbewus sy reisplan beperk. Hy het dit eenvoudig gehou. Aan die einde, net voor Hy sy laaste asem uitgeblaas het, het Hy gesê, "Dit is volbring." Jesus was reg om te sterf - daar was niks vir Hom oor om te doen nie. Sy werk was afgehandel, van die opleiding van die dissipels tot ons verlossing. Jy sal geen teken van hartseer of berusting in sy laaste woorde hoor nie. Sending voltooi!

Hoe lank gaan jy jouself nog belowe dat jy nader gaan beweeg aan God? Dat jy Sy Koninkryk eerste sal plaas? As jy ooit beplan om dit te doen, doen dit nou!

Vry 20 Feb: Die Erkenning

Lees Handelinge 7:54-60

“Kyk,” het Stefanus gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan” (56).

Die Victoriakruis vir dapperheid is in 1857 die eerste keer deur koningin Victoria self in Hyde-park, Londen, toegeken. Die King’s Busi­ness haal ’n insident in dié geskied­kun­dige gebeurtenis aan. Een van die leër se veterane, gruwelik in ’n geveg vermink, het na die koningin toe opgestap, of lie­­wer aange­sukkel, om sy medalje te ontvang. Die ko­nin­gin kyk na hom, gooi die medalje neer, draai haar rug op hom, bedek haar gesig met haar hande en gaan bitterlik aan die huil. Die verminkte man bly heel tyd doodstil staan. Uiteindelik kom die koningin tot bedaring, vee haar oë met haar sakdoek droog en speld die medalje teen die man se bors vas. Sy sê vir hom ’n paar woorde. Hy antwoord met ’n stralende gesig: “God bless Your Majesty; we’d bear it all again for Queen and country.” Hieroor maak King’s Bu­siness die op­merking: “It was not the medal itself that brought joy to the soldier’s heart, but the fact that his service for the Empire was recognized at the hand of his sovereign.”

Die Bybel beloof beloning, bo die gawe van die ewige lewe, aan almal wat in die Here se koninkryk gewerk het: “…elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word …as iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word…” (1 Kor.3:13-15). Petrus skryf die beloning sal ’n kroon van heerlikheid wees: “…wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as on­ver­ganklike kroon ontvang” (1 Pet.5:2,4). Die be­lo­ning gaan wonderlik wees, maar dat ons die Here se erkenning sal ontvang, maak dit heer­lik. Stefanus het by sy steniging uitgeroep: “…ek sien…die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan”. Watter prys is vandag te hoog vir ons as ons dink aan die wonder om uit Jesus se deurboorde hand ’n kroon te ontvang!

“Here, vandag wil ek U voluit vir my kroon dien.”

Do 19 Feb: Maklike Misgissings

Lees Amos 3: 1 – 8 OU VERTALING

“Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (3)

John Ross vertel van die vrou wat van ’n vlieg­tuig afstap nadat dit geland het. Met haar dra­sak oor haar arm gehaak, koop sy by die toonbank van die lughawekafeteria, ’n pakkie lekker koe­kies en ’n koerant. Sy gaan by ’n eenkant tafel sit. Moeg na die lang vlug, wil sy bietjie ontspan voor sy die stadsgewoel aandurf. Da­delik boei die hoof­be­rig in die koerant haar en sy steur haar nie aan die man wat oorkant haar by haar tafel kom sit nie. ’n Geritsel van papier oor­kant haar trek haar aandag. Sy loer oor die koe­rant, en sowaar, dit is die man wat haar pakkie koekies oopmaak en dood­luiters vir hom een neem en dit begin eet. Sy ver­erg haar onmiddellik. Sonder om na die man te kyk strek sy haar hand uit en neem vir haar ook ’n koekie. Na so omtrent twee minute ritsel die pa­pier weer en dit is hy wat vir hom nog ’n koekie neem. Dadelik neem sy vir haar ook weer ’n koe­kie. Sy kyk nog stip in die koe­rant, maar sy lees nie meer nie. Sy is te kwaad. So sit sy en die man die pak­kie koekies en opeet. Sy sien oor die koe­rant dat hy die laaste koe­kie neem, dit in die helfte breek, ’n helfte in sy mond steek en die ander helfte met ’n effense glimlag na haar toe oorstoot. Sy gryp be­hoorlik die halwe koe­kie en stop dit in haar mond. Hy from­mel die pak­kie se omhulsel op, staan op, knik vir haar, stap by ’n rom­mel­houer verby, gooi die papier daar in en verdwyn tus­sen die mense. Sy is mag­te­loos kwaad. Sy tuur hom net a­gterna. Sy staan op, stamp haar stoel ag­ter­uit, rits haar drasak met ’n pluk oop om haar koerant weg te sit – en haar oë peul behoorlik uit. Háár pakkie koekies lê nog onoopgemaak in haar dra­sak! Sy storm tussen die mense in om die man te soek, om verkoning te vra vir háár onbeskofd­heid, maar hy het tussen die mense ver­dwyn.

Sy het haar misgis. Baie van ons het al beproef hoe ’n rusie ont­ke­ten word, deur toevallige insi­den­te, wat verkeerd vertolk word. Die geheim is die atmos­feer in ’n mens se eie hart: is daar vrede in my hart? Wíl ek graag ’n goeie verhouding met ander hê? Is ek gewil­lig om maar bietjie te na gekom te word? ’n Ongeduldige, selfsugtige, suspisieuse ge­sind­heid in die hart skep ’n teelaarde vir ’n misgissing. En, dalk is ék, soos die vrou, die eintlike oorsaak van ’n geskil!

As ons met God vrede het; as Jesus koning in die hart is; as die Heilige Gees beheer het oor ons gesind­he­de, kan ons met geduld ander se dade en woorde ten goede en reg beoordeel. “Sorg dat daar nie ver­bit­te­ring soos ’n wortel uitspruit (en) moeilikheid ver­oor­saak nie…(Heb.12:15). Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het …die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee” (Kol.3:12-15).

“Here, vandag wil ek versigtig in my beoordelinge wees.”

Wo 18 Feb: Onkunde

Lees Handeling 8: 26 – 40

“’…verstaan u wat u lees?’ Die Etiopiër antwoord: ‘Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?’ Filippus het …die evangelie oor Jesus aan hom verkondig” (31,35).

Aan die einde van die burgeroorlog tussen die state van Amerika, ry ‘n afdeling van die Federale mag se sol­date langs ‘n eensame pad na Richmond toe, vertel Roy B. Zuck. ‘n Uitgeteerde man in toiïngs kom tussen die bosse uit. Met ‘n hees stem smeek hy hulle om vir hom kos en water te gee. Hy vertel hy leef al weke lank net van bessies en plantwortels wat hy in die veld kry. Hulle vra hoekom hy nie Richmond toe gaan en daar vir hom kos kry nie. Aarselend vertel hy hy is ‘n droster uit die Konfederale leër. Hy kan nie waag om gesien te word en aan die rebelerende Konfederale mag oorge­gee te word nie. Hy kan opgesluit of selfs tereggestel word omdat hy uit die leër gedros het. Hulle staar hom verwonderd aan. “Het jy dan nie die nuus gehoor nie?” vra hulle. “Watse nuus?” vra hy. Hulle vertel hom die Kon­federasie het ontbind. Meer as ‘n week tevore het genl. Lee, bevelvoerder van die Konfederale leër van die Suidelike state, wat nie gehoor wou gee aan die Federale owerheid se eis om al die slawe vry te laat nie, oorge­gee aan genl. Grant, bevelvoerder van die Federale leër. Die man roep uit: “Dan is daar nou vrede! En ek vergaan van honger tussen die bosse om­dat ek dit nie gehoor het nie.”

Dit is ‘n groot persoonlike verlies om onkundig te wees oor die vrede wat die Here Jesus Christus vir ons aan die kruis bewerk het. Hy het vrede gemaak tussen ons en God. “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke ge­na­de­ van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het” (Ef.1:7).

“Here, vandag hoor en glo ek u vergifnis van my sonde.”

Di 17 Feb: Klaar Ten Volle Betaal

Lees Efesiërs 1: 3 – 14

“Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe…(7).

Tsaar Nicolas II van Rusland het die gewoonte ge­had om eenvoudig geklee, die militêre buiteposte van sy ryk te besoek, om self, as gewone man, te sien hoe dit daar gaan, so vertel Roy B. Zuck in sy boek The Spea­­kers Quote Book. By een van hierdie buiteposte was ’n jongman, wie se pa hom in die leër laat opneem het om ’n bietjie dissipline in hom ingedril te kry. “How­ever, army life served as fuel that fed the fires of the wild life he lived”, skryf Roy Zuck. Sy grootste swakheid was dobbel. Onge­lukkig was hy ook die boekhouer van sy buitepos se geldsake. Namate sy dobbelskuld ge­groei het, was dit vir hom nodig om van die buitepos se geld te neem om sy groeiende dobbelskuld te betaal. Die verwagte groot wengeluk het nooit gekom nie en hy het voortgegaan om sy skuld uit die buitepos se geld­trommel te betaal. Een aand het hy besluit om te kyk hoeveel hy noual aan die buitepos­re­ke­ning skuld. Toe hy die geweldige bedrag sien, be­sluit hy om sy eie le­we te neem. Hy het sy pistool langs hom op die tafel neer­gelê. Oor die lêerbladsy, met sy berekening op, het hy ge­skryf: “So ’n groot skuld. Wie kan dit betaal?” Hy het sy kop, langs sy pistool, op die tafel laat rus en homself ge­reed­ge­maak om die skoot in sy kop te skiet. Die uit­putting van die situasie het hom egter ingehaal en ter­wyl hy so met sy kop op die tafel gestut sit, raak hy aan die slaap. Tsaar Nicolas, geklee soos ’n sersant, het juis daardie nag daardie buitepos besoek. Hy sien die lig brand in die boekhouer se kamer en gaan in om te sien wat aangaan. Hy sien die jong soldaat sit en slaap met sy kop op die tafel gestut, sy hand op die pistool langs hom. Hy lees wat op die bladsy geskryf staan. Hy begryp dadelik die situasie. ’n Rukkie later word die jongman wakker, sit regop, onthou waarmee hy besig is en lig die pistool op om homself die doodskoot te gee. Sy oë val op sy woorde wat op die blad op die lêer geskryf staan: “So ’n groot skuld. Wie kan dit be­taal?” Toe lees hy die ander woorde, onderaan sy eie woor­de: “Ten volle betaal, Tsaar Nicolas II”.

Dit is wat die evangelie van die Here Jesus Christus onderaan ons sondeskuld skryf: Ten volle betaal! Maar hoe weet ’n mens dit hét in jou lewe gebeur? ’n Man wat vrymoedig oor sy redding getuig het, is een­dag deur iemand gevra: “Wat maak jou so seker dat jy gered is?” Hy antwoord: “Want ek was dáár.” “By Jesus se kruisiging? Dis tog onmoontlik.” “Nee, man, toe ek my hart vir die Here gegee het. Ek weet ek het, be­wus van skuld en vrees vir die oor­deel, eendag tot stilstand gekom en net daar waar ek was, terwyl ek aan Jesus se kruisdood dink, bely ek is ’n verlore sondaar, maar ek glo Jesus het vir my gesterf. Ek het dit so by myself in ’n gebed uit­gespreek: ‘Here Jesus, réd my, asse­blief.’ En ek het aan sy belofte gedink: ‘Ek sal hom wat na my toe kom nooit uit­werp nie.’ En ek het aan Johannes 3 vers 16 gedink: ‘Só lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun ge­gee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’, ek het dit geglo en gesê: ‘Dan­kie, Here, U het my sonde vergewe en U het my gered.’ Van toe af glo ek dit en dit maak my bly en ek praat daar­­oor, en ek weet Christus is my Here en God is my Vader, en as ek doodgaan, gaan ek hemel toe.”

“Here, vandag neem ek U aan. Dankie dat U my gered het.”

Ma 16 Feb: God se Diep Medelye

Lees Lukas 15: 11 – 24

….toe die verlore Seun nog ver aankom, het sy pa hom… gesien en …innig jammer gekry. (11 en 20).

George W. Truett vertel hierdie ware verhaal oor dr. Buckner, die stigter en bestuurder van die Buckner Orphans Home in Dallas, Amerika.

Die huis van ’n behoeftige gesin in Suid-Texas het afgebrand. Net ‘n dog­tertjie, nege of tien jaar oud, het dit oorleef. Maar sy het le­lik ver­brand, veral haar gesig. Die bure wat die vuur help blus het, het haar na dr. Buck­ner se wees­huis toe te stuur. Dr. Buckner het Mary self op die stasie gaan ontmoet. Met rooi gehuilde oë het sy na dr. Buckner gekyk, vorentoe gekom en haar koppie teen hom gedruk en hartlik aan die huil gegaan. Na ’n rukkie kyk sy met haar ver­mink­te gesiggie op en sê snikkend: “Jy sal nou my pa en my ma moet wees.” Hy het sy hande op haar kop gesit en diep bewoë geant­woord: “Ek sal my bes doen, Mary.” In die wees­huis het sy deel van hon­derde ander kinders ge­word.

George Truett skryf dat hy dikwels in die wees­­huis ’n diens gaan hou het en dan ge­sien het met wat­ter liefde en blydskap die kinders vir dr. Buck­ner terug verwelkom as hy ’n rukkie lank weg was. Truett skryf: “The little tots come down the avenue and vie with one another as they swing around him, each wishing to kiss him first.” Een­dag sien hy hoe Mary met haar vuurge­skon­­de­­ ge­sig­gie saam met hulle kom, maar sy staan een­kant toe, terwyl die ander aandring om hom te soen. Hy kyk na Mary en vra: “Mary, hoe­kom kom groet jy my nie ook nie?” Dit was vir haar te veel. Sy begin hardop snik. Hy vra weer: ”Hoe­kom kom groet jy my nie?” Sy snik dit uit: “Pappa Buckner, ek kan nie vra jy moet my soen nie. Ek is so lelik. Na ek gebrand het, is ek so le­lik, ek kan nie jou kom soen nie. As jy my net lief het soos vir die ander en vir my sê jy is lief vir my, dan is dit nie nodig om my te soen nie.” Dr. Buckner het al die ander kinders weggedruk om by Mary te kom. Hy het haar opgetel, teen hom vasgedruk en die ver­mink­­te wangetjie oor en oor gesoen, terwyl hy herhaal­delik vir haar sê: “Mary, jy is mos vir my net so pragtig soos enigeen van die ander.”

Dit is wat God se Woord ook vir ons oor God se jammerte vir ’n sondeverminkte mens sê: “Kom tog, laat ons die saak met me­kaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skar­la­ken­rooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu” (Jes.1:8). “Toe het ek uitgeroep: ‘Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lip­pe is onrein…’ ‘Nou…is jou oor­tredinge vergewe, jou sonde versoen’” (Jes.6:5,6). “Een van die mis­da­di­gers wat daar gehang het, het Jesus ge­las­ter….Maar die ander een sê: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus ant­woord hom: ‘Ek verse­ker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk. 23:39-43). “As ons be­weer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons ons­self…maar as ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes…” (1 Joh.1: 9).

“Here, vandag vlug ek na U toe met my lelike sondes

Vry 13 Feb: Die Hoë Eis

Lees 2 Korintiërs 8:1-9

“Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (9)

In die vroeë dae van die ontdekking van goud, was aan­­boord van ‘n skip ‘n man, wat met har­de werk en deur ontberinge heen, ‘n groot voorraad goud versa­mel het. Hy was op pad huis toe met sy fortuin. ‘n Brand het op die skip uitgebreek en spoedig was dit duidelik dat die skip deur die vlamme verteer sou word voor hulle land be­reik. Die skip was nie ver van die land af nie en elkeen aan boord het eie maatreëls getref om hulself te red. Die man was jonk en sterk. Hy het sy krag geken. Hy het sy goud in bondels in ‘n doek geknoop en vol­gens die gewig, wat hy geweet het hy veilig land toe kon neem, eweredig om sy gespierde lyf gebind. Net voor­dat hy met sy kosbare las in die see kon spring, hardloop ‘n verskrikte klein dogtertjie na hom toe en gryp sy bene vas. “Kan oom swem?” gil sy vol angs. Hy het geweet hy moes kies tussen sy goud en hierdie on­be­kende kindjie. Hy sou nie die krag hê om haar én sy goud land toe te neem nie. “Ja, my kindjie,” roep hy feitlik dadelik uit. Hy knoop die bondels goud om sy lyf vinnig los en laat dit op die dek val. “Ek kan swem. Kom!” Hy gryp die kind en spring in die branders in. Sy klou styf om sy nek vas en hy swem met haar land toe.

Ek wens ek het die einde van hierdie storie geken. Al het sy en haar ouers hom ook hoe bedank en vereer, hulle sou nooit die prys kon verstaan wat hy moes betaal om haar te red nie.

So ‘n menslike verhaal bring die betekenis van Jesus se koms aarde toe en sy sterwe aan die kruis na ons hart toe. Jesus het sy hemelse rykdom en heerlikheid prysgegee. Só prys gegee, dat Hy vir die skrifgeleerde wat Hom wou volg gesê het: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie” (Mat.8:20). Om ons uit die sinkende wrak van die verlore mensdom te red, het Jesus ‘n duur prys gekos. Sy eie lewe.

“Here, vandag oordink ek die prys wat U vir my betaal het.”

Do 12 Feb: Gemaak en Gekoop

Lees 1 Petrus 1: 17 – 21

“…julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus… (19)

In sy boek, Rebuild Your Life, vertel Dale E. Gal­loway van ‘n seun wat vir hom ’n houtskippie ­­­bou. Met groot moeite en presiesheid, maak hy sy skip­pie net soos die prente in sy boek, dit vir hom wys. Hy neem sy skippie na ’n nabygeleë, groot dam om dit uit te toets. En, regtig, sy skippie seil. Die ligte wind waai in die seile in en sy skip­pie wip oor die rimpelings van die water, soos enige groot skip dit sou doen. Onverwags kom `n wind­vlaag wat die skippie meesleur. Die tou­tjie, waarmee hy sy skippie vashou, breek en die wind voer sy skippie saam. Hy ver­­loor dit uit die oog. Hart­seer gaan hy terug huis toe – sonder sy kosbare besitting.
Eendag loop die seun straataf by ’n speelgoed­win­kel verby. Hy kan sy oë nie glo nie. Sy skippie word in die venster uitgestal met ’n prys by. Hy stap sommer in. Vol blyd­skap sê hy ewe groots vir die winkelier. “Ek het my skip kom haal.” “Jou skip? Wil jy een koop?” “Nee,” sê die seun met ’n laggie. “Ek wil dit nie koop nie. Dis myne. Ek het hom gemaak,” en hy vertel hoe dit die dag wegge­raak het. “Dan weet ek nie,” sê die winkelier. “Ek het dit eendag by iemand wat verby­gekom het, ge­koop. Jy sal dit nou weer by my moet koop.” Teleur­ge­steld en naby trane loop die seun huis toe. Van toe af spaar hy elke sent wat hy kry. Uit­ein­delik het hy genoeg. Hy gaan terug winkel toe. “Ek het my skip kom haal,” sê hy en sit die geld op die toonbank neer. Die winkelier tel die geld, buig na die ven­ster toe en gee vir die seun sy skippie. Die seun gryp letterlik die skippie uit die man se hande en druk dit teen hom vas. Hy roep uit: “Jy is myne én myne. Ek het jou gemaak én ek het jou gekoop. Jy is dubbeld myne!”

Dít is God se besitreg op ons lewe. Hy het ons won­derlik gemaak en Hy het ons duur terug­gekoop.

“Here, vandag behoort ek heeltemal aan U!”

Woens 11 Feb: Die Krag van 'n Ligstraal

Lees Matteus 5: 13-16

“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (16)

Spencer Compton vertel hoe hy een aand in ’n skip, onderweg na Indië, in sy kajuit gesit het. Hy was erg seesiek. Skielik galm die geroep van die dek af: “Man oorboord!” Hy het opgespring. Wat kan hy doen? Hy is nie bevoeg om in die donker water na die man te gaan soek nie. Op die ingewing van die oomblik, haak hy sy lig van die dakhaak af en hou dit voor die luik van sy kajuit, sodat die lig buite toe kan skyn. Skaars ’n halfminuut later kom die blye krete: “Alles reg! Hy is gered!” Hy haak die lig terug op sy plek en gaan voort met die boek wat hy so naar-naar sit en lees. Die volgende og­gend word hy vertel, dit was sy lig wat die man se redding moontlik gemaak het. Net toe hy sy lamp voor die luik hou, skyn die lig reg op die man af en die matrose kon hom raaksien en uit die water haal.

Ons is nie almal in staat om groot dade te verrig om vir die Here nuttig te wees nie. Dit is die geringe daad, die geringe getuienis, op die regte oomblik, wat so baie kan regkry. Dit is nie ons krag wat ander red nie. Dit is God se krag wat ons klein bydrae gebruik om sy groot dinge mee uit te voer.

“Here, ek wil vandag beskikbaar wees vir U, om my te gebruik

Di 10 Feb: Die Hoogste Noot

Lees 2 Korintiërs 12:1-10

“…ek (is) bly oor swakhede, ontberings, beledigings… want as ek swak is dan is ek sterk” (10)

Omstreeks 1710 kom George Frederick Händel in Londen aan. Vir die volgende dertig jaar lewer hy sy grootse musiek en oorheers hy die musiek­wêreld. Hy word beroemd, maar dit gaan nie met hom goed nie. Hy is arrogant, geweldig energiek, do­mi­nerend, humeurig, goedhartig, maar opvlieënd. Hy het baie vyande en hulle werk saam om hom te vernietig. In 1737 kom die ineenstorting. Hy word ban­krot verklaar. Op 13 April kry hy ’n beroerte­aanval wat sy regterkant en regterarm verlam. Daar is min hoop vir sy herstel, maar hy kom tog weer op die been. Met oorgawe begin hy weer ope­ras kom­po­neer en dit gaan weer met hom goed. Toe sterf sy getroue beskermingsvorstin, konin­gin Caroline van Hanover, Duitsland. Händel was nou amper sestig jaar oud. Hy was sieklik, af­ge­mat, vol skuld, en teleurgesteld. Hy het van God en mens verlate gevoel. “Hoekom het God my laat leef?” het hy uitgeroep, “net om my weer deur my naaste te laat begrawe!”

Een aand keer hy na sy powere woonplek in Brook Street terug. Op sy tafel lê ’n groot pakket. Haas­tig skeur hy dit oop. Binne-in die pakket is ’n li­bretto (teks van ’n operastuk). Dit is Charles Jen­nens se “Gewyde Oratorium” (Bybelse dramateks). Händel steun. Hy wil nie graag ’n godsdienstige werk hê nie. Hy blaas sy kers dood en gaan lê om te slaap – maar hy bly wakker lê. Hy staan weer op, steek sy kers op en neem die manuskrip op. Woor­de op woorde – dit raak sy hart aan. “He was despised and rejected of men … I know that My Redeemer liveth … Rejoice …” Met bewende hande gaan hy by sy lessenaar sit. Hy wil oopbars van die musiek wat in sy gemoed opwel. Hy neem sy pen en begin skryf. Bladsy op bladsy musieknote vloei uit sy skrywende hand. Met bomenslike krag skryf die kom­ponis dae lank, feitlik sonder kos en slaap. Op die 24ste dag gooi hy sy pen neer, val neer op sy bed en slaap vir elf ure lank. Op sy tafel lê die voltooide komposisie van Die Messias. Op 13 April 1742, die vyfde jaar na sy be­roer­teaanval, speel hy dit in Dublin. Daarna bied hy die uit­voering jaarliks aan. Op 13 April 1759, 22 jaar na sy beroerteaanval, 75 jaar oud en blind, derigeer hy met moei­te Die Messias die laaste keer. By die woorde “the trumpet shall sound” steier hy vooroor en val dood neer op die grond.

Die “Gospel Witness” skryf só oor hierdie werk van Händel: “The Messiah in all its glory, eloquent in faith and glorious hope, lives and will live.” Na meer as twee en ’n half eeue is hierdie woorde steeds waar. Die Here het Händel gebruik om op ’n besondere manier ’n getuienis oor Christus en sy dood en opstanding voort te bring. A. Naismith vestig in sy boek Treasury of Notes, Quotes and Anecdotes ons aandag op ’n merkwaar­dige feit: “The highest note is in the lovely and lofty air, ‘I know that my Redeemer liveth’, and is reached on the word ‘risen’. The composer realised that this one word is the key to the Gospel and to God’s kingdom, and is pro­claimed to all the world in the Gospel …” Die sterk, briljante en gesonde Händel sou nie so ’n geïn­spi­­reerde werk tot eer van die Here kon lewer nie. In sy lewe was nie plek vir die gekruisigde Jesus nie. Die Here moes hom eers afbreek en in homself swak maak en hom met die vernederde, en daarna met die lewende en verheerlikte Christus in aanraking bring om hom te kon gebruik. Omdat Christus vir ons gebreek en ver­brysel is, is daar vir ons ook nuwe krag en bruik­baarheid in sy opstandingslewe.

“Here, ek wil vandag in swakheid en gebrokenheid na u voete toe kom en uit u opstandingslewe krag kry om vir U bruikbaar te wees”

Ma 9 Feb: Ons Gedagtes

Lees Filipense 2: 5 – 11

“Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (7).

In David McCullough se boek Truman, oor die lewe van die VSA-president Harry Truman, wat net na die Tweede Wêreldoorlog in 1945 president van die VSA geword het, vertel hy dat Truman se groot strewe was om in aanraking met die gewone burgers van die land te bly. So dikwels as wat hy kon het hy tussen die mense beweeg. Hy was lief om alleen te gaan stap en dan met mense te praat. McCullough skryf: “Those were in simpler days when the president could take a walk like everyone else.” So gebeur dit dat Truman een aand besluit, om na die Me­mo­rial Bridge oor die Potomac River te stap. Toe hy by die brug kom, raak hy nuuskierig oor die me­ga­nisme wat die middelgedeelte van die brug oplig en weer laat sak. Hy stap oor die brug en met trap­pies af na die meganiese deel toe. Daar kom hy onverwags af op die brugoppasser, wat uit sy blik­trom­mel­tjie, met sy aandete besig is. Die man lyk glad nie verras om die wêreld se be­kendste en mag­tigste man by hom te sien nie. Hy sluk die mondvol kos af, vee sy mond af, glimlag en merk op. “U weet, Meneer President, ek het juis nou net aan u gesit en dink.” Hieroor skryf McCullough: “It was a greeting Truman adored and never forgot.”

Die Koning, Jesus Christus, het sy troon ver­laat en as mens, tussen gewone mense be­weeg. In die vier evangelies verskyn die naam, Seun van die mens, uit Jesus se mond, 57 keer. Uit die Bybel, uit boe­ke, deur prediking, het ons die Persoon van Jesus leer ken. Watter plek het Hy in ons gedagtewêreld? Af en toe? Kort-kort? Hoe moet dit ons Here nie behaag as ons dik­wels aan Hom dink nie! Wie Hy is; hoe Hy op aarde ge­leef het, hoe Hy vir ons ge­sterf het; sy Koning­skap, waar Hy nou op sy troon in die hemel sit, en tog, hoe Hy deur sy Hei­lige Gees gedurig by ons is; sy liefde vir ons en die plek wat Hy in die Va­der se huis, vir ons, gaan reg­maak het, sodat ons een­dag vir ewig by Hom kan bly. Laat Jesus u ge­dagte vol maak. Ralph Waldo Emerson het eens gesê: A man is what he thinks about all day long. En Marcus Aurelius het gesê: Our life is what our thoughts make it.

“Here, vandag wil ek U in my gedagtewêreld vereer.”

Vry 6 Feb: 'n Bruikbare Lewe

Lees Psalm 1

“… die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit … oordink … is soos ‘n boom wat by wa­ter­stro­me geplant is … vrugte dra … hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak” (1,2,3,4).

William Gladstone, drie keer eerste mininster van Bri­tanje van 1868 – 1894, was ’n uitgesproke Chris­ten. John Morley, wat Gladstone se biografie geskryf het, vertel dat Gladstone soms vir ’n dag net verdwyn het – nie­mand het geweet waar hy is nie – dan was hy alleen om deur Bybelstudie en gebed by God raad te soek. Hy het eenkeer gesê: “If I am asked what is the remedy for the deeper sorrows of the human heart … I must point to something which in a well-known hymn is called ‘the Old, Old Story’, told in an old, old book and taught with an old, old teaching, which is the greatest and best gift ever given to mankind …’”. Eenkeer het hy ’n poli­tie­ke kri­sis beleef, skryf George Sweeting in sy boek Love is the Greatest. Gladstone het twee-uur die oggend in sy studeerkamer gesit, om sy toespraak vir die volgende dag se vergadering van die House of Commons voor te berei. Dit was vir hom noodsaaklik om ’n politieke oor­win­ning te behaal. ’n Vrou word na hom toe ingebring. Haar ge­brek­like seun was besig om te sterf en sy wou hê mnr. Gladstone moet hom kom moed inpraat. Son­der om te huiwer het Gladstone dadelik sy werk gestaak en saam met haar gegaan. Die grootste deel van die nag het hy by die seun gebly en die seun ge­help om in sy Verlosser, Christus, te glo. Dagbreek het hy die oë van die seun wat heengegaan het, toe­ge­druk en met vrede en vertroue in sy hart, sy toespraak gaan klaar­maak. Later die oggend sê hy vir ’n vriend, “Ek is vanoggend die gelukkigste man in die wêreld.” George Sweeting voltooi die insident met die volgende woorde: “A few hours later he made the greatest speech of his life in the House of Commons, carrying his cause to a triumphant success.”

“Here, vandag soek ek krag in u woord om vir U bruikbaar te wees.

Do 5 Feb: Altyd Betyds

Lees Jesaja 65: 21 – 25

“Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor” (24)

Sophia Ironside se man, John, het sy kort lewe grootliks aan evangelieverkondiging gewy: op straat, in parke, in sale, in teaters, net waar hy ge­leent­heid ge­kry het. Op 28-jarige ouderdom is hy aan maagkoors dood. Hy het Sophia en sy twee seuntjies sonder enige inkomste van pensioen of ’n belegging agter­ge­laat. So­phia het met naaldwerk die pot aan die kook ge­­hou. Die een seunjie, Harry, wat later die beroemde dr. Harry Ironside, pastor van die Moody Memorial Church en vrugbare skry­er sou word, het haar stip dopgehou. Eendag sou hulle kui­ermense vir ete kry. Sy het omtrent alles wat hulle ge­had het, saamgeskraap en ’n ete voor­berei. Na die be­soekers vertrek het, kry sy onder een van hulle leë borde ‘n $10-noot – in daardie dae baie geld. Met be­traande oë het sy dadelik, met ’n arm om elke seuntjie, God daarvoor gedank.

Toe kom die dag dat die koskas regtig heel­te­maal leeg was. Sy roep haar twee kinders om by ’n leë tafel ontbyt te kom eet. Hulle het net water om te drink. Weer slaan sy haar arms om die twee: “My seuns, ons gaan dankie sê vir die wa­ter.” Hulle maak oë toe en sy bid: “Vader, U beloof in u Woord (sy haal Je­sa­ja 33:16 aan): “’So ’n mens se kos sal hy kry en sy water sal nie opraak nie’. Ons het die wa­ter en ons dank U. Maar nou vertrou ons U vir ons kos.” Net toe word aan die deur geklop. ’n Man staan voor die deur. Hy sê vir haar: “Ek voel eintlik baie skaam. Ons skuld jou al vir maande lank geld vir ’n rok wat jy vir my vrou gemaak het, maar ons het regtig nie geld gehad om te betaal nie. Ons is nou besig met die aartap­pel­oes. Sal jy asseblief solank ’n sakkie of twee aar­tap­pels neem, totdat ons jou kan betaal?” “Verse­ker!” roep Sophia uit. “Baie dankie.” Binne minute begin die vars aar­tap­pels in die braaipan sis en die seuns ge­niet `n beantwoorde gebed se kos vir ontbyt.

As ons verhouding met die Here reg is, on­der­vind ons hierdie betydse hulp in ’n verleë si­tu­asie. In een van Spurgeon se boeke staan:

Never say: from whence will God relieve my care,
For omnipotence has his servants everywhere.
His methods are sublime,
his heart profoundly kind;
God never is before his time, And never is behind.

Woens 4 Feb: Geloofsgroei

Lees Hebreërs 5:11-6:3

“Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap (6:1)

Wanneer geloof in die siel begin, is dit klein soos ’n mosterdsaadjie, waarvan Christus gesê het dat dit die kleinste van alle soorte saad is. Maar die Heilige Gees be­dou dit met sy genade en dit ontkiem en groei en word soos ’n groot boom. Só groei ons geestelike lewe:

In die begin kan geloof net na Jesus KYK. Selfs dan is daar so baie wolke van twyfel en dofheid van oë, dat ons die Heilige Gees nodig het om sy lig op die kruis te skyn, voordat ons dit kan sien. Dan kry geloof krag om na Jesus te KOM.

Na ’n mens na Jesus gekom het, vorder geloof ’n bietjie verder en KLEM aan Christus vas. Geloof begin Christus aansien in sy voortreflikheid en aanvaar Hom en neem Hom aan en beskou Hom as ’n ware Verlosser en is oortuig van sy volkome vermoë om te red.

Nou gaan geloof nog verder en dit LEUN op Christus. Die laste van sorge, droefheid en kwelling word op sy geseënde skouers gelê.

Geloof kan nou nederig, maar vasbeslote, alles wat Christus is en alles wat Hy bewerk het, TOEËIEN.

En dan eindelik, terwyl dit slegs vertrou in Christus en sy verlossingswerk, styg geloof op tot ’n volle SEKERHEID. Dit is ’n geseënde toestand van die geloofslewe.

“Deur Christus het julle … die evangelie van julle verlossing gehoor en tot geloof gekom … In Christus het die Heilige Gees … julle as die eiendom van God beseël” (Ef.1:13). “Laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid …Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb.10:22). “… verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei …”(1Pet.2:2 Ou Vertaling).

“Here, vandag verlang ek na die werking van die Heilige Gees in my hart om my te laat groei tot die volle sekerheid van geloof.”

Di 3 Feb: Die Vraag

Lees Matteus 16:13-20

“Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? …maar julle…wie, sê julle, is Ek?” (14)

’n Bekende geneesheer en mediese navorser, dr. Howard Kelly, het teen sy baadjiekraag ’n knoop gedra wat almal kon raaksien. Op die knoop was ’n vraagteken. Hy het honderde van hierdie vraag­teken­knope versprei. Dit was ’n wegspring­lek vir ’n geselsie. Byna sonder uitsondering het vreem­­­de­linge, met wie hy in aanraking gekom het, gevra wat die vraagteken beteken. Dan, vertel Chris­tian Herald, het dr. Kelly gevra: “Wat is die heel belangrikste saak in die wêreld?” Meeste men­se het geweet hulle praat met ’n dokter en ge­ant­­woord: “Gesondheid.” ’n Ander gereelde ant­woord was: “Vordering van die mediese weten­skap.” Party het met ’n veelseggende glimlaggie, aangesien dit tot ’n dokter gerig was, gesê: “Geld.” Dr. Kelly het dan sy saak, wat naaste aan sy hart lê, gestel: “Ek dink die belangrikste vraag vir die mense van ons wê­reld is: Wat dink julle van Christus?” Hy het dan voort­gegaan om ’n paar woorde vir sy Here, Jesus Chris­tus, die wêreld se grootste geneesheer, te praat.” Te midde van sy bedrywigheid as praktise­rende ge­nees­heer en wetenskaplike navors­er, was hy nooit te besig om vir Christus te getuig nie.

’n Saak naby aan ’n mens se hart vind ’n manier om uit te kom. Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. ’n Jongman, Leonard Messenger, het sy van, Messenger, gebruik om ’n geselsie oor Christus aan te knoop. As hy homself bekendgestel het aan iemand het hy bygevoeg: “And a messenger for the King of heaven.” Vroeg in sy twintigerjare is hy in die groot treinongeluk, jare gelede, by Soutrivierstasie dood. In sy kort leeftyd het hy by baie mense se harte uitgekom met die evangeliebood­kap. Hou die evangelie naby en warm in die hart, dan kom die lippe gou agterna om van Hom te getuig. “Moe­nie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n ant­woord te gee aan elkeen wat van julle ’n verdui­de­liking eis oor die hoop wat in julle lewe…met beskei­denheid en met eerbied vir God”(1 Pet.3:14-16).

Here, vandag wil ek met u krag iemand help om by U uit te kom

Ma 2 Feb: Gebreke

Lees Romeine 15: 1 – 7 (Die Boodskap-vertaling)

“Dié van ons wie se geloof sterk is, het ’n plig teenoor ander Christene wie se geloof nog nie so sterk is nie Ons moet hulle aanvaar en hulle bystaan. Geloof gaan tog nie net oor onsself nie. Ons kan nie net daardie dinge doen wat onsself gelukkig maak sonder om te vra hoe ander gelowiges daaroor voel nie” (1,2).

Eenjaar, met die gemeente se jaarlikse Kin­der­by­belskool, vertel Robert Morgan in sy Sto­ries, Illustrations and Quotes, is daar een van die og­gende, net voor die klas sou verdaag, ’n seun inge­bring wat net een arm het. Die leraars­vrou, wat die klas lei, skrik vir die oomblik, want sy is bang een van die kinders maak ’n opmer­king oor die seun se gebrek. Sy besluit om die klas af te sluit en dan met die seun te gesels en te hoor wat met hom gebeur het, sodat sy dit met die volgende dag se klas vir die ander kinders kan vertel. “Goed kinders,” sê sy, uit gewoonte, “ons bou nou ons kerk. Hier is die toring en hier is die deure wat oop staan.” Hulle gewoonte was om by die klas se af­slui­ting, elkeen, hulle twee hande se vingers styf te maak en dan die vingerpunte teen mekaar te druk en so die kerk se skuins dak te vorm. Die mid­del­vingers maak die toring, die twee duime teen mekaar is die deure. Hulle vou die duime binne toe om die oop deure van die kerk te demonstreer. Sy druk haar twee hande se vinger­punte teen me­kaar. Op dáárdie oomblik besef sy, sy stel nou die nuwe seun, met net die een arm, juis in die verleentheid wat sy wou vermy. Maar dit is nou te laat om die situasie te red. Sy het egter verniet geskrik. Een van die dogters, wat langs die seun, aan sy afarmkant sit, sit haar reg­ter­arm om sy lyf, hou haar linker, styfgemaakte hand op na hom toe en sê: “Kom, ons twee maak saam die kerk.” Hy begryp dit en lig sy gesonde regterhand op, maak sy vingers styf en druk die punte teen haar linkerhand se vingerpunte en so vorm hulle toe saam die kerk. En dít, het die vrou later vertel, was vir haar ’n demonstrasie van ware kerkbou. Die sterke, wat instaan vir die swakke.

“Here, vandag wil ek oplet waar ek iemand kan help.”